Hierdie patent het te make met die programmeringstaal XML wat dit moontlik maak om tekslêers oor verskillende platforms te verander. Microsoft se Word-program maak grootliks gebruik van die taal en speel ook 'n kernrol wat Microsoft se wêreldwye verkope betref.
Die regter het ook 'n interdik toegestaan wat Microsoft verbied om die programmatuur te verkoop, as te koop aan te bied of in Amerika in te voer, asook enige weergawe wat lêers met die volgende uitbreidings kan oopmaak en verander: .xml, .docx of .docm.
Die patent van i4i is in 1998 toegestaan en is vir die bewerking van die argitektuur en die inhoud van dokumente apart van mekaar. Die programmeringstaal XML (Extensible Mark-up Language) laat gebruikers dan toe om teksdokumente te verander. Dit word ook in die oopbronprogram OpenOffice gebruik.
Vroeër vanjaar is Microsoft beveel om $200 miljoen te betaal vir die skending en met die jongste bevel het die hof verder gegaan en ook 'n verdere $40 miljoen daarby gevoeg aangesien Microsoft se skending as 'n opsetlike daad gesien word. Die hof het ook meer as $40 miljoen aan rente op die oorspronklike bedrag toegestaan.
Microsoft gaan teen die bevel appelleer en hul woordvoerder Kevin Kutz het sy teleurstelling met die hofbevel uitgespreek. Hy reken die patent van i4i is ongeldig en dat Microsoft geensins die patent geskend het nie.