Blade Nzimande se oerkommunistiese logika

Deel op

Die minister van hoër onderwys, kameraad dr. Blade Nzimande, se aanval op universiteite wat nog nie "getransformeerd" genoeg is nie, spreek van 'n oerkommunistiese logika.

Deel op

Binne die liberale demokrasie, asook alle moderne samelewings, word daar aanvaar dat individue, asook groepe, self kan besluit oor die opvoeding van hul kinders en mag hulle ook op moedertaalonderrig aandring.

Trouens, die laaste keer toe moedertaalonderrig op skool en op universiteit in ons land bevraagteken is, was in die veertigerjare van die vorige eeu toe pro-Britse Sappe onder genl. Smuts die destydse Afrikaanse skole en universiteite wou verengels.

Op daardie stadium was die tweede wêreldoorlog nog aan die gang en Josef Stalin aan bewind in die ou Sowjetunie. 'n Mens moet regtig sestig of sewentig jaar in die geskiedenis teruggaan om ander voorbeelde van Nzimande se oerkommunistiese denke te vind.

Nie net wil Nzimande hê dat Stellenbosch en ander Afrikaanse universiteite nie meer op taalregte moet aandring en Engels, asook rasverteenwoordigend moet raak nie, maar hy wil ook sien dat die inhoud van "die kurrikulum" die ideologiese oogmerke en waardes van die regerende party en veral sy party, die SAKP, moet weerspieël.

Aan die universiteit van Stellenbosch word studente wat in sekere departemente aandring op hul Afrikaanse taalregte – wat kwansuis deur die grondwet gewaarborg word – geviktimiseer. By al die universiteite in Suid-Afrika word rassekwotas in sommmige studierigtings toegepas waardeur daar teen individuele blanke studente op grond van ras gediskrimineer word. Tydens die Reitzhuisdebakel aan die universiteit van die Vrystaat is blanke meisies deur swart studente met verkragting gedreig, maar hieroor rep geen komitee op hoër onderwys 'n woord nie.

Soos dr. Pieter Mulder vandag laat blyk het, is die bestaan van swart-teen-wit rassisme in Suid-Afrika 'n feit, net soos taaldiskriminasie teen die Afrikaanstalige studente.

Slegs enkelmediumuniversiteite onder Afrikanerbeheer sal uiteindelik die probleem oplos, soos ons al tevore gesê het.

Intussen behoort president Zuma 'n kommissie van ondersoek te benoem – wat uit die geledere van Afrikanerorganisasies aangewys behoort te word – om die voorkoms van taaldiskriminasie en swart-teen-wit rassisme op kampusse te ondersoek. Slegs dan sal ons sinvol oor rassisme en diskriminasie op kampusse kan praat.

Onderliggend aan die begrip "transformasie" was egter nog altyd die gedagte van Marxistiese revolusie wat nie op grond van klas nie, maar op grond van ras, in Suid-Afrika moet plaasvind.

Die voordeel van Nzimande se uitgesprokenheid is dat hy transformasie in al sy aakligheid onthul, as 'n voortsetting van die totalitêre staatsgeweld van die twintigste eeu waardeur gemeenskappe en volkere se vryhede verwoes is. In totaal het 100 miljoen mense weens kommunisme gesterf.

Selfs die Engelstalige universiteite in Suid-Afrika, wat oor die afgelope dekades deur linkse en Marxistiese denke in die geesteswetenskappe gekenmerk is, moet begin verlang na die akademiese vryheid wat hulle onder apartheid geniet het. Toe het geen minister gewaag om direk aan universiteite te begin voorskryf nie.

Universitêre outonomie en akademiese vryheid is duidelik begrippe wat nie in kameraad Blade se oerkommunistiese verstand bestaan nie.

воронеж мебельлобановский класс

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.