In Frankryk heers "baie groot waaksaamheid" teen aksies en verklarings uit Noord-Afrika, het die Franse minister van buitelandse sake se woordvoerder Eric Chevallier tydens 'n inligtingsessie vir die media gesê.
"Franse owerhede het hulle beslistheid om terreur te beveg herbevestig," het hy bygevoeg.
In Algerië het Moslemfundementaliste op die intenet bekend gemaak dat hulle gaan wraak neem. Die verklaring kon nie onafhanklik geverifieer word nie.
Sarkozy het onlangs gesê die boerka is nie welkom in Frankryk nie en sal vroue in gevangenes verander. Die Franse parlement het 'n kommissie aangestel om die kwessie te ondersoek wat daartoe kan lei dat die Moslemkledingstuk in die openbaar in Frankryk verbied word.
Human Rights Watch sê so 'n besluit sal kontraproduktief wees en 'n gesiene Britse Moslemorganisasie het Sarkozy se opmerkings as patroniserend en kwetsend beskryf.
Libanon se mees invloedryke Sjiïetise godsdiensleier het die Franse president gevra om sy gewraakte stelling te heroorweeg.
Die Al Kaida-verklaring uit Algerië het 'n beroep op volgelinge gedoen om op te tree "vir die eer van ons dogters en vroue" en het alle Moslems gevra "om te reageer op hierdie haat".