Afrikaans gaan uit die howe verdwyn

Deel op
deur JMT Labuschagne
Almal wat al skaak gespeel het, weet hoe dit werk: Jy skuif eers stil-stil jou stukke in plek voordat jy die finale skuif maak en jou opponent die nekslag toedien.Sulke stadige skuiwe van pionne sien ek tans in die ANC se planne vir die regswese. Voordat Afrikaners dit weet, gaan die ANC ons skaakmat om Engels as enigste voertaal in ons howe te aanvaar.

Twee onlangse voorvalle het my aan hierdie “onsigbare” strategie herinner. In die een het ’n swart advokaat in die Kaapse hooggeregshof daarop aangedring om sy kruisondervraging in Zoeloe te doen.

Op die oog af lyk dit of hy ’n slag vir veeltaligheid in ons land geslaan het, maar eintlik is die teendeel waar. Sy versoek was uit verset omdat die advokaat van die ander party in die saak sy ondervraging in Afrikaans gedoen het.

Ek het al telkens gesien dat swart prokureurs dié tegniek gebruik om hulle te verset teen die gebruik van Afrikaans in die howe. Die agenda agter dié optrede is om Afrikaners te dwing om ’n kompromie te tref.

Almal wat al litigasie gedoen het, weet dit is erg frustrerend om deur middel van ’n tolk kruisondervraging te moet doen. Die meeste mense sien nie daarvoor kans nie, met die gevolg dat Afrikaanse regslui maar liewers oorslaan na Engels om die gesukkel te vermy.

In die tweede voorval wat my laat dink het aan dié skaakspel met taal, het ek na ’n uitspraak in die hooggeregshof in Pretoria geluister. ’n Wit, Afrikaanse prokureur het voor ’n swart regter en ’n assessor verskyn oor die skrapping van ’n prokureur van die rol van prokureurs.

Die verrigtinge en die stukke was in Engels, soos maar deesdae die geval in Suid-Afrikaanse howe is. In ’n stadium het die prokureur versoek om ’n dokument aan die hof voor te lees en het om verskoning gevra dat dit in Afrikaans is.

Die regter het toe ’n lang toespraak afgesteek oor hoe hy hoop mense sal mekaar nou tegemoet kom in Suid-Afrika en ’n pragmatiese antwoord op die taalprobleem vind. Hy het ná die aandrang op die gebruik van moedertaal in die howe as “politiekery” verwys. Sy uitdruklike woorde was dat mense Engels in die howe moet gebruik om politiekery oor taal te oorkom.

Wat tans gebeur, is dat swart regslui eenvoudig nie Afrikaans in die howe gebruik nie – trouens, hulle maak dikwels beswaar teen ander se gebruik daarvan. Die enigste geval waar die gebruik van Afrikaans nie in die gedrang kom nie, is waar al die partye Afrikaans is.

Die realiteit is dat die meeste Afrikaanse prokureurs nie kans sien vir konfrontasie oor die gebruik van Afrikaans en vir die probleme met tolking nie, en dan volg hulle maar die maklike weg deur Engels te gebruik.

Daar is nog ’n probleem vir Afrikaans in die howe: dit is gemene saak dat die nuwe regters in die hooggeregshowe net nie meer regsartikels en ander regsbronne in Afrikaans lees nie. Die gevolg is dat dit vir ’n akademikus nie meer sin maak om in Afrikaans te skryf nie omdat dit nie neerslag sal vind in die regspraktyk nie.

En ongeag wat enigiemand dalk tot die teendeel beweer: ’n Skrywer skryf om gelees te word.

My wyse ou vader, ’n professor in die regte, het gedurende sy redelik kort leeftyd van 62 jaar ’n enorme uitset van regsnavorsing gehad. Hy het nougeset net in Afrikaans geskryf en sou alleen op spesiale versoek in Engels skryf.

Die oorgrote meerderheid van sy regsbronne was uit Nederland, Duitsland en die Skandinawiese lande. (Dit is terloops een enorme voordeel van Afrikaans: die Germaanse taal maak dit maklik om Duits aan te leer en Nederlands te verstaan – iets waarop die enkeltalige Engelse glad nie aanspraak kan maak nie.)

Die regstelsels op die Europese vasteland, veral dié van Nederland en Duitsland, is hoogs ontwikkeld en baie verlig in teenstelling met die regspraak in die Engelssprekende wêreld, wat maar nog op ’n baie agterlike vlak funksioneer. Só het sommige Amerikaanse state nog ’n verbod op sodomie tussen toestemmende volwassenes, en dit in die 21ste eeu!

My pa het altyd gesê – en dit maak goed sin – dat hy alles kan lees wat die Engelssprekende regsgeleerdes in Suid-Afrika kan lees plus hy kan Nederlands en Duits lees – wat hulle nie kan lees nie. Gevolglik is sy kenniswêreld soveel wyer as die Engelssprekende s’n.

As ons Afrikaans in die howe verloor, verloor ons hierdie voordeel.

Dit bring my by ’n verdere probleem vir die regspleging in Suid-Afrika: die verengelsing van ons regsdenke. Omdat so baie van die nuwe regstudente net Engels verstaan, gaan studeer hulle ook net aan Engelse universiteite oorsee. Die Germaanse, kontinentale wêreld bly vir hulle ’n vreemde wêreld, met die gevolg dat die Engelssprekende wêreld se idees maar net so oorgeneem word in ons land.

Die groot vraag is: Is die Engelssprekende wêreld dan so prysenswaardig dat ons dit net so wil oorneem?

Ek dink nie so nie. Die Britte is die gewelddadigste gemeenskap in Europa, terwyl die Amerikaners op daardie gebied sommer nommer een in die hele Westerse wêreld is. Hoekom sou ons hulle wil na-aap?

Die ANC se strategie is eenvoudig: Hy gaan die argument van “dit is bloot prakties” gebruik om ons howe te verengels. Dit gaan ’n “praktiese” kompromie wees om die reg eerder in Engels te bedryf as om aan al die ander landstale gelyke status te gee.

Pro-Afrikaanse aksies vanuit ons gemeenskap is meestal toegespits op ’n strategie wat eenvoudig nie kan werk nie: Hulle probeer polities-korrek wees deur kampvegters te wees vir die reg van alle amptelike landstale om in die howe gebruik te word. Maar dié strategie speel in die hande van die ANC, want die praktiese werklikheid is dat dit onmoontlik is om elf tale in die howe te gebruik. Dit sal net tot gevolg hê dat almal “uit praktiese oorwegings” Engels as die enigste hoftaal sal aanvaar.

Wat stel ek dan voor? Dat ons moet veg vir die status quo soos dit nog altyd bestaan het. Hou ons howe Afrikaans en Engels.

Ek kan onmiddellik die koor van verontwaardiging uit linkse kringe oor dié voorstel hoor opklink, want hoe durf ek immers Afrikaans erkenning in die howe wil gee maar nie die ander inheemse tale nie? Daar is egter goeie, rasionele argumente vir hierdie plan. In die eerste plek kan ’n mens nie byvoorbeeld Zoeloe en Afrikaans op dieselde voet plaas nie. Zoeloe het geen geskrewe regsbronne nie en dit was ook nog nooit ’n amptelike taal van ’n moderne staat nie.

Zoeloe-regspraak is beperk tot stamadministrasie. Uitsprake is egter nooit genotuleer nie en kan dus nie ’n betroubare bron vir regspleging wees nie.

Afrikaans daarenteen (via Nederlands) word sedert 1652 al in howe gebruik. Die Afrikaanse regspraak het ’n ryke tradisie wat teruggevoer kan word na Nederlandse skrywers soos Voet, Grotius en andere wat weer húl geskiedenis kan terugvoer na die Romeinse ryk. Die Romeine het ’n formidabele regstelsel gehad waarmee weinig ander regstelsels kan vergelyk.

Suid-Afrika se ander landstale (uitgesluit Engels) kan eenvoudig nie dieselfde aanspraak maak nie.

Daarbenewens verbind Afrikaans ons met die groot regstelsels van Nederland en Duitsland (soos wat ek hierbo verduidelik het), wat ’n ryke toevoeging tot die Suid-Afrikaanse regspraak kan wees. Die insette van sulke verligte, gesofistikeerde gemeenskappe kan net tot ons voordeel wees.

Die inheemse regstelsels, daarenteen, is onderontwikkeld, patriargaal en outoritêr. Dit sal nie tot voordeel van ontwikkeling in Suid-Afrika wees om byvoorbeeld lobola deel van ons reg te maak nie. Dit kan nie inpas in ons handves van menseregte nie.

Hierdie pleidooi vir die ou tweetaligheidsbedeling in ons howe gaan ongelukkig op dowe ore val. As ek my mag verstout om waarsêer te speel,voorspel ek dat Afrikaans binne die volgende jaar amptelik in ons howe afgeskaf gaan word.

Die proses kom al van 1994 af. Stil-stil word die stukke so geskuif sodat die skaakmat onafwendbaar word.

Dit het begin met die verengelsing van De Rebus – prokureurs landwyd se regstydskrif – en die onsuksesvolle veldtog van die Vereniging van Regslui vir Afrikaans om dit te keer.

Die amptelike nekslag vir Afrikaans as hoftaal sal binnekort toegedien word. En wat gaan die gewone Afrikaner daaromtrent doen? Niks.

video slotФильчаков прокурор харькова

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.