Johann Wingard: ‘n Strategiese alliansie tussen Boere en Russe?

Deel op

Image

Dit is fassinerend om op skotteltelevisie na kanaal 405, Russia Today (RT), te kyk. Nie vir sy goeie joernalistiek as sodanig nie, maar om te sien hoe ‘n kapitalistiese Rusland vandag funksioneer. Oor baie jare moes ons hoor dat alles wat Russies is, taboe en verwerplik is. Nou wys die RT-kanaal ‘n ander, moderner Rusland en bied ‘n aangename kykervaring vir die oningeligtes.

Deel op

My eerste kennismaking met Rusland was aan die einde van November 1993. Toe die Swissair-vliegtuig op die Moskouse lughawe land en mens die wit sneeu en ystoneel buite sien, besef jy waarmee Napoleon en Hitler se troepe mee te kampe gehad het. ‘n

Uur later in die hotel, omring deur vriendelike en hartlike Russiese sakemanne, het die beklemmende gevoel van angs wat deur jare se breinspoeling in my gevorm was, egter plek gemaak vir die ontdekking dat die Russe net sowel doodgewone Afrikaners kon gewees het. Hulle lyk selfs soos Boeremense…

Ek was verskeie keer daarna weer in Rusland, waar ons ‘n kontrak vir ‘n aardgaskompressorprojek in Siberië onderhandel het. Tydens een so ‘n besoek was ek selfs gas van wyle Leonid Bresjnef se kok. Behalwe vir die kaviaar op broodjies met yskoue vodka het Bresjnef blykbaar baie eenvoudige eetgewoontes gehad.

Oor dekades het ons geleer dat kommunisme die groot vyand van die Weste is. Ons het geleer hoedat kommunistiese Rusland daarop ingestel was om Suid-Afrika se strategiese minerale rykdom in te palm om wêreldoorheersing vir kommunisme te verkry. Dit was glo die redes waarom ons teen buurlande moes oorlog maak. Ons het geglo dat Rusland en kommunisme onlosmaakbaar van mekaar was. Rusland was dus die permanente vyand van die Weste en ons ‘n onlosmaakbare deel van die Weste.

Maar binne een dekade het die politieke landskap totaal verander. Suid-Afrika is nie meer deel van die Weste nie, maar deel van die ontwikkelende ekonomiese gemeenskap. Die Weste se vyande is nou Suid-Afrika se vriende. Rusland is nie meer kommunisties nie en die Tsaars is terug in die Russiese geskiedenisboeke. Leningrad is weer St. Petersburg. Die Russe het kommunisme permanent vaarwel geroep.

Ironies genoeg is Suid-Afrika vinnig op pad om ‘n kommunistiese staat te word. Dit is om daardie rede dat baie Afrikaners die ANC/SAKP-alliansie as verwerplik beskou. Ons het geleer om kommunisme te haat! Die staatsdiens is ook nie meer deel van ons Afrikanerwees nie. Honderde duisende Afrikaners het hul land, wat met soveel trots, ywer en sorg oor dekades heen opgebou is, reeds verlaat. Niks is vandag meer dieselfde as vyftien jaar gelede nie. Afrikaners is vandag as ‘n kwynende volksgroep ontbloot – ‘n volk wat met homself worstel om sy nuwe identiteit te vind.

Is Afrikaners nog deel van daardie Westerse wêreld wat hulle polities ontmagtig het? By watter moondheid kan hulle nou hul heil gaan soek? By die hooghartige Weste, die raaiselagtige Sjina of by die laaste blanke nasie op aarde, die Russe? Of moet hulle maar aangaan om hul gene as enkelinge regoor die aardbol te versprei om ander volke se geenpoele te versterk?

Vandag weet ons almal dat Rusland die slegte beer was waarmee die NP-regering sy ondersteuners bymekaar gehou het. Ons weet ook dat ons manne in uniform moes glo dat die oorlog waarin hulle gewikkel was, die moeite werd was. Rusland en kommunisme was vir die meeste Afrikaners een en dieselfde ding. Daarvoor het ‘n reusagtige propagandaveldtog gesorg.

Hoeveel mense besef dat die Russe tydens die Anglo-Boereoorlog (ABO) aan die kant van die Boere was? Het u al gehoor van veggeneraal Jefgeni Jakoflewitsj Maksimof? Hy is by Thaba Nchu gewond en kry daarna ‘n helde-ontvangs in Pretoria waar hy as veggeneraal verkies is.

Dan was daar ook die Georgiese prins Nikolai Georgiewitsj Bagration-Moekranski, wat na die oorlog as “Niko die Boer” bekend gestaan het. Niko was selfs ook krygsgevangene op St. Helena.

In ‘n baie interessante boek “The Russians and the Anglo-Boer War”, wat in 1999 die lig gesien het, beskryf Apollon Davidson en Irina Filatova ( Human & Rousseau, 1998. 287 pp. ISBN 978-0-7981-3804-8.) hoe die ABO die verbeelding van die kontinent se nasies aangegryp het. So byvoorbeeld was die Transvaalse uitstalling van ‘n Boereplaas tydens die Groot Wêrelduitstalling van 1900 in Parys die heel gewildste stalletjie wat die meeste besoekers gelok het. In Rusland het Boeremanie hoogty gevier. Die Russiese media het geweldig baie publisiteit aan die ABO verleen en Boereliteratuur is selfs in Russies vertaal.

Die beroemde Leo Tolstoi het volgens die skrywers glo eendag opgemerk: “Elke oggend as ek die koerant oopmaak, sien ek met hartstogtelike verwagting uit na die goeie nuus dat die Boere die Britte verslaan het.”

Vir hul navorsing het die outeurs diep gedelf in Suid-Afrikaanse en Russiese literatuur en skets ‘n oorsese perspektief op die ABO. Hulle skryf hoe Russiese vrywilligers by die Boeremagte aangesluit het en hoe ‘n ongemaklike verhouding tussen Boer en Rus vanweë kultuurverskille in die veld bestaan het. Volgens hulle het die Russe net die grootste agting vir die Boere se dapperheid en krygskuns getoon. Hoewel hul getalle maar min was, het die Russe glo baie ongevalle gehad. Die skrywers beraam dat daar ongeveer 259 Russiese vrywilligers aan die oorlog deelgeneem het, maar maak die punt dat die werklike waarde van hul betrokkenheid die simboliese betekenis van hul teenwoordigheid en opoffering was, iets wat oneindig baie vir die moreel van die Boere se leierskap beteken het.

Die terugvoer wat Maksimof en Niko die Boer aan die Moskouse militêre kringe gegee het, het ‘n interessante perspektief oor Brittanje se gebrek aan krygsvermoë geskets. Die Russe het toe geweet dat die Britse leër nie teen ‘n kontinentale moondheid opgewasse sou wees nie.

Die skrywers voer aan dat die Russiese samelewing nog nooit oor enigiets so verenig was as wat dit met hul simpatie vir die Boerevolk was nie. Die Russe was volgens hulle deurgaans pro-Boer en anti-Brits, en betrokkenheid by die ABO het met die eeuwending ‘n integrale deel van Rusland se siening van hul nasionale eiebeeld geword. Die Boere was vir die Russe ‘n sprekende voorbeeld van ‘n landelike burgery of proletariaat wat sy eie republieke opgerig het, wat as “kleinboere” ‘n eerlike bestaan gemaak het en teen die Britse monargie en adellikes weerstand gebied het. Vir die Russiese volksmentaliteit was dit ‘n inspirasie.

Op strategiese vlak lees ons dat Tsaar Nikolas in sy dagboek skryf dat hy die uitslag van die ABO sou kon bepaal deur bloot opdrag aan sy Turkestanleër te gee om na die Indiese grens op te ruk. Dit sou Brittanje noodsaak om ‘n nuwe front te open om Indië teen ‘n moontlike Russiese besetting te beskerm en dus die aftog sou moes blaas uit Suid-Afrika. Generaal JC Smuts het selfs aan ‘n plan gewerk om ‘n opstand in Indië te stook, waarna die Russe sou ingryp. Brittanje kon nie twee groot oorloë gelyktydig bekostig nie – die ABO was alreeds Brittanje se duurste oorlog ooit.

Tsaar Nikolas skryf in sy dagboek dat hy Keiser Wilhelm II oor sy planne in Berlyn gaan inlig het. Wilhelm het die geopolitiek egter baie meer genuanseerd benader en wou nie betrokke raak om openlik solidariteit met Rusland teen Brittanje te betoon nie.

Image

?n Russiese kommando tydens die ABO met erkenning aan Stormfront Russia

Natuurlik was Rusland self ook geïnteresseerd in die Transvaal se edelmetale en minerale en wou ekonomiese bande met die ZAR smee. Vanweë die ingewikkeldheid van die groot moondhede se diplomasie t.o.v. die ABO, was Rusland se pro-Boerse sentimente gevolglik tot woorde beperk. Behalwe vir ‘n paar honderd vrywilligers wat die Boere kom help het, het Tsaar Nikolaas nooit tot aksie oorgegaan nie.

Tydens die Sowjet– en apartheidstydperke het die verwydering tussen die Russe en Afrikaners amptelik toegeneem tot ‘n vlak van openlike vyandigheid wat tot bloedvergieting op die slagvelde van Angola gelei het. Enige toenadering met die Russe is as verraad beskou.

Die skrywers sluit af met ‘n vraag of dit moontlik is vir die Boere en die Russe om ná meer as ‘n eeu weer die vriendskapsbande te hernu, om aardie gevoel van nostalgie wat behoue gebly het, ten spyte van die outoritêre regimes in beide lande wat die nasionale geheues wou suiwer, weer te ervaar. Hulle beweer dat daar wel nog oorblyfsels is van ‘n sterk sentiment wat gebou was op die verromantisering van die Boere se unieke sin vir vryheid, wat deur hul heldedade en krygskuns versinnebeeld was.

Geen minderheidsvolk kan sonder buitelandse ondersteuning homself laat geld op dieselfde grondgebied wat hy met ‘n oormag vreemdedlinge moet deel nie. Kyk na die Hongaarse minderheid in Romenië, wat deur Hongarye ondersteun word, die Duitse minderhede in Europese lande wat deur Duitsland gestut word om hul kulturele en menseregte te beskerm, die Turke in Duitsland, en so meer. Die Afrikaners het geen natuurlike oorsese ondersteuningsnetwerk wat hul stemme kan dikmaak as sake skeefloop nie.

Afrikaners se historiese kultuurbande met Nederland het tydends die apartheidtyd ernstige skade opgedoen. Die Afrikaners se beeld in Brittanje en die VSA is op perverse wyse sodanig geskaad dat ‘n strategiese aansluiting met daardie lande haas onmoontlik is.

Tydens ‘n gesamentlike sitting wat die Volkstaatraad met ‘n tiental ambassadeurs van oorsese lande in die Ou Raadzaal in Pretoria gehad het, was dit net die Russiese gesant wat enige simpatie met die Raad se taak getoon het. Hy het verduidelik dat die Russe die staatkundige kwessies rondom etnisiteit wel deeglik begryp. In die Praagartikel Was Lenin en Verwoerd op dieselfde golflengte? beskryf ek hoedat Lenin en Stalin ‘n beleid van etnofederalisme geformuleer en in Sowjet-Rusland toegepas het. Vir byna ‘n eeu het Russe die erkenning van selfbeskikking aan etniese groepe, ja selfs vir die Russiese Jode, met hul moedersmelk ingekry. Hulle begryp dit dus en besef waaroor dit gaan.

Waar liberaliste (soos die DA, bv.) erkenning van volksgroepe as verdelend en gevaarlik beskou en ‘n multikultibenadering verkies, beskou federaliste soos die Russe dit as helend en saambindend vir die nasionale staat as geheel.

Ek wil aan die hand doen dat ons weer na Rusland kyk. Afrikaners kan aan die Russe iets in Afrika bied wat geen ander Afrikavolk besit nie, naamlik ‘n Europese ingesteldheid wat die vaardighede van ‘n nywerheidsrewolusie deurgemaak het. Vir hul Afrikaprojek benodig die Russe ons kennis van Afrika-spesifieke landbou, water, energie, minerale verwerking, argitektuur, die mediese wetenskap, ensovoort.

Ek voorsien dus ‘n strategiese alliansie tussen Boere en Russe vir samewerking in Afrika, gevolg deur ‘n kultuurverdrag wat die historiese bande tussen hulle weer sal verstewig.

Intussen kan ons na kanaal 405, RT, vir uitstekende nuusmateriaal kyk.

Lees ook Kobus Du Pisani se boekresensie.

 

#ИМЯ? вредОлександр Фільчаков прокурор

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.