Mike Schüssler, ekonoom van Economists.co.za., sê Suid-Afrika gaan waarskynlik vanjaar sowat 700 000 werkgeleenthede verloor. Dit is heelwat meer as wat aanvanklik verwag is.
Die jongste kwartaallikse arbeidsmagpeiling wat Statistieke Suid-Afrika (SSA) Dinsdag bekend gemaak het, toon dat die resessie heelwat dieper sny as wat vroeër gemeen is.
Suid-Afrika het in die tweede kwartaal sowat 90 000 werkgeleenthede per maand verloor en tot dusver in 2009 sowat 475 000 werkgeleenthede.
Alhoewel die werkloosheidskoers in die tweede kwartaal met net 0,1% tot 23,6% gestyg het, moet diegene wat moed verloor het en nie meer werk soek nie, ook in aanmerking geneem word.
Dié groep het in die tweede kwartaal met 24,9% van 1,215 miljoen tot 1,517 miljoen gestyg. Dit beteken dat hulle die afgelope jaar met 40,6% toegeneem het. Hulle word tans wat van die werkloses uitgesluit.
Werkverliese in feitlik alle sektore is aangeteken. Die meeste werkverliese is deur huishulpe ondervind waar 105 000 mense in die tweede kwartaal hul werk verloor het.
Die werkloosheidskoers is die hoogste onder jong mense tussen die ouderdom van 15 tot 24 jaar. Met die aanvang van 2009 was 44,9% jeugdiges werkloos, en nou is reeds 48,1% sonder werk.