Britte wil nuwe grondwet in Zim sien

Deel op
Britse premier, Gordon Brown, het na sy ontmoeting met Morgan Tsvangirai gesê 'n nuwe grondwet binne die volgende 18 maande en verkiesings wat daarop volg, is wat sy land graag sou wou siem in ruil vir hulp aan Zimbabwe.
 
Hy het daarmee te kenne gegee dat hervorming nodig is voordat grootskaalse beleggings in die land sal instroom.

Tsvangirai het egter gesê: “Ek is bewus van skeptici en weet dat die wêreld gretig is om te sien of daar vordering is." 

“Ongelukkig dink diegene in Brittanje dat terwyl hulle Mugabe nog sien, niks werklik verander het nie.”

Volgens Tsvangirai het Zimbabwe se inflasiekoers in die vier maande van koalisieregering van 500 miljard persent tot 3% gedaal.

Die Zimbabwiese premier skat daar is tot drie miljoen Zimbabwiese vlugtelinge in Suid-Afrika en hy wil so gou moontlik maatreëls met president Zuma bespreek om hulle terug te bring na hulle eie land.

'n Georkestreerde groepie Zimbawiërs het Tsvangirai die naweek by ’n byeenkoms in Londen uitgejou toe hy hulle huis toe genooi het. Hulle sê dis steeds te gevaarlik om terug te keer. 

Die uitgewekenes wil druk op Suid-Afrika plaas om vlugtelingstatus aan Zimbawiërs toe te ken.

Brittanje het gister aangekondig hy gaan ’n bykomende R67 miljoen aan Zimbabwe skenk, maar soos die VSA gaan hulle die skenkings hoofsaaklik deur nie-regeringsorganisasies kanaliseer. 

Altesame R53,6 miljoen moet vir kos gebruik word en R13,4 miljoen om skoolboeke te koop. Dit beteken dat Brittanje se begroting vir Zimbabwe vanjaar op R804 miljoen staan.

Tsvangirai het gesê dis makliker as wat hy verwag het om met Mugabe saam te werk. Hulle behoort al twee aan dieselfde stam, naamlik die Shona's.

Hy het gesê die BBC wat in Zimbabwe verbied is, sal dalk al volgende maand weer toegelaat word.

фото бани изнутриФильчаков Харьков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.