Hollywood val nou apartheid teen “die wesens” aan

Deel op

Image

Hollywood het in die onlangse tyd gereeld van Afrikaners en wit Suid-Afrikaners gebruik gemaak in skurkrolle. Nou kom daar 'n nuwe rolprent wat oor "diskriminasie teen buiteaardse wesens" gaan en waarin blanke Suid-Afrikaanse mans weereens as die hardvogtige rassiste uitgebeeld word.

Deel op

Hollywood tree as die voorhoede van die anti-blanke beweging op en verskeie van die groot Hollywood-treffers van die afgelope somer in die noordelike halfrond bied bewys hiervoor. Op 'n onlangse besoek aan 'n Amerikaanse filmteater het ek waarskuwings gevind dat die teater teen nie-mense diskrimineer. In 'n ooglopende verwysing na sowel apartheid as die Amerikaanse Suide van die 1960s, is nie-mense spesifiek verbied om die badkamers en krane te gebruik.

Dié kennisgewings is eintlik advertensies vir 'n fliek genaamd "District 9" wat die verhaal vertel van menslike diskriminasie teen vredeliewende wesens wat as vlugtelinge aarde toe gekom het. 'n Mens kan die lokfilm vir die rolprent op YouTube.com kyk.

Benepe mense verskyn op die skerm wat sulke dinge sê soos: "Hulle hoort nie hier nie." "Ons bestee te veel geld om hulle hier te hou… ten minste word hulle apart van ons gehou." "Hulle moet hier wegkom." "Hoekom gee hulle nie net pad nie?"

Die rolprent speel in Suid-Afrika af met heelwat Afrikaners in die rol van polisiemanne. Voor die frase, "Hulle is nie mense nie", op die skerm verskyn, mag kykers dalk dink dat Suid-Afrikaners apartheid laat herleef het. Sekere kykers besef dalk nie eens dat "hulle" die buiteaardse wesens is nie, en sou kon dink dat die sinsnede "Hulle is nie mense nie" uitdruk wat blanke Suid-Afrikaners van swartes dink.

Daar bestaan 'n webwerf wat na verskeie ander webwerwe lei, waarvan sommige voorgee dat die verhaal werklik gebeur het. Een webwerf adverteer 'n fiktiewe maatskappy genaamd "Multinational United" wat hoogs besoldigde poste aanbied aan diegene wat met nie-mense moet werk. Dieselfde maatskappy bied ook laag besoldigde betrekkings aan nie-mense wat in nie-menslike slaapkwartiere moet werk of nie-menslike vullis moet verwyder. Werksaanbiedinge aan nie-mense word selfs in 'n kunsmatige taal gemaak wat veronderstel is om die taal van dié buiteaardse spesie te wees.

Dieselfde webwerf bevat 'n lys van regulasies vir nie-mense wat in 'n spesiale gebied bekend as "Distrik 9" – waarvan die rolprent se naam afgelei is – moet woon. Hier volg van die reëls wat hulle moet nakom:

"Nie-mense moet te alle tye hul identifikasie-etikette dra."

"Nie-mense word nie toegelaat om eiendom te besit nie."

"Enige betreding deur ['n nie-mens] is grond vir uitwissing ter plaatse of onbperkte aanhouding."

"Seksuele verhoudings tussen mense en nie-mense word verbied."

"Nie-mense mag nie uit openbare krane drink nie."

"Nie-mense moet badkamergeriewe wat spesifiek vir nie-menslike gebruik opsy gesit is, gebruik."

Image

Daar is ook 'n skakel na 'n valse nuusuitsending wat gemaak is om soos 'n openbare veiligheidsboodskap te lyk wat deur die regering vrygestel is. Die video maan kykers om met die owerheid by 'n 0800-nommer in verbinding te tree indien nie-mense uit Distrik 9 sou ontsnap. Die video sluit af met 'n prentjie van 'n gesonde, normale blanke gesin met die onderskrif, "Ons hou mense veilig deur nie-mense apart te hou."

Die doel van die rolprent is natuurlik om die spot te dryf met blankes wat nie van multikulturalisme of veelrassigheid hou nie. Die vlugtelingwesens is 'n metafoor vir die onwettige immigrante in die Verenigde State, Europa en Suid-Afrika. Ek ken nie die verhaal van die film, wat nog nie vrygestel is nie, maar mense gaan sonder twyfel as xenofobiese chauviniste uitgebeeld word.

Image

Op Facebook is daar 'n "District 9"-groep waar lede oor die vraag kan stem: "Verdien nie-mense gelyke regte?" Ek het "nee" gestem, tesame met 53 persent van die deelnemers op daardie stadium.

District 9 is die tweede rolprent vanjaar wat mense as inherent boos en wesens as goed uitbeeld. 'n Kinderanimasieprent genaamd Battle for Terra, wat in die noordelike halfrond se lente uitgereik is, speel in die toekoms af nadat die mens sy eie planeet deur aardverwarming vernietig het. Die laaste oorblyfsels van planeet aarde val 'n ander planeet binne wat deur aangename, vredeliewende wesens  bewoon word,  met die bedoeling om hulle almal uit te wis en die planeet vir die mens toe te eien. Die mense wat die planetêre volksmoord beplan, is meesal blanke mans en in die lokfilm is dit 'n swartman wat hom teen die verowering uitspreek. Die lokfilm kan hier bekyk word.

In sowel District 9 as Battle for Terra verraai 'n mens sy eie spesie om in die geledere van die arme wesens te veg wat deur blanke mans verdruk word. Hierdie verraad word natuurlik as heroïes voorgestel. Die boodskap kan nie duideliker wees nie: Dit is selfsugtig en wreed om jou grondgebied vir diegene van jou eie soort te wil behou en dit is edel om vir ander plek te maak wat heeltemal van jou verskil.

Kyle Bristow is 'n eerstejaarregstudent, rubriekskrywer vir www.globalpolitician.com en vorige voorsitter van die Michigan-staatsuniversiteit se tak van Young Americans for Freedom.

воронеж пневмоинструментЛобановский Харьков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.