Afrikaanse voetspore en bestemming

Deel op

Ek volg die debat oor Afrikaans en Afrikaners in krisis op hierdie webblad noukeurig en sien die noodsaak om twee dinge reg te kry:

  • Die kom tot klarigheid oor wat ons te doen staan in die huidige omstandighede

  • Om hierdie klarigheid gefokus in een rigting te laat saamtrek

Deel op

Antwoorde hieroor uiteenlopend. Daar is diegene wat 'n vorm van samewerking met die owerheid en gesagstrukture voorstel, sommige lê klem op 'n eie geografiese gebied en nog ander vra vir meer daadwerklike aksie in die huidige opset, veral wat die alledaagse omgang met die taal en kultuurgoedere betref. Daar is natuurlik 'n saak uit te maak vir baie van hierdie voorstelle, maar ek verwys weer na my voorstel gedurende November 2008 op hierdie webwerf in Die antwoorde op die dinge oor watter moontlike metodes ons kan gebruik om verantwoorde antwoorde te probeer kry op situasies waarmee ons gekonfronteer word. Ek dink die eis vir 'n min of meer eenvormige antwoord op die huidige situasie is onontbeerlik. Maar waarin lê hierdie eenvormige antwoord? Maklike antwoorde hierop is ons nie beskore nie. Ek wil tog die een en ander hieroor opmerk:

  • Die debat oor eie grondgebied kom lank en diep en ek wil nie nou hier oor die meriete al dan nie hiervan debatteer nie. Realisties gesien: ons moet net oortuigend antwoord op die vraag wat die moontlikheid is dat so 'n werklikheid ooit toegelaat sal word om te bestaan, veral as dit enigsins blyk 'n betekenisvolle sukses te wees.
  • Die klem op aksie rondom Afrikaans as taal en kultuurverskynsel is bo twyfel, maar ons moet oppas. Ek haal die Spaanse skrywer Carlos Ruiz Zafón se openingswoorde aan uit sy mees onlangse boek, uit Spaans vertaal as "The Angel's Game" : "'n Skrywer vergeet nooit die eerste keer wanneer hy 'n paar munte of 'n aanprysing aanvaar het in ruil vir 'n storie nie. Hy vergeet nooit die ydelheid in sy bloed wat hom laat glo dat, indien hy sy gebrek aan talent vir ander kan wegsteek, die droom van die letterkunde hom sal voorsien van 'n dak oor sy kop, 'n warm bord kos aan die einde van die dag, en dít wat hy die meeste begeer: sy naam op 'n stukkie papier wat hom waarskynlik sal oorleef. 'n Skrywer is veroordeel om daardie moment te onthou, aangesien hy van daardie oomblik af gedoem is en sy siel 'n prys het." (my vertaling).  Hoe waar is dit van die moderne Afrikaanse letterkunde en kultuur? As ek so om my kyk het ons eerlike "kultuur" met iets om die lyf, broodnodig.
  • Die reeds gemaakte voorstelle in bogenoemde debat wys duidelik uit: die nakom van ingeligte verantwoordelikheid, in die een of ander vorm van aksie, en deursettingsvermoë (wilsoortuiging) is ononderhandelbaar. Daarsonder kan ons net sowel nie begin nie.
  • En oor fundamentele keuses: Johann Rossouw raak hieraan in sy bespreking van R.W. Johnson se onlangse boek oor Suid-Afrika na Apartheid (South Africa's Brave New World: The Beloved Country Since the End of Apartheid), veral Afrikaners se sug na deelname aan die hoofstroom. (Sien: Glasoog, Beeld BY, 11 Jul 09). Hierdie keuses en, belangriker, hulle geskiedenis (hoe het ons gekom tot in hierdie situasie), kan nie uit eerlike besinning uitgelaat word nie, beide op fundamentele gronde en daarom ook uiteindelik op die vlak van hulle praktiese uitkomste

Aanvaarde besigheidsteorie sê ons moet versigtig wees dat struktuur nie die pas aangee en strategie volg nie. Dit hoort andersom. Dit beteken dat daar duidelikheid (eenvormige antwoorde hierbo) moet bestaan oor die bestemming terwyl ons voetspore trap. In die besigheidswêreld is dit waarskynlik waar. In die samelewing ook, maar dalk sit ons nou met 'n situasie wat (vir eers) om strukture vra bloot ter wille van oorlewing. As daar hiervoor 'n saak uitgemaak kan word, is die instelling van alternatiewe strukture iets om verder te verken. Dit geld nie net strukture rondom taal en kultuur nie, maar ook in die praktiese sfere van onderwys (op alle vlakke), diensteverskaffing, sosio-maatskaplike ondersteuning en opheffing, ensovoorts. Daarvoor is daar gesprek en koördinasie nodig, ook om prioriteite te bepaal. Neels de Ridder maak in sy artikel opmerkings rondom finansiering hiervan – uit verskeie persoonlike gesprekke ter plaatse en enkele in die buiteland, is ek glad nie oortuig van die feit dat befondsing van hierdie voorstelle onmoontlik is nie, veral as jy weet waar en by wie om te soek en jy benut vaardige agente en woordvoerders. Dieselfde geld vir kundigheid om dit te doen. Johann Wingard se artikel oor die Boere en die Russe skets so 'n tipe prentjie. Dit is egter 'n ander, weliswaar noodsaaklike, onderwerp. In kort kom dit daarop neer dat niemand (individue en organisasies) meer kan sit en wag dat iets vir ons gedoen word nie; ook nie dat ons beloftes in dié verband in ruil vir samewerking kan aanvaar nie – daarvoor het die praktyk en geskiedenis te veel lesse te leer. Aangesien niks ooit werklik eindig nie, staan ons optrede in die alhier in die oordeel van tyd. Sou ek my naam onder aan die uiteindelike uitkoms hiervan wou teken?

хороший стоматологлобановский александр биография

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.