Navorsing deur uSwitch.com, 'n Britse prysvergelyker, het bevind dat ses uit elke tien mense nou minder as een selfoonoproep per dag maak – eens geroem as die mees moderne vorm van telekommunikasie.
Om 'n huistelefoon te gebruik, word ook al hoe meer ongewild. Van die 12 000 Britte wat aan die meningspeiling deelgeneem het, maak 44 persent minder as een oproep per dag vanaf 'n vastelyn.
In teenstelling hiermee stuur die gemiddelde persoon in die Verenigde Koninkryk 67 teksboodskappe per maand, terwyl byna driekwart van huishoudings meer as 10 uur per week op die internet boer.
Ingesluit hierby is die stuur van 'n sogenaamde "tweet" – 'n mikro-blog op twitter se sosiale netwerkbladsy – en die gebruikmaak van MSN Messenger en Skype om mee te gesels.
Volgens die segsman van uSwitch.com, Jason Glynn gaan dit vandag primêr daaroor om vinnig en maklik te kommunikeer, verkieslik met meer as een persoon op 'n slag.
Die bevindinge het ook verreikende gevolge vir selfoonoperateurs, en hulle sal moet reageer op die gewildheid van teksboodskappe met gepaste tariewe en aanbiedinge.
Hierdie neiging kan ook die selfoonbemarkingsnywerheid raak en toon aan hoe belangrik SMS-bemarking geword het, indien daar met die publiek in aanraking gekom wil word.
Deur e-pos en teksboodskappe en sosiale netwerkbladsye te gebruik, voel dit vir mense asof hulle in kontak bly met vriende en familie, terwyl hulle waardevolle tyd spaar. Hulle kommunikeer in werklikheid op hul eie terme.
'n Dekade of wat gelede het Johann Rupert, met sake vol geld, uit Londen na Suid-Afrika gekom, en groot beleggings in die selfoonbedryf gemaak. Dit was veral gegrond op sy persoonlike belewenis van die omwenteling wat selfone na Engeland gebring het.
Net soos selfoongebruik hier na ons oorgewaai het, waai tweets en teksboodskappe nou ook in ons rigting – en is dit nie vergesog dat daar weer 'n soortgelyke omwenteling gaan plaasvind nie – een wat uiteindelik ook ons sak beter kan pas.