Kommunis Nzimande weerspreek Zuma oor Afrikaanse universiteite

Deel op

Image

Blade Nzimande

Die kommunistiese minister van höer opvoeding en opleiding, Blade Nzimande, het so pas sterk standpunt ingeneem vir versnelde rassetransformasie aan SA universiteite en hom insgelyks uitgespreek teen die gebruik van Afrikaans om "studente uit te sluit". Nzimande se hardvogtige standpunt oor transformasie en die voorrang van Engels weerspreek president Zuma se toenadering van die afgelope twee of drie jaar teenoor Afrikaners.

Deel op

Nzimande het sy "erge onsteltenis" oor die graad van rassisme en ander diskriminasie in hoëronderwysinstellings uitgespreek. Hy het die Universiteit van Stellenbosch (US) gedreig dat "inmenging van buite" sal plaasvind indien transformasie en Engels nie vinnig genoeg ingevoer word nie en die Vrystaatse universiteit gekritiseer as die "mees rassistiese" kampus in die land.

 Nzimande het die verslag en bevindings van die ministeriële komitee oor transformasie en maatskaplike samehorigheid en die uitskakeling van diskriminasie in openbare hoër opvoedkundige instellings aanvaar, het Nzimande gesê.

 Voortaan sal 'n moniterings- en toesigliggaam ingestel word om die werk van die raad op hoër onderwys aan te vul en om die transformasie-uitdagings aan te spreek wat deur die verslag uitgewys is.

 Die toesigliggaam sal in die hoëropvoeding- en opleidingsdepartement gevestig word en besonderhede rondom die samestelling, struktuur en opdrag daarvan sal in die normale gang bekendgemaak word.

 "Ons beskou dit as 'n kwessie wat prioriteit geniet," het Nimande gesê.

 Die verslag beweer dat daar steeds gevalle van diskriminasie aan universiteite bestaan.

 "Terwyl die verslag instellings gelukwens met inisiatiewe om te verander, verklaar die verslag ongelukkig dat diskriminasie, veral wat rassisme en seksisme betref, steeds algemeen in ons instellings is," het die minister, wat ook leier van die Kommunistiese party is, gesê.

 Die verslag beweer verder dat daar 'n teenstrydigheid bestaan tussen institusionele maatreëls en die werklike ervaring van personeel en studente, wat aandui dat die goeie bedoelings van instellings nie ten volle ervaar word nie.

 Die komitee het bevind dat die stelsel reeds 'n omvattende reeks maatreëls ingestel het om rassetransformasie te bevorder. Dit geld veral rassekwotas by die aanstelling van personeel, oftewel, "diensbillikheid".

 Die komitee het tot die gevolgtrekking gekom dat, in regs- en beleidsterme, die stelsel van hoër opvoeding regeringsbeleid nakom.

 Maar daar bestaan steeds aspekte van die stelsel wat aandag vereis.

 Volgens Nzimande, "…kan daar geen twyfel wees dat beduidende beleidsontwikkeling ten gunste van rassetransformasie plaasgevind het nie; die volgende belangrike stap is om daardie beleid toe te pas."

 Hy het reeds aan die voorsitters van universiteitsrade geskryf om hulle aan hul fidusiêre verantwoordelikheid teenoor hul instellings en die hoëropvoedingstelsel te herinner. Hy het hulle ook gevra om die verslag te oorweeg en daarop te reageer.

 Universiteitsrade en rektore is gevra om die instelling van meganismes te oorweeg om die graad van transformasie op hul kampusse te monitor en te evalueer.

 Verder is die verslag na die raad op hoër onderwys verwys vir advies oor watter bykomende maatreëls oorweeg kan word om meer ingrypende transformasie en maatskaplike samehorigheid in die instellings en stelsel teweeg te bring.

 Dit sluit 'n "transformasie-ooreenkoms" tussen die instellings en die departement in.

 "Ons kan dié dinge nie aan die kans oorlaat nie," het Nzimande gesê.

 Hulle behoort ook te oorweeg om rektore vir transformasie verantwoordelik te hou en dat dit in hul prestasiebestuursooreenkomste ingesluit word.

 Die ideologiese inhoud van studieprogramme en die curriculum behoort ook in ag geneem te word om tot die sosialisering van studente in terme van grondwetlike waardes en breër deelname aan die samelewing by te dra.

 Nzimande vra dat voorstelle rondom studentebehoeftes en die daarstelling van 'n vierjaargraad aan die RHO vir advies voorgelê word, soos wat voorstelle oor die toepassing van die taalbeleid voorgelê is, het Nzimande gesê.

99spravokОлександр Васильович Фільчаков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.