
Die nuwe hoof van die Internasionale Atoomenergieagentskap Yukiya Amano, het gesê hy wil graag sy amp depolitiseer en bygevoeg dat hy 'n onafhanklike mening sal nastreef. Die Japannese Amano was Westerse moondhede, en in besonder Israel, se gunsteling kandidaat vir die pos.
Amano het, nadat hy die Irandossier noukeurig nagegaan het, ook verklaar dat hy geen getuienis kon kry dat Iran betrokke is by die vervaardiging van atoomwapens nie. Die IAEA het reeds herhaaldelik aangedui dat Iran nie afwyk van hulle burgerlike kernprogram nie, alhoewel die uitgaande hoof Mohamed ElBaradei onlangs gesê het hy het 'n "voorgevoel" dat Iran heimlik sulke tegnologie begeer.
Dit wil voorkom asof Amano tot dusver nie op voorgevoel nie, maar eerder op harde getuienis sal staatmaak om die beweringe dat Iran 'n koverte kernprogram dryf, te ondersoek.
Hy het egter gesê dat Iran onder 'n "verpligting" verkeer om hulle burgerlike kernprogram op te skort, alhoewel daar geen getuienis bestaan oor ongerymdhede nie, aangesien die Veiligheidsraad dit vereis. Die vereistes van die VN se Veiligheidsraad moet apart van die IAEA se protokolle – wat geen beperkinge op die reg om energieopwekking plaas nie – beskou word.