Swart Harvard-professor ‘weens sy ras’ aangekeer

Deel op

Image

Prof. Henry Louis Gates jnr., op sy pollisiefoto wat amptelik uitgereik is

'n Swart professor aan die Harvard-universiteit is in sy eie huis gearresteer toe die polisie 'n wenk van 'n buurvrou ontvang het dat "twee swart mans" besig was om daar in te breek. Henry Louis Gates jnr. word beskryf as "die mees vooraanstaande swart akademikus in die VSA".

Deel op

Gates moes sy voordeur oop forseer omdat dit vasgehaak het, het sy prokureur laat weet. Sy kollegas meen die arrestasie was 'n duidelike geval van "rasprofilering".

Die polisie in Cambridge, Massachusetts, waar Harvard geleë is, het gereageer op 'n noodoproep van 'n vrou wat gesien het "hoe twee swartes met rugsakke op die stoep" staan, terwyl een "die deur met sy skouer gestamp het asof hy besig was om in te breek".

Teen die tyd dat die polisie daar aangekom het, was Gates reeds binne. Volgens die polisie het hy geweier om uit te kom om met 'n polisiebeampte te praat, wat vir hom gesê het dat hy daar was om 'n beweerde inbraak te ondersoek.

"Waarom, omdat ek 'n swartman in Amerika is?" het Gates geantwoord, volgens 'n polisieverslag wat deur sersant James Crowley geskryf is. Die polisie van Cambridge wou Maandag nie hierop kommentaar lewer nie.

Gates is die direkteur van Harvard se W.E.B. Du Bois-instituut vir Afrika- en Afro-Amerikaanse studies. Du Bois was 'n legendariese halfswart intellektueel wat onder andere in 1904 die gedagte van 'n Afrika-renaissance geopper het. Oudpresident Thabo Mbeki en vele Afrikaleiers het hul eie swart nasionalisme op Du Bois se idees geskoei.

Gates het aanvanklik geweier om homself teenoor die polisiebeampte te identifiseer, maar het agterna blykbaar sy Harvard-ID oorhandig, volgens die polisie.

Die polisiebeampte skryf verder in sy verklaring: "Gates het aagehou om op my te skree en my van rassevooroordeel beskuldig. Hy het ook gesê dat dit nie die laaste sal wees wat ek hiervan hoor nie."

Volgens Gates het hy sowel sy bestuurslisensie as sy Harvard-ID – beide met foto's – oorhandig en het herhaaldelik om die naam en kentekennommer van die polisieman gevra, wat geweier het. Hy het gesê dat hy toe die polisieman gevolg het waar dié sy huis verlaat het. Op die stoep is hy voor die ander polisiebeamptes geboei, volgens 'n verklaring wat deur Gates se prokureur, 'n mede-Harvard-akademikus, Charles Ogletree, uitgereik is en tans op een van Gates se webwerwe, TheRoot.com, te siene is.

Hy is weens oproerige gedrag in hegtenis geneem nadat die polisie gesê het hy "tekens van luidrugtige en opruiende gedrag getoon het". Hy is later die dag op eie verantwoordelikheid vrygelaat. 'n Eerste hofverskyning is vir 26 Augustus geskeduleer.

Die 58-jarige Gates het Maandag geweier om hom oor die saak uit te laat en het navrae na Ogletree verwys.

"Hy was geskok om steeds ondervra te word nadat hy sy identifikasie getoon het," het Ogletree gesê.

Ogletree wou hom nie daaroor uitlaat of die insident 'n rassekonnotasie gehad het nie en het gesê: "Ek dink die voorval spreek vir sigself."

Sekere van Gates se Afro-Amerikaanse kollegas sê die arrestasie is deel van 'n patroon van rasprofilering in Cambridge.

Allen Counter, wat reeds 25 jaar lank neurowetenskap aan Harvard doseer, het gesê hy is op die kampus deur twee Harvard-polisiemanne voorgekeer in 2004 nadat hy vir 'n roofverdagte aangesien is. Hulle het gedreig om hom in hegtenis te neem toe hy nie identifikasie kon lewer nie.

"Ons glo nie dat dié inhegtenisname sou plaasgevind het indien professor Gates blank was nie," het Counter gesê. "Dis werklik baie ontsenuend vir Afro-Amerikaners dwarsdeur Harvard en Cambridge dat so iets kon gebeur."

Die uitgesproke swart aktivis, eerwaarde Al Sharpton, het gesweer dat hy Gates se hofverskyning sou bywoon.

"Dié inhegtenisname dui op sy beste aan dat daar magsmisbruik deur die polisie was en ten slegste verteenwoordig dit die ergste voorbeeld van rasprofilering wat ek nog gesien het," het Sharpton gesê. "Ek het al gehoor van motor bestuur as jy swart is en selfs inkopies doen as jy swart is maar nou as jy selfs na jou eie huis toe gaan as jy swart is (word jy geteister). Dit is 'n nuwe laagtepunt in die verhouding tussen die polisie en die swart gemeenskap."

Ogletree het gesê dat Gates Donderdag van 'n reis na China teruggekeer het met 'n bestuurder, toe hy gevind het dat sy voordeur vassit. Hy het toe deur die agterdeur in die huis ingekom. Hy huur die huis by die universiteit van Harvard. Daarna het hy 'n alarm afgesit en saam met die motorbestuurder gewerk om die voordeur oop te kry. Die bestuurder het vertrek en Gates was op die foon met die eiendomsbestuursmaatskappy toe die polisie opgedaag het.

Ogletree weerspreek ook die weergawe dat Gates, wat 'n langbroek en 'n polohemp aangehad het en 'n kierie gedra het, op die beampte geskree het.

"Hy het 'n infeksie wat sedert sy tog na China sy asemhaling beïnvloed, dus is hy tans in 'n baie delikate fisieke toestand," het Ogletree gesê.

Lawrence D. Bobo, die W.E.B. Du Bois-professor van geesteswetenskappe by Harvard, het gesê het hy het Gates by die polisiestasie gaan ontmoet en het sy kollega as vernederd en "emosioneel afgetakel" beskryf.

Bobo het gesê dat hy hoop dat die Cambridge-polisie die klagtes sal laat vaar en het 'n beroep op die departement gedoen om die voorval as rede vir 'n hersiening van opleidings- en aanstellingsprosedures te gebruik.

Die aanklaer vir die Middlesex-distrik het gesê dat die klag nie laat vaar kon word totdat Gates in die hof verskyn het nie. Die vrou wat die inbraak gerapporteer het, het Maandag nie op boodskappe gereageer nie.

Gates is in 1991 aan die Harvard-universiteit aangestel en beklee een van die 20 professorale posisies met groot aansien aan die universiteit. Hy was ook die aanbieder van "Afro-American lives", 'n PBS-televisieprogram oor die familiegeskiedenisse van prominente Amerikaanse swartes. Hy is ook deur die tydskrif Time in 1997 as een van die 25 mees invloedryke Amerikaners aangewys.

Die rektor van Harvard, Drew Gilpin Faust, het gesê dat hy "natuurlik baie bekommerd was toe ek Donderdag van die voorval verneem het. Gates en ek het direk met mekaar gepraat en ek het hom gevra om my op hoogte te hou."

купить липецк маски сварщикаДанильченко

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.