Destyds was dit die resultaat van sendingwerk deur eerwaarde Phillip onder die Xhosas en nou Naspers se sendingwerk onder die Afrikaners met dialektiese taalgebruik in ons moedertaal. Terloops – in die weste by Kuruman het die Moffatsending in dieselfde tyd weer die inboorlinge fisies bewapen met gewere sodat dit ‘n groot faktor by die Sandrivierkonfensie was. Voorheen het ek geskryf van die probleem rondom ‘n staatskerk in die plek van ‘n volkskerk se teologie waarvan hierdie ‘n goeie voorbeeld van tipiese Baälgodsdiens is.
Afrikaans is Naspers se produk waarmee geld gemaak word soos met mielies en melk – aanvanklik gebruik om die gebruikers te vergiftig deur ‘n monster tot stand te bring en nou word daar in Afrikaans dieselfde monster in die koerante afgekraak en ontmasker vir wat dit inderdaad is – ‘n daggadroom van reënboogselfbeskikking. Soos skisofreniese drenkelinge glo die Afrikaanse media dat die pen magtiger as die swaard behoort te wees solank daar net groot geld te maak is. Vergelykbaar met die man wat vryval sonder valskerm en die vlug geniet – want sovêr gaan dit nog goed met die besigheid.
Natuurlik sal kritiese Afrikaans die doodsteek wees vir enige verbruikersmark maar veral vir die maghebbers, slegs van irritasie waarde soos ‘n klinkende simbaal. Geldend ook vir die D Anti-‘s en Cope anti-‘s en al die ander anti-‘s.
Want in Afrikaans lees en luister ons net van die rampe en ellende van hopeloosheid en reddeloosheid soos die Vreeslike Leegheid van Godverlatenheid / ateïsme wat Nietzsche beskryf het.
Soos die seuntjie wat nie meer Sondagskool toe wou gaan nie omdat die juffrou net gedurig vertel van die f**** plae! Want dit klink net ontsettend erger in die moedertaal.
Geen taal kan as medium van kommunikasie oorleef as dit so misbruik word nie en natuurlik moet daar mense wees soos prof. Van Coller en sy organisasies om die taal te bemark en natuurlik sal daar in Naspers se briewekolomme skuilnaamskrywers wees wat irrassioneel hulle eie nes in ons moedertaal bevuil soos Tyl Uilspieël in Die Volksblad et al.