Misdaad deur polisie neem met 72% toe

Deel op

Image

Pieter Groenewald

Kriminele klagtes teen polisielede het volgens die Onafhanklike Klagtedirektoraat (OKD) die afgelope vier jaar met 72% (71,7) toegeneem. Volgens die OKD was daar in 2005/2006 en 2006/2007 onderskeidelik 1 643 en 1 787 kriminele klagtes teen polisielede en in 2007/2008 en 2008/2009 boekjaar onderskeidelik 2 101 en 2 289. Dit sluit misdade in van moord, poging tot moord, verkragting, aanranding met die opset om ernstig te beseer, diefstal en korrupsie.

Deel op

“Dit is net klagtes wat by die OKD aangemeld is, maar daar kan baie meer wees. Die laaste jaar was die toename 9%. Dit dui daarop dat daar ‘n ernstige probleem is met die keuring en opleiding van polisielede. Hierdie lede is ook ‘n verleentheid vir die ander getroue en hardwerkende polisielede. Die syfers bevestig ook waarom lede van die publiek se vertroue in die Polisie afneem. Hierdie is ‘n skerp toename en die publiek se vertroue in die Polisie sal verder afneem. Duidelik is daar ‘n vrot kol in die Polisie wat dringend uitgesny moet word,” sê mnr. Pieter Groenewald (LP), hoofwoordvoerder van Polisie vir die Vryheidsfront Plus.

“Wat verder kommerwekkend is, is dat die OKD slegs 51% van die nuutste klagtes kon afhandel. Van die laaste jaar se 2 289 klagtes kon slegs 1 165 afgehandel word. Daar was egter 1 968 sake van die vorige jaar wat nog uitstaande is. Dit beteken 4 257 sake is nog nie eers afgehandel nie. Die OKD sal dringend versterk moet word met kundige personeel om die sake af te handel,” het Groenewald gesê.

“In die verlede het ek verskeie vrae hieroor in die parlement gevra, maar die vorige minister van Polisie, Charkles Nqakula, het geweier om die syfers bekend te maak. Die minister het toe gesê die inligting is nie geredelik beskikbaar nie en dit sal tydrowend wees om dit te bekom. Verder sal personeel ontplooi moet word om die inligting te bekom wat nadelig sal wees vir ander belangrike take van die Polisie. Toe reeds het ek gesê Nqakula het iets om weg te steek. Dit is nou duidelik hy het wel iets probeer wegsteek,” sê Groenewald.

pour chattopcargo

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.