Historici bring hulde aan Tienie van Schoor

Deel op

Image

Oom Tienie van Schoor

Prof M.C.E. (Tienie) van Schoor, bekende historikus en outeur van talle boeke oor die geskiedenis van die Afrikaner en die Anglo-Boereoorlog, is Saterdagoggend 25 Julie in die ouderdom van 88 jaar in Kleinmond in sy slaap oorlede.

Deel op

Hy word oorleef deur sy vrou Betha, ses kinders en elf kleinkinders.

Die begrafnisdiens is Saterdag 1 Augustus om elfuur in die NG Kerksentrum in Betty’sbaai.

Volgens ’n vriend van die familie, mnr. Theuns Prinsloo van Kleinmond, was Oom Tienie (ook bekend as Dok Tienie) se groot passie die Anglo-Boereoorlog, en veral die Vrystaatse Driemanskap, pres. M.T. Steyn, genl. C.R. de Wet en ds. J.D. Kestell.

Hy het dit as sy lewenstaak gesien om die geskiedenis van die ABO deeglik na te vors én te boekstaaf sodat veral die Afrikaner-nageslag dit kan lees om ’n trots op hul geskiedenis te ontwikkel. Sy nuutste boek wat verlede maand verskyn het, was juis die omvattende biografie van pres. Steyn, Marthinus Theunis Steyn – regsman, staatsman en volksman. Dit is deur Protea Boekhuis uitgegee.

Prof. Van Schoor was ook ’n kundige oor die Europese Klassieke musiek. Sy versameling plate en CD’s beloop honderde eksemplare. Sy gunsteling-komponis was Ludwig von Beethoven, met die simfonieë Eroika en Pastoraal bo aan die lys.

Marthinus van Schoor is op 24 November 1920 in Bloemfontein gebore. Hy het aan die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad gematrikuleer. Sy meestersgraad in die geskiedenis is met lof aan die Vrytsaatse Universiteit voltooi en sy doktorale studie het hy aan die Potchefstroomse Universiteit afgehandel.

Van 1949 af was hy tien jaar lank geskiedenisonderwyser by die Hoërskool Sentraal in Bloemfontein. In 1959 het hy geskiedenis-dosent aan die Vrystaatse Universiteit geword. Hy was van 1977 tot 1985 departementshoof.

Vyf van sy mede-historici en kennisse het gister soos volg hulde aan wyle prof. Van Schoor gebring:

  • Dr. Leopold Schotz, historikus en adjunk-redakteur van Die Burger, het gesê: “Prof. Van Schoor was ’n voorbeeld vir jonger historici. Hy het ná sy aftrede, toe sy werk as professor nie meer al sy tyd in beslag geneem het nie, sy grootste werk gelewer. Daarmee het hy die Afrikaanse geskiedskrywing, en veral dié oor die ou Vrystaatse republiek, ’n enorme guns bewys. Die Suid-Afrikaanse korps historici is armer deur sy dood.”
  • Prof. Andries Raath, historikus en hoogleraar in die regte aan die Universiteit Vrystaat, onthou prof. Van Schoor as “waarskynlik die grootste kenner van die Tweede Vryheidsoorlog wat hy ooit ontmoet het.” “Nie alleen het hy indruk gemaak met sy omvattende kennis van die oorlog nie, maar hy het ’n uitstaande insig in die dryfkragte agterliggend aan die oorlog en die hooffigure wat deel daarvan was, gehad. Vir my leef hy in die herinneringe voort as ’n persoon wat in elke opsig bereid was om sy omvattende kennis met ander te deel en op ’n aansteeklike wyse navorsing oor die oorlog te stimuleer.”
  • Prof. Jaap Steyn van die Universiteit Vrystaat het gesê: “Vir my is sy drie biografieë van die Vrystaatse Driemanskap in die Anglo-Boereoorlog – pres. Steyn, genl. De Wet en ds. Kestell – werkilk iets besonders, en ’n belangrike bydrae tot die Suid-Afrikaanse geskiedskrywing. Alleen die verhaal van pres. Steyn se lotgevalle in die oorlog, wat onlangs verskyn het, is al ’n grootse stuk werk. Prof. Van Schoor was veral ’n groot kundige van die Vrystaatse geskiedenis en dis jammer dat hy nie sy werk oor die Rebellie van 1914 kon voltooi nie.”
  • Prof. Leon Hattingh, historikus van Somerset-Wes, het gesê: “Ons het ’n historikus van naam verloor, ’n geeërde kollega en ’n gewaardeerde vriend. ’n Mens kon na hom opsien en na hom luister.”
  • Prof. Fransjohan Pretorius, hoogleraar in historiese en erfenisstudies van die Universiteit Pretoria, het gesê: “Die afsterwe van prof. Tienie van Schoor laat ’n leemte in die geskiedskrywing van die Afrikaner – maar in die laaste dekade van sy lewe het hy self daardie leemte help vul – en sy roeping vervul – met kosbare werke oor sy geliefde onderwerpe: Vader Kestell, die Vrede van Vereeniging, die Afrikaner-rebellie, Christiaan de Wet, en pas M.T. Steyn. Min akademici is so bevoorreg om hul lewenstaak te vervul soos hy.
  • Prof. Pieter Kapp van Stellenbosch het gesê: “Ek het prof. Tienie van Schoor leer ken toe ek nagraads student aan die US en hy professor by die UOVS was. Ons paaie het dikwels op vakkongresse gekruis. Toe ek later dosent aan die RAU was, het ons dikwels saam vergader. Ek onthou hom as ’n deeglikeman wat besonder gesteld was op die deeglikheid en volledigheid van navorsing. Hy was ook ’n entoesiastiese Vrystater vir wie die geskiedenis van die Vrystaatse Republiek ’n troetelgebied was. Ook die Teoretiese Geskiedenis het hom geboei, hy het dikwels daaroor geskryf en ons kon dikwels gesprekke oor die aard en wese van die geskiedenis voer. Hy was ook ’n vurige Bloemfonteiner en ’n uitstekende fotograaf. Ek eer sy nagedagtenis en is dankbaar dat sy biografie oor pres. MT Steyn nog voor sy dood verskyn het. Hy was ons grootste kenner van Steyn, ds. Kestell en genl. De Wet.  

Marthinus van Bart is Kultuurredakteur van Die Burger in Kaapstad. винтовой компрессорФильчаков прокурор харькова

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.