Apartheid, veral in sy internasionale, stereotipiese en mitiese gedaante, is 'n te nuttige begrip om in 1994 te gesterf het. Die apartheidsindustrie – in die politiek, die akademie en op ander terreine – begin nou eers momentum kry.
Een van die hoofredes hiervoor is Suid-Afrika se identiteitloosheid. Ons kyk na Amerikaanse programme op TV, ry Duitse of Japannese motors, dra Chinese klere en praat Britse Engels met 'n verskeidenheid Bantoe-, Indiër-, kleurling- en Boere-aksente.
Die enigste volksgroep in die land met 'n gedefinieerde sosiale en kulturele identiteit is die Afrikaner; vandaar die vyandigheid jeens Afrikaners en Afrikaans, want die identiteitlose "Suid-Afrikaners" bejeën ons met nyd en jaloesie omdat ons op 'n werklik inheemse en plaaslike identiteit kan aanspraak maak.
Solank as wat Suid-Afrikaners identiteitloos bly, neokoloniale onderdane van die Anglo-Amerikaanse ryk wat hul gehoor met plastiekbeuels genaamde "vuvuzelas" by sokkerwedstryde moet beskadig om "Suid-Afrikaans" te voel, solank sal daar 'n behoefte aan eindelose ontledings en dermuitrygery oor apartheid wees.
Soos die Franse joernalis Stephen Smith in sy boek Negrologie geskryf het, word die identiteit van postkoloniale Afrikastate uit hul stryd en opposisie teen die voorafgaande koloniale kultuur gevorm. So is dit ook in Suid-Afrika, waar die sogenaamde "stryd teen apartheid" (wat rojaal vanuit Brittanje en Swede befonds is) die identiteit van die nuwe Suid-Afrika bepaal het.
Vir die meeste mense is dit moontlik 'n filosofiese begrip wat nie maklik verstaanbaar is nie, maar Suid-Afrika beskik slegs oor 'n negatiewe soort anti-identiteit. Die niet van die Suid-Afrikaanse inbors word gedeeltelik deur anti-apartheid gevul, maar die vakuum wat oorbly is soos 'n swart gat wat alles verterend na hom toe aantrek.
Vandaar die durende behoefte aan wat die Australiese immigranteprofessor "geestelike apartheid" noem. Brit, Bantoe, kleurling, Indiër en verengelsde Boer ly almal aan geestelike apartheid en het behandeling nodig.
Suid-Afrikaners gaan nog vir jare, dekades en moontlik eeue hul liefdehaatverhouding met apartheid in al sy variante bely.
Afrikaners sal afstand oor hierdie gedruis moet kry en dit met ironie en humor moet begin beskou, soos die absurde teaterspel wat dit in werklikheid is.
Die keersy van die neulende nostalgie oor apartheid is egter 'n vorm van verdrukking en rassisme wat veel erger as historiese apartheid is. Mense noem dit "transformasie".