Sy onderwerp was die huidige stand van betrekkinge tussen Amerika en Suid-Afrika. Suid-Afrika se ambassadeur in Washington, Welile Nhlapo, en Moeletsi Mbeki, sakeman en broer van oud-president Mbeki, was onder die paneellede.
Suid-Afrika moet ook nie wegskram van hulle verantwoordelikheid as leier nie, maar moet die uitdaging aanvaar. Carson het Donderdag gesê dit sal stabiliteit en langtermyn-groei op die vasteland verseker. Hy het by die Buro vir Afrika-aangeleenthede in die Woodrow Wilson-sentrum in Washington gepraat.
Carson het die VSA se steun vir die bewind van president Zuma benadruk. “Suid-Afrika staan saam met ons as ’n baken van veelrassigheid, veelpartydemokrasie, ekonomiese vryemarkbeginsels, en as ’n verdediger van menseregte,” het hy in sy toespraak gesê.
“Amerika is optimisties oor die koers wat Suid-Afrika ingeslaan het. Die Amerikaanse boodskap aan Suid-Afrika is duidelik en positief: ‘Ons is ’n toegewyde vennoot van Suid-Afrika. Ons erken die belangrikheid van ons groeiende bilaterale en handelsbetrekkinge.’ ”
Carson het ook verwys na samewerking tussen Amerika en Suid-Afrika op die terrein van “kernaangeleenthede”. ’n Memorandum van verstandhouding vir kernnavorsing en -ontwikkeling is in die finale fase van hersiening en behoort eersdaags onderteken te word.
Carson is van mening dat Donald Gips se benoeming as volgende Amerikaanse ambassadeur in Suid-Afrika, waardevolle politieke vaardighede en noue bande met Obama na Afrika sal bring, indien dit bekragtig word.
Amerika is die derde grootste invoerder van Suid-Afrikaanse goedere, en meer as 600 Amerikaanse ondernemings doen sake in Suid-Afrika.