Tswaing – net nog ‘n ‘modelmunisipaliteit’ onder ANC-bestuur

Deel op

Die Tswaing-munisipaliteit is besig om al hoe meer nuuswaardig te raak, volgens inwoners. 'n Dispuut tussen die inwoners van al drie dorpe in sy distrik (Delareyville, Ottosdal, Sannieshof, 4 woongebiede en 26 statte) en die munisipaliteit is reeds aanhangig gemaak as gevolg van swak dienslewering en die totale agteruitgang van die gebied oor die afgelope 5 jaar.

Deel op

Tswaing-munisipaliteit is tans besig met verskeie hofsake en verskeie eise van sakeondernemings wat nie vir gelewerde dienste betaal is nie.

Die tegniese hoof van die munisipaliteit, mnr Hennie Breytenbach, het op 23 Mei ook 'n saak van betreding en opsetlike saakbeskadiging teen die voorsitster van SIBU (Sannieshof-belastingbetalersunie), mev Carin Visser, gemaak. Die saak is uitgegooi deur die direkteur van staatsaanklaers van Noordwes op grond daarvan dat geen betreding en geen kwaadwillige beskadiging plaasgevind het nie aangesien mev Visser met 'n rehabilitasieproses van die rioolwerke besig was. Die rioolwerke van Sannieshof het vanaf 1999 nog nooit volgens die ingenieursplanne gewerk nie, omdat die kabel en pomp wat die rioolwater moes wegpomp nog nooit geïnstalleer is nie.

Volgens mev Visser is "die pot nou besig om oor te kook".

Werknemers van Tswaing het die afgelope week sensitiewe inligting omtrent bedrog en korrupsie openbaar gemaak. Tswaing gebruik 'n bankrekening by Standardbank in die naam van 'n privaatpersoon waarin hulle geld onregmatig inbetaal. Hierdie geld word verkry van rekenings wat ingestuur word van sogenaamde diensverskaffers wat namens Tswaing sekere roetinewerk verrig. Die rekenings word dan in die rekeningafdeling ge-"fix" en verdubbel of verdriedubbel. Die sogenaamde diensverskaffer word dan net 'n gedeelte van sy rekening betaal en die res gaan na die Standardbankrekening.

Al die lede van die uitvoerende komitee maak van die fondse in hierdie rekening gebruik. Hierdie rekening word ook gebruik as "slice" of omkoopgeld waarmee hulle sensitiewe sake beheer.

Personeel lede uit Tswaing se hoofkantoor, wie se identiteit ter wille van hul persoonlike veiligheid nie bekend gemaak mag word nie, bevestig dat burgemeester Manketsi Tlhape en die munisipale bestuurder amper nooit op kantoor is nie en selde vir afsprake beskikbaar is. Die werknemer sê dat hy/sy nie meer weet wat om te sê wanneer afsprake gemaak word en die persone vir die afsprake opdaag en die burgemeester en munisipale bestuurder nie in die kantoor of in die dorp is nie.

Daar is geen deursigtigheid by projekte of tenders nie. Die landbougronde van Tswaing word onderlangs geskik en verhuur sonder dat daar ooit enige tenderprosedure gevolg word. Projekte wat onlangs geloods is, is die aankoop van beeste vir 'n lanbou-opheffingsplan. Daar is feitlik geen beeste meer oor nie en niemand weet wat van die beeste geword het nie.

Op 'n ander plaas is "opkomende boere" van boerbokke voorsien. Die DBV is onlangs in kennis gestel dat die bokke oor naweke in 'n stoor sonder enige kos of water toegemaak word en eers weer Maandae oopgemaak word. Van die ooie het nou begin aborteer.

Daar bestaan verder 'n projek met die naam "Zambië". Dit word deur die burgemeestersfonds gefinansier. Net buitekant Delareyville is groentetonnels opgesit wat nooit enige produksie opgelewer het nie en met die tyd deur die wind en weer verwoes is. Daar was altyd 'n trekker en grondbewerkingstoerusting te sien. Dié toerusting het intussen verdwyn. Maar – uit hierdie fonds ontvang 'n sekere mnr Banda maandeliks 'n baie groot salaris. Mnr Banda werk nie vir die munisipaliteit nie, maar besit verskeie busse en taxi's. Hierdie projek het dit ook moontlik gemaak dat die burgemeester verlede jaar 'n plaas kon aankoop.

Kontrakte rondom die onteiende gronde in die gebied spesifiseer dat die munisipale bestuurder as opsigter daaroor aangestel word. Hoewel dieselfde kontrakte bepaal dat geen munisipale amptenaar finansiële voordeel uit die grond mag verkry nie, is die munisipale bestuurder, mnr Legoete, die burgemeester, die streeksburgemeester en 'n paar raadslede die eienaars van 'n gedeelte van die plaas Dwaalkraal en het die "opkomende boere" wat die gronde moes ontvang om ekonomies te kom boer veel kleiner gronde ontvang. Die oorspronklike woonhuis op Dwaalkraal is deur die burgemeester opgeraap om as haar ampswoning te dien of 'n gastehuis van te maak volgens die inligting wat van een van die bronne in die munisipaliteit verkry is.

Tswaing besit verder die Henk Joubert-wildsplaas by Delareyville. Tans word daar sonder permitte en die toelaatbare advertensieprosedure gejag en word daar geen vervoerpermitte vir karkasse voorsien nie. 'n Jagter van 'n bekende jagtersvereniging het 'n verslag ingedien waarin sy grootste kommer was dat gelde ontvang word sonder die uitreiking van enige wettige kwitansie deur Tswaing-munisipaliteit. Mnr Hennie Breytenbach en mnr Boek Pelser is die verantwoordelike persone wat hierna omsien.

Die stadsaal se koelkamer en kombuis word gebruik om van die karkasse heen te neem. Met die neem van die foto's was die totaal onhigiëniese toestande in die plek duidelik waarneembaar. Karkasse word nie opgehang nie, maar op mekaar gestapel. Waterbokke, wat kliere in hulle bene het, moet opgehang word anders skei die kliere 'n stof af wat die vleis onbruikbaar maak.

Die rioolpompstasie by die Delareyville-hospitaal is buite werking. Mnr Breytenbach is ten volle bewus hiervan. Die riool word nou met vragmotors geneem en gestort in die soutpanne by die wildsplaas en by die stormwateraflope na die soutpan waar duisende flaminke broei.

Die departement Waterwese het in Junie 2008 al vir mnre Legoete en Breytenbach opdrag gegee dat die rioolstorting in die Hartsrivier gestaak moet word en dat die rioolplase funksioneel bestuur moet word. Daarvan het niks gekom nie.

casinoАлександр Фильчаков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.