Die Reitz-dubbelstandaard

Deel op

Image

Reitz-koshuis

Met die aanstelling van die nuwe rektor by die Universiteit van die Vrystaat, prof. Jansen, kom die holrugperd weer te voorskyn! Volgens prof. Jansen moet sielkundiges die voorval weer van voor af oopkrap om die "nuwe tipe rassisme" te ondersoek wat klaarblyklik by Reitz voorgekom het. Dalk het dit tyd geword dat ons weer die voorval ondersoek en bietjie kyk wat regtig daar gebeur het.

Deel op

Die betrokke studente het ’n kort film gemaak, in opdrag van die koshuis se seniors vir hulle kultuuraand. Hierdie aande is vol vermaak met opvoerings en films oor sake wat die studente raak. In hierdie selfde tyd het die rektor, prof. Fourie, die konsep van "gedwonge integrasie" op die tafel gelê.

Om die inhoud van die film te verstaan, moet ons eers kyk na die omstandighede waarin die studente toe was. Ná menigte pleidooie van verskeie studente en organisasies was dit duidelik dat die bestuur van die universiteit nie enige aandag gegee het aan die studente se versoeke of voorstelle oor die nuwe beleid nie. Hierdie studente is skielik gekonfronteer met die realiteit dat hulle moontlik hulle kamers moes deel met iemand van ’n ander kultuur, taal en geloof. Dink jouself gou in wat gaan jou reaksie wees as jy vanaand jou slaapkamer en badkamer moet deel met iemand van ’n ander kultuur. Nie net verskil julle gewoontes en smaak nie, maar hierdie persoon wat nou skielik in die nag langs jou lê en slaap, word ook bo jou bevoordeel deur die beleid van "regstellende aksie".

Is dit so verregaande om te dink dat die gedagte hieraan die studente onstel het? Ek sou ook omgekrap wees as ek vanaand my "leefplek" moes deel met iemand wat dalk wêrelde van my verskil! Dit is in hierdie magtelose, verwarde en moedelose geestestoestand wat die studente verkeer het. Hulle breek egter nie die universiteit af nie, hulle spoeg en slaan nie die skoonmakers nie en hulle vloek en beledig nie swart studente nie. Hulle maak ’n humoristiese film oor hoe ’n moontlike ontgroening sou lyk as die beleid van gedwonge integrasie ingefaseer sou word.

Vir hulle film gebruik hulle die swart mense met wie hulle die beste verhouding het, naamlik die skoonmakers. Hulle slaan en vloek egter nie die skoonmakers soos wat mens van rassiste verwag nie, maar gebruik hulle slegs as akteurs of dan aktrises in hierdie film. Dit kom in die film na vore dat die skoonmakers die "speletjies" amper geniet. Dit is duidelik dat dit in goeie gees gedoen is en dat die studente se doelwit nooit was om die skoonmakers te verneder, te mishandel of leed aan te doen nie. Wat ook later uitgekom het, was dat die studente en die skoonmakers ’n goeie verhouding gehad het.

Op hierdie tydstip is dit nog alles vir al die betrokkenes ’n grap. Die volgende oomblik bars die bom!

As mens gaan kyk na hoe die gebeure daarna ontvou het, is dit duidelik dat die skuldiges in die Reitz-debakel nie die studente was nie, maar eerder die bestuur van die universiteit, die media se beheptheid met sensasie sowel as die oningeligte massas wat almal genot put uit sulke situasies. Baie min mense het gaan stilsit en die situasie mooi bestudeer, maar duisende "Christene" het van vroeg tot laat hierdie studente veroordeel.

Hierdie Afrikaner-Christene wat so vinnig was om te veroordeel, maar geen genade of simpatie kon bewys nie, nog minder vergifnis of naasteliefde, is maar net een van die voorbeelde van dubbele standaarde waarmee die voorval deurspek was!

Die media het die aantygings dat hulle sensasiejagters is, ontduik met die verskoning van vryheid van spraak, sowel as hulle plig om die waarheid die lig te laat sien. Snaaks genoeg dat hulle hierdie voorval soveel as moontlik lugtyd gegee het, terwyl die R3 miljoen se skade wat hoofsaaklik deur swart studente aangerig is stil-stil weggesteek is, sowel as die talle voorvalle van intimidasie, dreigemente en blatante rassistiese voorvalle van swart studente teenoor wit studente. Weereens was dit ’n dubbele standaard wat toegepas was. Die buitelandse media was geskok oor die film, maar het nooit die volle waarheid vertoon nie. Regverdig?

’n Aspek wat ook baie min aandag geniet het, is die reg op vryheid van spraak sowel as die reg van kunstenaars op hulle intellektuele eiendom. Met die maak van hierdie fiktiewe werk is daar mos logies intellektuele eiendom ter sprake. Die "vervaardigers" van hierdie film moes na regte vergoed word vir hierdie "werk". Hierdie film is op al wat media is, uitgesaai (wat duisende kykers wêreldwyd getrek het en kykersgetalle opgestoot het), maar was daar ooit toestemming van die persone wat die "regte" besit het? Dit is duidelik dat hierdie media-agente finansiële voordeel uit die sensasie-aspek getrek het! Die volgende gedagte wat hiermee saam gaan, is die feit dat die vrouens as akteurs opgetree het. Dit skep dus ’n presedent dat wanneer ons ’n film maak, met inhoud waarmee sommige mense nie saamstem nie, dan word ons as rassiste uitgebeeld! Hierdie film moet hanteer word soos enige ander film wat vervaardig is, en gesien word onder die reg op spraakvryheid.

Nou is die argument dat vryheid van spraak opgeskort word wanneer dit rassehaat aanblaas. As dit die geval is, dan staan die media en die bestuur van die universiteit weereens skuldig! Die sensasie wat die media geskep het rondom hierdie film het gelei tot rassehaat! Indien die universiteit die film gesien het in die konteks waarin dit vervaardig is en die media toegang tot die film geweier het, sou daar nie rassehaat gevolg het nie. Weereens word ’n gevaarlike presedent geskep. Dit beteken as iemand ’n opmerking in ’n privaat gesprek maak, kan die media dit buite konteks kommunikeer en dan is daardie individu skuldig aan die rassehaat wat volg. Dít, terwyl dit eintlik die media is wat die rassehaat veroorsaak!

Van al die dubbele standaarde wat toegepas is, is die bestuur van die UV egter die heel grootste sondebok. Die hele situasie kon ontlont word deur goeie bestuur, maar hierdie bestuurslede kon nie wag om saam met die res van die massas die betrokke studente te kruisig nie. Die een slag toe daardie studente leiding en hulp van die rektor moes kry, laat hy hulle in die steek en ’n paar weke later hardloop hy weg!

Dieselfde bestuur van die universiteit, wat hulle beleid van gedwonge integrasie regverdig deur dit ’n teken van versoening te noem, pas nou nie hulle eie beleid toe nie. Hierdie was die perfekte geleentheid om ’n pad te stap met hierdie studente en die Reitz-koshuis en hulle te probeer help om regtig te versoen deur ander kulture aan hulle voor te stel. Maar, nee! Die bestuur maak sommer die hele koshuis toe! Hoe pas dit in die versoeningsboodskap in? Die hele idee met integrasie is om studente soos hierdie te help om ander kulture beter te leer ken, maar die universiteit jaag eerder hierdie studente weg! Die presedent wat geskep word: offer jou vryheid van assosiasie op of waai! Nie een van die swart studente wat skuldig was aan die rassistiese aanmerkings, dreigemente of vandalisme is geskors nie. Die presedent: As jy swart is, kan jy maak wat jy wil; as jy wit is, moet jy fyn trap!

Swak bestuur, die media en die publiek se vinnige oordeel was die petrol op hierdie vuur en hierdie vuur het ’n paar jong mense se lewens verteer. Niemand het tyd gemaak om hulle te help nie; almal het tyd gehad om hulle te veroordeel!

Regverdig dit die film? Nee. Hierdie jong mense was in ’n simpel situasie en hulle het ’n dom ding gedoen. Na regte moes hulle gestraf word, die saak intern hanteer word en ’n pad met hulle gestap word. Dit wil al meer voorkom of daar ’n voorbeeld van hierdie studente gemaak is. Dit moet dien as ’n waarskuwing vir jong mense sodat hulle maar net slaafs sal inval by wat universiteitsbestuur kwyt raak. "Nee, julle mag nie ’n opinie hê nie anders skors ons julle!"

Net toe dit lyk of die hele Reitz-chaos tot ’n einde gekom het, verskyn prof. Jansen op die toneel. In sy uitsprake maak hy dit duidelik dat hy die voorval tot op die been gaan oopvlek. Wat wil hy hiermee bereik, behalwe om ou wonde weer oop te maak? In plaas van nuwe idees en nuwe planne, dring hy daarop aan dat ons weer terug moet gaan en die Reitz-storie oor en oor moet herleef. Hy praat van versoening maar weier om die voorval te vergeef, dit moet nog meer holrug gery word, selfs al was daardie jong manne nie eers rassisties nie! In hierdie geval moet hy, prof. Jansen, verantwoordelikheid aanvaar vir enige rassehaat wat weer uitbreek…

дизельные компрессорыФильчаков Харьков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.