Meimaand en die Boeremagsaak

Deel op

Ná 'n reses van sewe weke het die Boeremagsaak op 11 Augustus 2009 in die Hooggeregshof, te Vermeulenstraat, Pretoria, hervat. Toevallig is dié datum die herdenking van die dag waarop die hofsaak oorspronklik sou begin het vir die eerste drie beskuldigdes – Mike du Toit, André du Toit en Rooikoos du Plessis – in die jaar 2002.  Dit het egter nie gebeur nie omrede daar nog agt mans die voorafgaande paar dae gearresteer is en nog arrestasies sou volg.

Deel op

Die saak sou eers op die 19de Mei 2003 begin, in die Paleis van Justisie op Kerkplein. Die eerste drie van die beskuldigdes was op daardie stadium reeds dertien maande in aanhouding. Die res – tussen nege en vier maande. Al die beskuldigdes staan nog steeds tereg op 42 klagte van onder meer hoogverraad, terrorisme, sabotasie, moord, poging tot moord en die onwettige besit van wapens en ammunisie.

'n Gestoei met die Regshulpraad veroorsaak egter dat die saak eintlik eers in Junie daardie jaar begin. Ses van die beskuldigdes pleit onskuldig op al die aanklagte. Dertien ander meen dat die staat geen jurisdiksie oor hulle het nie, aangesien hulle die huidige regering as onwettig beskou en hulle pleit vir eers nie. Twee ander, Dirk Hanekom en  Fritz Naude, sou eers wag tot Augustus voordat hulle sou pleit, omdat hulle advokaat op daardie stadium nog nie opdrag van die Regshulpraad ontvang het nie.

Tom Vorster weier om te pleit, omdat sy grondwetlike regte "grof geskend" is nadat tronkbewaarders beslag gelê het op geprivilegeerde dokumente van hom waarin hy die basis van sy verweer uiteengesit het. Regter Jordaan teken 'n pleit van onskuldig vir hom aan.

 Die vorige dag(18 Mei 2003) is Dawie Oosthuizen, een van die 23 beskuldigdes, tot 12 jaar gevangenisstraf gevonnis. Vier jaar van sy vonnis word opgeskort vir vyf jaar, nadat hy 'n pleitooreenkoms met die staat aangegaan het.  Hy is egter op 20 Desember 2008 op parool vrygelaat, nadat hy vir die staat getuig het.

Gedurende die eerste jaar van die saak word die aansoek oor die jurisdiksie van die staat gebring. Daar is ook 'n vooraansoek waarin die eerste drie beskuldigdes vra dat hulle saak van die res geskei moet word. Ook maak hulle drie beswaar dat hulle nie 'n regverdige verhoor te wagte kan wees nie, omrede die ondersoekspan op hulle verweer beslag gelê het tydens 'n visentering gedurende Oktober die vorige jaar, in die Lokaal-gevangenis, Pretoria.

Die eerste getuie vir die staat, JC Smit, 'n polisieinformant, handel sy getuienis gedurende die eerste jaar af.

Op 4 Mei 2004 begin die tweede getuie, Louwrens du Plessis, vir die staat getuig. Hy sou die eerste een wees wat saam met die ander toegesluit was, wat vir die staat as 204-getuie sou getuig.                

Op die 14de  hou 'n swart werklose man 'n eenmanbetoging voor die hof, vir die vrylating van die 22 beskuldigdes, met 'n plakkaat: "Ek het die wit man in my land nodig."

Gedurende die maand word 'n video van Siener van Rensburg die eerste keer in die hof vertoon.

Op die saak se eerste verjaarsdag, die 19de, spreek regter Eben Jordaan die hoop uit "dat daar nié nog baie meer gaan wees nie."

Teen die saak se tweede verjaarsdag, die 19de van die volgende jaar, 2005, het slegs agt van die staat se getuies getuig en kos die saak reeds R3-miljoen.

Op 3 Mei 2006 ontsnap Herman van Rooyen en Rudi Gouws uit die Hooggeregshof. Die saak staan eers af vir 'n grootskaalse soektog na die twee. Teen die 16de  gelas die regter dat die saak in hul afwesigheid moet voortgaan. Hulle is 8 maande op vrye voet voordat hulle weer in hegtenis geneem word.

Die dag wat die saak sy derde verjaarsdag vier, op 19 Mei 2006, het 64 getuies vir die staat getuig.

Op die 16de  Mei van die jaar 2007 sterf Herman Scheepers, beskuldigde nommer 5 op 52-jarige ouderdom aan 'n breinvirus. Hy is op die 19de, wat ook die vierde  verjaardag van die saak was, te Piet Retief begrawe.

Snr. superintendent Louis Pretorius, wat die eerste staatsgetuie se hanteerder was, is op daardie tydstip die staat se 138ste getuie in die bank. Kort daarna staan die onkoste van die Regshulpraad op nagenoeg R11-miljoen en die oorkonde steek 28 000 blaaie verby.

Op 19 Mei 2008 is beskuldigde nr. 3, Rooikoos du Plessis in die bank. Tydens sy getuienis het die staat geëis dat sy vorige regsverteenwoordiger, me. Louisa van der Walt, moet onttrek, as gevolg van botsende belange met haar ander kliënt, André du Toit. Die regter gelas egter dat 'n ander regsverteenwoordiger namens haar André se kruisondervraging mag doen, en dus hoef sy nie te onttrek nie. Advokaat Piet Pistorius staan vir haar in. Hy is dan ook aan die woord op die saak se vyfde verjaarsdag en noem dit aan die regter, waarop dié 'n verbaasde "o" laat hoor het.

Die 19de Mei deser, is beskuldigde nr. 12, Dirk Hanekom, in die bank.

Die Regshulpraad het reeds meer as R20-miljoen aan die saak bestee. Die oorkonde is reeds meer as 38 000 bladsye lank.  In die hof word gespot dat daar maar 'n partytjie gehou sal word op die saak se tiende verjaarsdag.

Aan die begin van die maand het Tom Vorster, beskuldigde nr. 11, geweier om verder te getuig, omdat sy regte voortdurend deur die saak geskend word. Hy voltooi egter sy getuienis, met voortdurende woordskermutselings tussen hom en die staatsadvokaat, Fick (SC).

Op die 31ste Mei erken beskuldigde 12, eers onder kruisondervraging, dat hy onder die skuilnaam Jan Brand 'n proklamasie van die "oorlogskabinet van die Suid-Afrikaanse Boererepubliek" onderteken het. Ook dat hy as militêre bevelvoerder sou optree vir die Boeremag wat beoog het om op 'n politieke en militêre vlak oorlog teen die regering te voer. Sy bekentenis laat 'n unieke situasie in die saak ontstaan. Die staat eis dat sy advokaat moet onttrek, weens 'n botsing van belange tussen hom en sy advokaat se tweede kliënt. 'n Etiese komitee word genader vir advies oor die aangeleentheid. Daar word besluit dat die advokaat, Antonie Viviers, ter verdediging van beskuldigde 12, Dirk Hanekom, sal aanbly.  Sy ander kliënt, mnr. Fritz Naudé, wat reeds sy getuienis afgesluit het, se betoog sal later deur mnr. Paul Kruger, regsverteenwoordiger van vyf ander beskuldigdes, waargeneem word.

En so raak Meimaand(aan die begin van die winter) en nie Augustus nie (aan die einde van die winter) –  die herdenkingsmaand in die Boeremagsaak…

детский плед купитьОлександр Васильович Фільчаков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.