Firefox bereik 1 miljard aflaaie

Image

Mozilla se webblaaier, Firefox het in die vroeë oggendure van Vrydag 31 Julie die 1-miljardaflaaikerf verbygesteek. Nie net is hierdie mylpaal etlike dae voor die voorspelde datum bereik nie, maar dit is ook 'n duidelike teken dat hierdie blaaier diep binne Microsoft se Internet Explorer-mark insny. Die volgende webwerf is geloods om hierdie mylpaal te vier: http://www.onebillionplusyou.com/.

Die 500-miljoenmerk is verlede jaar verbygesteek maar met die vrystelling van Firefox 3.0 en kort daarna 3.5 het hulle die 1-miljardmerk binne slegs 17 maande verbygesteek. Dit is aangehelp deur die bemarkingsveldtog wat daartoe gely het dat meer as 8 miljoen aflaaie in een dag plaasgevind het.

Firefox het die tegnologie van webblaaiers meer gestandardiseer en dit het ook 'n magdom onwikkelings in die mark teweeggebring. Firefox, tesame met die ander kleiner webblaaiers soos Safari en Opera, het getoon dat hulle beter alternatiewe vir Microsoft se weergawe kan bied. Onlangse marknavorsing het getoon dat Firefox nou meer as 22% van die mark oorgeneem het en selfs Safari is sterk op pad om 10% van die mark toe te eien. Die gevolg is dat Microsoft taamlik sterk markaandeel inboet.

Firefox is oopbron en het etlike byvoegings, temas en is ook in meer as 70 tale – waaronder Afrikaans – beskikbaar. Dit werk met Windows, Linux en ook met Apple Mac en kan hier afgelaai word http://www.mozilla.com/en-US/firefox/firefox.html.

Sunbird 1.0

Die alleenstaande kalender program van Mozilla, Sunbird, het ná 5 jaar se ontwikkeling 1.0-status bereik. Dit kan óf as 'n alleenstaande program gebruik word óf dit kan as 'n byvoeging genaamd Lightning op Thunderbird gebruik word.

Tesame met die webblaaier Firefox en hul e-pos program, Thunderbird, word Sunbird as Mozilla se “holy trinity” bestempel.

Gebruikers kan ook hul Google-kalender met Sunbird sinkroniseer wat dan die items op beide die kalenders met mekaar versoen. Ek kon egter nie my Google Tasks met Sunbird sinkroniseer nie en is dan nog aangewese op die handmatige invoer daarvan. Dit bied egter ook nie 'n adresboek nie maar dié sal hopelik binnekort beskikbaar wees. Daar is duidelik nog heelwat werk wat gedoen moet word.

Vir die nuuskieriges onder julle, hier is die skakel om dit te gaan aflaai: http://www.mozilla.org/projects/calendar/sunbird/

Microsoft en Yahoo gaan Google troef

Vandeesweek het ook een van die grootste samewerkingsooreenkomste tussen twee reuse van die internet gesien en dit alles om die soekenjinmastodont Google aan te pak. Microsoft se nuwe soekenjin Bing sal van nou af Yahoo se soekenjin aandryf en Yahoo sal die reklame vir beide hanteer. Yahoo het die laaste paar jaar gesukkel om wins te maak uit dié bedryf waarin Google die grootste rolspeler is.

Microsoft het met die tienjaarkontrak dan ook van hul oorname van Yahoo afstand gedoen en gaan met dié kontrak op die bevordering van hul Bing-soekenjin fokus. Die twee firmas hoop hierdie ooreenkoms gaan meer keuses aan adverteerders bied en die gebruikers gaan ook by hierdie tegnologiese mededinging baat.

Google Tasks beskikbaar

Minder as 'n maand gelede nadat die betafase van Google se gewilde e-posstelsel beëindig is, het Google Labs bekend gemaak dat Google Tasks ook nou ten volle besikbaar is en nie meer net as 'n Labs-funksie nie. Tasks kan nou sowel in Google se kalender as binne Google Mail gebruik word. Die Labs-funksie binne Google Mail is so gewild dat Google ook besluit het om hierdie funksie binne Google Kalender in te bou.

http://gmailblog.blogspot.com/2009/07/tasks-graduates-from-gmail-labs.html

kingdom online gameplayФильчаков прокуратура харьков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.