President Barack Obama het ná ’n spitsberaad in Washington met president Lee Myung-bak van Suid-Korea gesê ’n kernbewapende Noord-Korea hou ’n ernstige bedreiging vir die wêreld in.
Hy het gesê die nuwe VN-sanksies teen Noord-Korea wat ingestel is nadat die land op 25 Mei ’n kerntoets gedoen het, sal met mening afgedwing word.
Intussen het Russiese en Chinese leiers wat tans in Moskou vergader, ’n beroep gedoen dat die sespartysamesprekinge oor Noord-Korea se kernprogram hervat moet word.
President Hu Jintao van China en sy Russiese eweknie Dmitri Medwedev het in ’n gesamentlike verklaring ná ’n ontmoeting hul ernstige kommer uitgespreek oor die bedreiging wat Noord-Korea inhou.
Obama het op sy beurt in Washington gesê: “In die lig van Noord-Korea se volgehoue en strydlustige dreigemente teenoor buurlande, dink ek nie daar is enige twyfel nie dat dit ’n destabiliserende situasie is wat ’n daadwerklike bedreiging inhou – nie net vir Amerika nie, maar ook vir wêreldveiligheid.”
Hy het onderneem om ’n einde te maak aan die siklus van gebeure wat Noord-Korea toelaat om ’n kernkrisis te bewerkstellig, net om daarna toegewings in die vorm van byvoorbeeld voedsel en brandstof te bekom in ruil daarvoor dat hy die kernkrisis afweer – en daarna weer die krisis van nuuts af op die spits dryf.
“Dit is ’n patroon wat 'n gewoonte raak,” het Obama gesê. “Ons gaan dit beëindig.”