Godsdiens en politiek – ‘n Afrikanerdilemma

Deel op

Image

Soos ek reeds tevore gesê het, viind ek dat godsdiens en politiek geskei moet word. Selfs al glo mens dat die staat Christelik moet wees, bly die vraag nog: watter interpretasie van die Christelike geloof en watter kerkverband?

Deel op

In die vroeë dae van die Boererepublieke was daar konflikte oor godsdiens. Tydens die kort burgeroorlog in die Transvaal in die vroeë 1860s, het 'n mededinger van Kruger om die pos van kommandant-generaal, hom daarvan beskuldig dat hy die Gereformeerde Kerk (Doppers) die staatskerk van die ZAR wou maak. Op daardie stadium was die Hervormde Kerk die staatskerk. Die uiteinde van hierdie grappie was 'n "godsdiensoorlog-tussen-Afrikaners" wat by Potchefstroom die dood van omtrent 40 man gekos het.

In die 1983-grondwet uit die PW Botha-tydvak (wat in baie opsigte 'n beter en veel minder dubbelsinnige grondwet as dié van 1996 was), staan daar in die aanhef:

"In nederige erkentlikheid teenoor die Almagtige God, Beskikker oor die lotgevalle van volkere en nasies…", wat natuurlik nie die "Almagtige God" as hetsy Christelik, hetsy Islamities of wat ook al tipeer nie.

Enkele paragrawe later lui dit:

"Oortuig is van die noodsaaklikheid om saam te staan en om die volgende nasionale doelwitte na te streef:

Om Christelike waardes en beskaafde norme te handhaaf, met erkenning en beskerming van vryheid van geloof en aanbidding…"

Ook Paul Kruger was destyds ten gunste van geloofsvryheid en het in Johannesburg die Joodse sinagoge geopen met die kwinkslag: "Ek is hier om u te bekeer."

Ek meen dus dat "die rol van fundamentele Calvinistiese ideologieë in die Geskiedenis van die Afrikaner" so te sê nul is as dit by staatkunde kom. Afrikaners is lank voor die Hollanders sterk deur die Verligting en die Franse revolusie beïnvloed en het ook lank voor baie Europese nasies verkiesings gehou. Die kort periode onder die (Franse) Bataafse republiek in die Kaap het ook 'n blywende nalatenskap gehad wat myns insiens 'n bydraende oorsaak van die Groot Trek was.

Soos Jaap Steyn in sy stukkie oor Die piëtisme brei uit aandui, het Michiel Christian Vos, 'n gebore Kapenaar, egter die piëtisme van Nederland na Suid-Afrika gebring.

Hoewel Kruger self 'n mistiek godsdienstige man was, het hy deur sy onderwysbeleid en invoer van die meer verligte Hollanderonderwysers aan die einde van die negentiende eeu 'n tradisie gevestig wat van die piëtistiese en streng Calvinistiese afgewyk het.

Ek vermoed dat verskeie Afrikanerleiers in die twintigste eeu nie eintlik godsdienstig was nie. Hoewel pro-Brits in die tweede helfte van sy lewe, was Smuts steeds iewers nog 'n Afrikaner. Hy was 'n aanhanger van biologiese evolusie en waarskynlik 'n ateïs of naby daaraan.

Ook J.B.M. Hertzog verwys byna nooit na godsdienstige opvattings in sy toesprake nie en vermoedelik was hy insgelyks 'n vrydenkter of agnostikus, hoewel die openlike erkenning daarvan destyds natuurlik politieke selfmoord sou beteken het.

Verwoerd self is veel eerder gelei deur sosiologiese en antropologiese beginsels as deur Calvinisme. Ek vermoed dat F.W. de Klerk die mees godsdienstige Afrikanerleier van die twintigste eeu was – in 'n negatiewe sin. As konserwatiewe Dopper het hy fundamentalisties geglo dat God die Afrikaner sou beskerm, selfs al gee hy polities en militêr aan die ANC oor. Ons kan tans die rampspoedige gevolge van sy piëtisme sien en ervaar.

Die Protestantse lande van  Noord-Europa, waaronder veral Nederland en Swede, was van die ywerigste ondersteuners van die ANC en SAKP se radikalisme in Suid-Afrika en het ons inderdaad in die rug gesteek. Blykbaar was daar kollektebussies voor in elke Nederlandse kerk waar gemeentelede geld vir die ANC kon skenk, wat natuurlik in Suid-Afrika vir stedelike terreur en aanvalle op burgerlikes gebruik is.

Die vraag kan ook gevra word of die soort gees van "dis sonde om te dans" wat tot onlangs aan die Potchefstroomse universiteit vir C.H.O. geheers het, nie eerder te wyte aan fundamentalistiese invloed vanuit Nederland was as wat dit 'n uitdrukking van egte Afrikanerkonserwatisme was nie.

Die Afrikaner se akademiese teologie is dermate deur die Duitse skool beïnvloed dat heelwat sekulêre beskouings vanuit Kant en die Duitse verligting ook van ons kansels af gepredik is. Tans heers daar natuurlik 'n nuwe piëtisme in die vorm van die veramerikanisering van baie kerke, wat die oppervlakkige en emosionele Amerikaanse baptisme navolg, pleks van ons heldere, intellektualistiese en verligte vorm van Calvinisme soos ons dit oor die afgelope paar eeue ontwikkel het.

Die soort verskynsels soos Angus Buchan is myns insiens uit en uit te danke aan dié toenemende Amerikaanse invloed onder Afrikaners, wat mense apolities en in die ban van 'n mistieke, private godsdiensbelewing laat.

люстрыданильченко юрій броніславович компромат

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.