FIFA-jakkalse verniel SA se wingerd

Deel op
ImageAs iemand dink dat die R188 730-vermorsing van belastingbetalersgeld buitensporig was toe Charles Nqakula Europese beleggers gaan paai het met die “persepsie” van misdaad in Suid-Afrika, of dat die R400 miljoen van die mislukte eNatis-stelsel fataal was, gaan hy in die volgende paar jaar skokterapie benodig wanneer die waarheid omtrent die FIFA-jakkalse onthul word. Aan een van die grootste jakkalse, die Gautrein-projek, word nog nie ’n totale koste gekoppel nie.  Verskillende afdelings daarvan word wel bespreek en mens kan maar net twee en twee daaruit bymekaar tel om vier te kry. Die moontlikheid dat die koste daarvan saam met die ander groot en klein jakkalse van die Wêreldbekersokkertoernooi in 2010, Suid-Afrika totaal ekonomies kan kelder, is nie uitgesluit nie.
Deel op

Eers moes die tekort aan vaardigheid vir die Gautreinprojek aangespreek word deur dit vir 39 Suid-Afrikaners wat geëmigreer het, die moeite werd te maak om terug te keer hiervoor. Hierdie siviele ingenieurs, kwaliteitsinspekteurs en konstruksievoormanne is reeds besig met hulle goedbetaalde taak.  Ook was Bombela genoodsaak om ervare werkers van onder andere Brittanje, Filippyne, Indië en die SAOG-lande in te voer.  Dit maak dat een van die staat se groot beloftes naamlik grootskaalse werkskepping as gevolg van die Wêreldbekersokkertoernooi, reeds gedeeltelik misluk het.

Bombela, die konsortium wat nou die konstruksiebeplanning vir die Gautrein-projek behartig, vorder glo fluks daarmee teen sowat R3 miljoen per uur; hulself beraam dit op ongeveer R20 miljoen per dag.  En dan praat hulle van twee fases waarin hulle die projek gaan voltooi.  Die eerste fase sluit in die netwerk tussen Johannesburg se lughawe, Sandton en Midrand, wat 45 maande behoort te duur.  Die tweede fase, wat die res van die spoor tussen Sandton en Johannesburg, asook die roete van Midrand na Hatfield insluit, sal in 54 maande voltooi word. Altesaam is dit 99 maande wat op 8,25 jaar te staan kom.  Dit klink asof Bombela beoog om minstens die eerste fase af te handel voor die sokkertoernooi, maar 45 maande is 3,75 jaar, en die sokker skop af op 11 Junie 2010. Voeg daarby dat die Gautreinprojek tot stilstand gekom het met die landswye stakings, dan raak dit effens moeilik om te bereken wanneer dit voltooi kan word…

Nietemin, 99 maande het, konserwatief bereken, 2 475 werksdae waarin R20 miljoen per dag bestee word wat ons by R49,5 miljard bring. Hopelik sluit dit die kostes van al die stasies en die sewe noodskagte in. Belangrik is die Marlboro-portaal waar die spoor vanaf Rosebank, Sandton en Marlboro-stasie sy verskyning sal maak.  Dan is daar ook beplan om binnekort in Pretoria naby die N14-kruising by Salvokop die tonnel te begin grou. Die skag van die Parkstasie-tonnel is glo reeds 75% voltooi.

En nie die minste nie is Rosebank waar nog pas begin is met die skag, en ’n driekilometertonnel gebou moet word. Hier is ontdek dat die grond baie sag en vol water is, maar met al die belastinggeld tot beskikking, was dit nie ’n probleem om die hulp van die Franse konstruksiereus Bouygues Travaux Publics, een van die vennote in die Bombela-konsortium wat die hele treinstelsel bou en gaan bedryf, in te roep nie.  ’n Reusetonnelboormasjien (TBM) word tans in Duitsland hiervoor gebou wat letterlik onder water gaan boor terwyl dit die tonnel agter met sement uitvoer en afseël, ’n monster wat 885 ton weeg en in Oktober per skip glo in Suid-Afrika sal arriveer.  Die TBM se wiel word aangedryf deur net 2 450 kW elektriese krag, iets waarvan Suid-Afrika ’n oorvloed het wanneer Eskom die krag elders afskakel (hul vyfjaarplan vir kragnetwerkverbetering ook mosterd na die maal), en hy kos maar net R300 miljoen, dit beteken R100 miljoen per kilometer.  Wat is dit tog in vergelyking met die R49,5 miljard?  Saam is dit slegs R49,8 miljard vir die Gautrein. Maar sluit dit die trein self in?

Dan kom nog groot jakkalse by, die stadions: Kaapstad R2,95 miljard, Port Elizabeth R1,3 miljard (daar kort nog R2 miljoen), Durban R1,83 miljard, Pietersburg R870 miljoen (reeds R73,6 miljoen meer as wat in Februarie berig is), Johannesburg R215 miljoen, Bloemfontein R241 miljoen, Pretoria R90 miljoen, Nelspruit R875 miljoen, Rustenburg R250 miljoen, en Soweto R1,5 miljard, sommige waarvan die BTW nog uitgesluit is. Maar wat dit die belastingbetaler in Suid-Afrika werklik gaan kos, weet geen siel blykbaar nie want in Suid-Afrika word die somme gemaak as die projek reeds ver gevorder het of afgehandel is. Daarvan is die sooispitseremonie vir die sokkerstadium in Nelspruit ’n sprekende voorbeeld waar daar uiteindelik R1,45 miljoen in plaas van die beplande R850 000 spandeer is, dit teenoor Durban se R300 000 en Kaapstad se R35 000. En niemand weet wat dit Pietersburg en Port Elizabeth gekos het nie…

Dan is daar ook die klein jakkalsies. Om alternatiewe vervoer vir 2010 gereed te hê, is daar R22 miljard begroot. Dit sluit klaarblyklik nie die boukostes van die lughawens se opgradering in nie. Daarby gaan die polisie se mannekrag vermeerder van 165 000 tot 193 000, maar daar word nog nie oor salarisse gepraat nie. En om ons polisie te beskerm teen die sokkerboewe, is die Britse polisiediens betrek om te kom help.  Mens wonder of hulle ook salarisverhogings gaan vra. Verder word Suid-Afrika se analoog-uitsaainetwerk met digitale tegnologie en nuwe dekodeerders vervang (’n FIFA-vereiste). Die bykomende elektriese krag wat Botswana gaan verskaf sal ook nie gratis wees nie, net soos die kragopwekkers wat by al die stadions gereed moet staan volgens FIFA se voorskrifte. Niemand rep nog egter ’n woord oor hoeveel dit gaan kos om die 5 miljard liter brandstoftekort as gevolg van die gebrekkige pypleidingsvermoë tussen die kus en die binneland, voor 2010 aan te spreek nie.

Of die adjunk-polisiehoof, André Pruis, se versekering dat al die stadions en infrastruktuur op skedule is en “tot die fynste besonderhede beplan” is, die papier werd is waarop dit staan, hoef ons nie oor te twyfel nie. Maar as daar enigsins getwyfel word wie die sokkerskade van 2010 gaan betaal, moet ons net die inhuldiging van die ANC in 1994 in herinnering roep toe selfs die Ontvanger van Inkomste opdrag gekry het om alle belastinggeld wat terugbetaalbaar was aan besighede en sommige individue, terug te hou sodat die ANC hulle miljoene-dollarfunksie kon hou. Die verkil is net dat 2010 se “funksie” nader aan biljoene grens.

Die gevolge van die sokkertoernooi in 2010 kan Zimbabwe se verval na ’n kinderpartytjie laat lyk. Dit het tyd geword dat daar dringend besin word oor wat met Suid-Afrika se ekonomie in die volgende paar jaar kan gebeur.детский магазин игрушкиДанильченео

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.