Een persoon is beseer en drie is in hegtenis geneem nadat die polisie Maandagoggend met rubberkoeëls op 'n skare betogers losgebrand het naby Rustenburg, het die SAUK berig.
Honderde inwoners van Lekgalong, Lethabong en Ikageng het die pad tussen Sun City en Brits met brandende bande afgesper.
Die SAUK se nuusspan het berig dat die polisie genoodsaak was om op die woedende skare te vuur.
Inwoners is klaarblyklik ongelukkig oor 'n gebrek aan dienslewering en beweerde korrupsie van die plaaslike munisipale raad.
Superintendent Lesego Metsi van die SAPD het aan Sapa gesê hy probeer nog bevestiging vir die insident kry.