
Mohamed El Baradei, hoof van die VN se atoomkragwaghondagentskap IAEA, het tydens 'n onderhoud met die BBC Dinsdag en Woensdag gesê dat lande wat 'n atoombom het, anders behandel word as lande daarsonder. Hy het die voorbeelde van Noord-Korea en Irak gebruik.
Noord-Korea word uitgenooi vir samesprekinge, terwyl Irak, omdat hulle nie die bom gehad het nie, "gepulveriseer" is, het hy gesê. El Baradei het ook gesê Iran se leiers stel beslis in kernwapens belang om 'n boodskap aan hulle bure te stuur wat lui: 'Moenie met ons sukkel nie'.
Kernwapentegnologie, het hy gesê, "is die pad na erkenning, om mag en prestige te kry".
"Dit is ook 'n versekeringspolis teen wat hulle in die verlede gehoor het van regeringsverandering." El Baradei het verwys na die Amerikaners se gunstelingterm om bewindsoorname te bewerkstellig, naamlik 'regime change' wat die leiers in Iran onrustig stem.
Iran het openlik erken dat hulle hulle program om uraan te verryk uitbrei, en dié program word beskou as die voorloper vir die bou van 'n atoombom. Iran ontken egter dat hulle 'n atoombom wil bou en hou vol dat hulle nie uraan verryk vir wapendoeleindes nie.
Israel het met die bekendmaking van die uitslag van die verkiesing in Iran gesê die tyd vir geduldige diplomasie is verby en dat Iran hard geslaan moet word.
Die omstredenheid wat die uitslag betref en die betogings in Teheran vanweë beweerde ongerymdhede by die stembus, meen kenners, gaan nie verander aan Iran se sug na 'n atoomwapen nie.