Ek is as die direkteur: tegniese dienste by Tswaing-munisipaliteit in Januarie 2005 aangestel. My funksie – en ek dink mnr. Breytenbach s’n ook – was/is een van bestuur . Ek wil nou nie hare kloof nie maar daar is ‘n redelike groot verskil tussen bestuur en funksioneel (moersleutel in die hand soos Mnr. Breytenbach tans) optree. Ek was in die gelukkige posisie om 3 afdelingsbestuurders te hê waarvan een presies dieselfde of dalk beter tegniese kwalifikasies as mnr. Breytenbach het.
Indien mnr. Breytenbach die nodige moeite doen, (as hy nie met die funksionele sy van die bedryf van die departement besig is nie) en die rekordstelsel nagaan, sal hy sien dat alles waarmee hy nou so besig is, reeds gedoen is. Aksieplanne is opgestel, vyfjaarbegrotings is ingedien, die waterdienste-ontwikkelingsplan is voltooi, verslae is aan die munisipaliteit, die provinsie, die distriksmunisipaliteit en die Ontwikkelingsbank van Suid-Afrika gestuur waarin almal attent gemaak is op die ramp waarop ons afstuur wat grootmaatdiensteverskaffing betref.
Nodeloos om te sê, was die enigste instansie wat gereageer het die Ontwikkelingsbank. Hulle entoesiasme is vinnig in die kiem gesmoor deur die DPLG. Die DPLG het onderneem om self die nodige te voorsien. Interne prosesse binne die munisipaliteit het gesorg dat my afdelingsbestuurders begin bedank het, een na die ander. Uiteindelik het ek self bedank want ek het gesien dat hierdie boot nie die oorkantste wal gaan bereik nie.
Geen instansie kan op beloftes voortbestaan nie. Ek vermoed mnr. Breytenbach sal eersdaags die realiteite in die gesig moet begin kyk. Ek het ‘n saak teen die munisipaliteit gebring vir konstruktiewe ontslag (wat basies beteken dat jou werkgewer dit vir jou onmoontlik maak om jou funksie te verrig) alhoewel ek bedank het, en die hof het in my guns beslis. Dit op sigself spreek boekdele.
Carin het genoem dat daar ‘n skamele 2% vir onderhoud in die begroting togestaan word. Vir die nuwe boekjaar is dit minder as 1%! Ek weet nie hoe mnr. Breytenbach voorsien om die wa deur die drif te trek nie. Gegewe die feit dat alle voertuie wrakke is, die waternetwerke dringend aandag vereis, die strate vol gate is en so meer.
Ek wil ook graag kommentaar lewer op my vrou se betrokkenheid as voorsitster by die Ottosdal-belastingbetalersunie. Net soos mnr. Breytenbach se raad waarvoor hy werk verkies word, is my vrou tydens ‘n openbare vergadering as voorsitster verkies. Demokrasie? Of is dit net in sekere gevalle – soos ek kan aanneem uit mnr Breytenbach se skrywe – aanvaarbaar?
Mnr. Breytenbach wil graag voorgee dat alle probleme wat tans ondervind word voor my deur gelê behoort te word, maar ek moet hom werklik gelukwens – hy is die eerste en enigste wat tot nou toe kon regkry dat Ottosdal vir tot vier dae aaneen sonder water kon wees. In my tyd was daar ook onderbrekings, maar slegs in gevalle waar daar waterpype gebars het en die inwoners vir die duur van die herstel van die breuk sonder water was.
Baie sterkte aan mnr Breytenbach, maar ook ‘n realiteitsgedagte – Moenie alles glo wat aan jou belowe word nie. Sou jy iets regkry, bedank SIBU en Delareyville en Ottosdal se belastingbetalersunies daarvoor. Skielik word daar regop gesit in provinsies en selfs die nasionale regering, en jammer om u seepbel te bars, maar dit is nie as gevolg van u briljantheid nie, maar bloot deur die “burgerlike ongehoorsaamheid” soos u dit self stel.
Ek vertrou die saak is nou afgehandel.
Lees ook die volgende artikels elders op die werf:
Verval van Sannieshof 'weens 10 jaar se wanbestuur'
Sannieshof-amptenaar antwoord op kritiek
Hartseer verhaal van Tswaing se Boerbokke
Tswaing – net nog 'n 'modelmunisipaliteit' onder ANC-bestuur
Sannieshoffers wen teen ANC-munisipaliteit in hof
Sannieshof se inwoners geïntimideer
Die NSA verdrink in sy eie riool