Dié aanleg wek kommer by kenners en daar is gerugte dat Benjamin Netanyahu en sy konserwatiewe regering reeds besluit het om Iran aan te val. Volgens die Israelse koerant Haaretz gee die premier die VSA tot die einde van die jaar om 'n onderhandelde skikking te bereik. Indien Amerika nie suksesvol is nie gaan Israel glo sonder Washington se goedkeuring optree.
Mohammed el Baradei, hoof van die IAEA, waarsku dat só 'n aanval katastrofies vir die magsbalans in die Midde-Ooste sal wees en militêre kenners meen dit is reeds onmoontlik om Iran se kernprogram uit te wis. 'n Aanval sal die Iranese eenvoudig meer vasberade maak om 'n kernbom te bou en die kernprogram is reeds só uitgebrei dat een aanval dit nie sal omkeer nie.
Westerse moondhede klou aan die skrale hoop dat Ahmadinejad Vrydag uitgestem sal word, maar die verskille tussen die vier kandidate oor die kernkwessie, is nietig.
Ironies genoeg is Iran, wat deur vele in die VSA as die grootste vyand beskou word, die mees pro-Westerse land, met die uitsondering van Israel, in die Midde-Ooste. Dié houding staan bekend as die Persiese paradoks.
Die verkiesingkwessies konsentreer hoofsaaklik op die ekonomie en 'n debat oor moraliteit, en nie op 'n moontlike kernoorlog nie. Die regse kandidaat, Mohsen Rezaei, 54, eerydse bevelvoerder van die Rewolusionêre Wag, is eerder daar om die dienende president se persoonlikheidsfoute te korrigeer, naamlik onvoorspelbaarheid en hardkoppigheid en hom op koers te hou.
Mehdi Karrubi, 71, nog 'n kandidaat en 'n godsdienstige leraar is 'n ander hervormer wat Westerse liberalisme voorstaan. Maar Mousavi, 'n vorige eerste minister, staan volgens ingeligtes die beste kans om Ahmadinejad, te vervang. Sy besuinigingsmaatreëls van 20 jaar gelede word postief deur ouer Iranese kiesers bejeën, alhoewel die toename in arrestasies en onderdrukking onder sy beheer, nie as so rooskleurig gesien word nie.
Hy is meer gesofistikeerd as Ahmadinejad en sal waarskynlik nie na 'n geheimsinnige "lig" verwys soos die president tydens sy toespraak in New York in die Algemene Vergadering-sitting van die VN in 2005 tot almal se verleentheid gedoen nie.
Die voordeel wat Mousavi het, is dat hy die polisie beheer en dus onbelemmerd geskenke kan uitdeel op sy veldtog. Sy gehoor ontvang glo tonne aartappels vir hul moeite om na hom te kom luister.