Mediaverklaring op die dood van PW Botha

Deel op

PRAAG wil sy innige simpatie en medelye met mev. Barbara Botha, mnr. PW Botha se kinders en ander naasbestaandes uitspreek. Hoewel mnr. PW Botha reeds 90 jaar oud was, was hy so helder, sterk en gesond dat sy skielike dood as ‘n skok vir almal gekom het.

Deel op

PW Botha was iemand wat sy hele lewe lank in die politiek gestaan het en wat historiese figure soos genls. Hertzog en Smuts persoonlik geken het. Sy heengaan verteenwoordig daarom ook ‘n breuk met die geskiedenis wat onherroepelik is. In vele opsigte was PW Botha die laaste van die ou skool van Afrikanerstaatshoofde wat Afrikanervryheid hoër as mededingende beginsels soos demografiese demokrasie geplaas het.

Die oordeel oor mnr. Botha of hy reg was om ‘n ANC-oorname teen te staan of nie, sal nog deur die geskiedenis gevel word. Indien Suid-Afrika sou ontwikkel tot ‘n liberale demokrasie van die Westerse tipe sou die eensydige en dikwels onbillike kritiek wat hy vandag in die media verduur in ‘n mate geregverdig wees. Maar indien Suid-Afrika van hier af versink in nog ‘n Zimbabwe met etniese suiwering van blankes en Afrikaners, ekonomiese stagnasie en ellende soos in vele Afrikalande aangetref word, sal hy vir seker anders geoordeel word en was sy weerstand teen revolusie terugskouend geregverdig.

In gesprekke wat dr. Dan Roodt van PRAAG verlede jaar met PW Botha gevoer het, het hy te kenne gegee dat hy geensins in 1989 beroerte gehad het nie, maar dat hy moontlik vergiftig kon gewees het. Die destydse geneesheer-generaal en bekwame mediese spesialiste het hom ondersoek en kon geen spoor van beroerte vind nie. Ook die verstandelike helderheid wat hom tot aan die einde van sy lewe gekenmerk het, plaas ‘n vraagteken oor die destydse bewerings van beroerte.

Hierdie en ander gebeure sê vir ons dat die tagtigerjare toe mnr. Botha aan bewind was, ‘n duistere periode in die Suid-Afrikaanse geskiedenis verteenwoordig. Dit was die tyd van die Kerkstraatbom, van buitelandse moondhede en selfs Westerse ambassades wat hulle openlik met die binnelandse politiek in die land bemoei het deur hul steun aan ‘n radikale ondergrondse beweging sonder bewysbare openbare steun. Die Sweedse regering het groot bedrae geld – tot $100 miljoen per jaar – aan die ANC geskenk om terreur teen Suid-Afrika te pleeg en ‘n opstand teen die wettige regering van die land te probeer organiseer.

Skrywers, intellektuele en studente is op sleeptou geneem en gemanipuleer op die manier waarop die ou Sowjetunie, Oos-Duitsland en Kuba die naïewes vir politieke propaganda rondgelei en by vergaderings uitgestal het. Vandag is vele van hulle wat in die tagtigerjare felle kritiek teen mnr. Botha se regering gelewer het diep ontnugter deur die huidige bestel met sy geweld, korrupsie en onbekwaamheid.

In die aangesig van plaasmoorde, taaldiskriminasie, rassistiese beleid teen blankes, naamsveranderings en grondonteiening, swyg dieselfde buitelandse moonhede wat destyds revolusie in die land gestook het in alle tale. Terwyl Mugabe ‘n skrikbewind in Zimbabwe voer, word sy land nie met sanksies getref nie en word daar – anders as in die geval van PW Botha – geen pogings van buite aangewend om hom te ontsetel nie.

Een ding staan egter soos ‘n paal bo water: vandag is die Afrikaner nie meer vry nie. Daar mag "bevryding" of oehoeroe na die Afrikamodel plaasgevind het, maar mnr. De Klerk se eksperiment het nie daarin geslaag om ‘n billike bedeling tot stand te bring waarin daar vir minderheidsgroepe ook voorsiening gemaak is nie. Die voortbestaan van die Afrikanerminderheid word vandag wesentlik bedreig deur ‘n simplistiese stelsel wat in Suid-Afrika een "nasie" en een "geheel" poneer wat deur die geskiedenis en die werklikheid van talige en kulturele verskeidenheid ontken word.

Sedert 1994 het meer as ‘n miljoen blankes die land verlaat, oftewel een uit elke vyf. Die mate van ontnugtering en vervreemding wat daar onder Afrikaners ingetree het as gevolg van ongebreidelde geweldsmisdaad, taaldiskriminasie, naamsveranderings en die mees radikale rassevoorkeurbeleid ter wêreld, is ongekend in die geskiedenis.

In daardie opsig was PW Botha, tesame met elke ander Afrikanerleier gedurende die twintigste eeu, hetsy Louis Botha, hetsy Jan Smuts, J.B.M. Hertzog, D.F. Malan, H.F. Verwoerd of B.J. Vorster, oënskynlik korrek in hul siening dat swart oorheersing in Suid-Afrika onversoenbaar sou wees met die voortbestaan van die inheemse blanke kultuur en beskawing wat sedert 1652 tot stand gekom het.

Die geskiedenis is nie verby nie en Suid-Afrika se probleme is nie deur FW de Klerk se oorgawe besleg nie. Daarom sou ons ‘n fout maak deur die stroom te volg en PW Botha vandag as halsstarrig en outokraties te tipeer. Enigeen wat met hom persoonlik te doene gehad het, sou kon getuig dat hy die verwikkeldheid van ons multi-etniese samelewing goed begryp het en onder die omstandighede sy bes probeer het om ‘n billike bedeling tot stand te bring.

Tot aan die einde van sy lewe was sy integriteit ongeskonde. Omdat hy geen korrupsie gedoog het nie, het hy gesterf as die armste Afrikaleier in die geskiedenis, met net ‘n huis in Wilderness op sy balansstaat. Ook in sy weerstand teen die propagandamaneuvers van die Waarheids- en versoeningskommissie, het hy manhaftig en oortuigend opgetree. Ondanks alle pogings van die ANC en sy handlangers, is hy nooit aan enige misdryf skuldig bevind nie, anders as die groot aantal korrupte ANC-politici wat steeds in die parlement sit.

Hy sal ook onthou word as iemand wat die Suid-Afrikaanse Weermag tot ‘n gedugte en professionele gevegseenheid opgebou het. Onlangse nuus oor die onbekwaamheid en chaotiese toestande in die geamalgameerde Nasionale Weermag toon dat ook dié deel van sy erfenis nie die ANC-bewind oorleef het nie.

Die bou van ses kerntoetstelle onder sy bewind wat met groot verantwoordelikheid geskied het, verteenwoordig een van Suid-Afrika se merkwaardigste militêre en tegnologiese prestasies. So iets sal nooit weer gebeur nie omdat die land nie meer oor dieselfde mate van kundigheid beskik nie.

Ongeag of mens met sy politiek saamgestem het, moet mens erken dat PW Botha diep spore in Suid-Afrika getrap het. Veral was hy geen jabroer nie. Sy persoonlike woorde aan my sal my altyd bybly: "Ek hou van ‘n vriend wat my kritiseer, want hy is ‘n ware vriend. Maar ‘n vriend wat my poleer, ag ek nie." Hoe anders was so ‘n man nie as die ruggraatlose kruipers en jellieagtige voetewassers wat deesdae deur die regime en sy gedienstige media as "Afrikanerleiers" voorgehou word nie!

‘n Mens kan PW Botha van baie dinge beskuldig, maar nie dat hy ongevoelig teenoor sy land, sy volk en hul vryheid gestaan het nie. Om daardie rede behoort Afrikaners vandag verenig te wees in hul rou, maar gesterk in die wete dat ons vryheidstryd nie verby is nie. Uit die geslag van PW Botha en sy roemryke voorgangers wat terugstrek tot Kruger en die Trekkerleiers, sal daar wel iemand verrys om ons van die huidige oorheersing te bevry.

Kontakpersoon: Dan Roodt inlig@praag.org

банюФильчаков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.