Marxisme en ‘n Afrikaanse Indentiteit

ImageOnlangs lees ek in die aanlyn-Amerikaanse tydskrif “Red Country”(*) ʼn artikel oor Marxisme en die verkiesing van Obama as president. Die artikel is een in ʼn reeks artikels in Westerse tydskrifte wat opnuut na Marx kyk, en wat die huidige politieke en ekonomiese omgewing in terme van Marx se idees ontleed.

Dit is deel van ʼn herlewing van Marx se idees in die Westerse pers en word enersyds veroorsaak deur die ekonomiese insinking, en andersyds deur Marx se volgehoue invloed in Westerse intellektuele kringe. Marx is deesdae springlewendig, en sy nalatenskap is nie net beperk tot Kuba en Noord-Korea nie. Dit was nog altyd hoogmode om Marx aan te haal, of om Marx se invloed in literatuur te ontleed, of om politiek in “Marxistiese dialektiek” te bedryf.

Elders word daar Marx se idees in universiteite gedoseer, terwyl sy invloed op Westerse regerings na die val van Wallstraat nie gering geskat moet word nie. Marx het steeds baie getroue volgelinge, wat bereid is om baie op te offer en baie te doen om hulle meester se idees te versprei of selfs af te dwing. In Suid-Afrika verskyn Marx in die vorm van die SAKP en mense soos Jeremy Cronin, wie se opstelle en opinies dikwels op Politicsweb te lese is. Met die verkiesing van Zuma as president het Marxiste nou direk toegang tot die hoogste vlakke van die Suid-Afrikaanse regering.

Die apartheidsregering het, danksy 'n verbod, Marx se invloed uit Suid-Afrika probeer hou, met die gevolg dat ‘n hele geslag Afrikaners naïef daaroor is. In nabetragting glo ek dat dit ‘n fatale fout was – die resultaat is dat ‘n Marxistiesgeinspireerde idee of houding ‘n Afrikaner oor die kop kan slaan, en hy of sy sal dit nie eers weet nie.

Marxisme is in wese, net soos Kapitalisme, of Sosialisme, primêr ʼn ideologie wat menslike ekonomiese aktiwiteite en verdeling van bates in terme van ʼn morele verwysingsraamwerk beskryf en verdedig. Dit is ook ʼn utopiese ideologie in die sin dat dit voorgee dat perfekte samelewings geskep kan word.  

Marx het sy idees in ‘n reeks van 3 volumes met titel Das Kapital opgesom. Die eerste is in 1867 gepubliseer en die laaste in 1895, na sy dood. ‘n Vierde volume gebaseer op sy notas is later deur Progress in (Kommunistiese) Moskou gepubliseer. Die publikasie van Das Kapitaal het verreikende gevolge gehad, en uiteindelik is duisende referate, boeke en publikasies geskryf oor die ekonomiese en sosiale gevolge van ‘n Marxistiese rewolusie. Leiers soos Lenin en later Mao en Castro het dan ook woord by daad gevoed, en Marxistiese state geskep, dikwels oor die lyke van duisende teestanders.  

Marx se idees het ook Marxistiese ontledings oor literatuur en kuns, en oor sielkunde, geïnspireer, en het ook derduisende mense in die Gulag na hulle dood gestuur. Dit het die wêreld gedurende die Koue Oorlog tot op die rand van ʼn kernuitwissing gebring. Die gevolge was so verreikend dat dit vir my onmoontlik is om in enkele bladsye volledig kommentaar te lewer oor al die fasette en gevolge van Marx se idees. Wat egter duidelik is, is dat Marx ‘n prominente intellektuele en politieke invloed op die 20ste eeu gehad het, en dat ons dalk nog nie die laaste van die bebaarde oom se nalatenskap gehoor het nie.

ʼn Russiese wetenskaplike wat deesdae in die Weste leef het my eenkeer vertel dat Marxistiese indoktrinasie in die Sowjet-Unie reeds in laerskole begin het, en dat dit tot op universiteitsvlak voortgeduur het. Die indoktrinasie was op sekere aksiomas of aannames gebaseer, en twee van die belangrikste aannames is (1) dat daar geen universele waarhede is nie, en (2) dat mense hulle identiteit in hulle ekonomiese klas en ervaring ontdek. Die basiese ekonomiese argument in Marxisme is juis dat die werkersklas (die proletariaat) deur die heersersklas (die bourgeoisie) uitgebuit word, en derhalwe dat beide die proletariaat en die bourgeoisie se identiteit primêr in hulle ekonomiese klas gegrond is. Daar is nog ander aannames, maar die twee is myns insiens die belangrikste.  

Mens kan baie meer oor (1) hierbo skryf en die bestaan, aldan nie, van universele waarhede of kodes, is eeue lank druk deur filosowe ondersoek. Dit beteken byvoorbeeld dat ateïsme ʼn natuurlike aanname in Marxisme is, en dat daar geen universele morele kodes kan wees nie. Dit is verder onderliggend aan moderne dekonstruksie in literatuur, asook aandadig in die val van die moderne Christelike Kerk (wat juis aandring dat daar ʼn universele God-gegewe fondasie is vir morele gedrag. Sommige wetenskaplikes ervaar die beginsel as absurd omdat dit in ekstreme vorm selfs fisiese wette (Newton se Tweede Wet, die Wette van Termodinamika, en dies meer) as konstrukte beskryf, wat geen onafhanklike bestaan het van die wetenskaplikes wat dit formuleer nie. Ek sal nie verder oor (1) uitwei nie, maar net opmerk dat die aanname nou ook feitlik universeel in die Westerse wêreld geld.

Ek sal in die volgende paragrawe oor (2) skryf, naamlik oor identiteit, of ten minste, identiteit soos ons dit as individue ervaar.  

Marxiste ontken nie die (sielkundige) ervaring van ʼn mens se identiteit nie. Inteendeel, hulle argumenteer dat identiteit bestaan en dat dit hoofsaaklik vloei uit die lidmaatskap in ʼn ekonomiese klas. Met ander woorde, wat ons as identiteit ervaar berus op ons ekonomiese realiteite as werkers (lede van die proletariaat), of as lede van die bourgeoisie.

Kom ek verduidelik verder: Normaalweg sal iemand verklaar “Ek is ʼn Botha” om in familieverband ʼn identiteit te konstrueer en op te eis. Verder sal mens byvoorbeeld hoor “Ek is ʼn Afrikaner”, of “Ek is ʼn loodgieter”, of “Ek is ʼn Suid-Afrikaner”, en dies meer. Elke verklaring konstrueer ʼn weier kring om die individu wat in elke geval sy identiteit bepaal as beperkend in sommige opsigte, en meer algemeen in ander opsigte. Wat egter elke keer die geval is, is dat daar ʼn emosionele komponent met die verklarings saamgaan. Met ander woorde, daar is ʼn emosionele opwelling met elke verklaring, soms meer intens (in familie of etniese verband), en soms minder intens (soos in “ek is iemand wat van piesangs hou”).

Soms dien etniese identiteit (byvoorbeeld “I am an Englishman”), wat taamlik nou is, as die basis vir die politieke organisasie van ʼn staat. Dit word deesdae as “identiteitspolitiek” beskryf, en sedert die Tweede Wêreldoorlog het Westerse moondhede sulke politiek ontmoedig omdat dit sogenaamd vir fascisme en die Tweede Wêreldoorlog verantwoordelik was.

Marxisme verwerp al die bogenoemde aansprake op identiteit. In die plek daarvan voer Marx aan dat mense hulle identiteit primêr in hulle ekonomiese klas vind. Dit is waarom Marxiste van die proletariaat, wat deur die bourgeoisie uitgebuit word, praat. Met ander woorde, mense ervaar hulle identiteit uitsluitlik in lidmaatskap as lede van die proletariaat of bourgeoisie in ‘n gemeenskap wat op klasseverskille gebaseer is. As ʼn Marxis skree “Workers of the World Unite!” maak dit juis ʼn argument dat werkers eerstens lede van die proletariaat is, en dat hulle gesamentlike aansprake op regte juis sodanig op daardie identiteit geskoei is.

Die gevolge van ʼn Marxistiese ontleding van identiteit is legio. Dit verwerp etniese identiteit as ʼn basis vir ʼn gemeenskap. In Marxisme is daar nie plek vir konsepte soos “Afrikaners” nie, omdat dit onderhewig is aan die ekonomiese identiteit wat die proletariaat verskaf. In dié opsig is dit belangriker vir mense om lede van die proletariaat te wees as om Afrikaners te wees, veral omdat die gevolge van die eersgenoemde (wat inkomste bepaal) ekonomies van aard is, terwyl laasgenoemde se kenmerke (byvoorbeeld huistaal) nie direk verband hou met inkomste en ekonomiese welvaart nie.

Marxisme gaan selfs verder as dit: Dit stel voor dat identiteit omvorm kan word. Iemand wat vandag tot ʼn heersersklas of in die bourgeoisie behoort (of ʼn Afrikaner is), kan heropgevoed word om ʼn nuwe werkersidentiteit in die proletariaat te verkry. Kommuniste het dit dan ook in verskeie lande gedoen deur ʼn Gulag te bou met die uitsluitlike doel om afvalliges van ʼn nuwe en meer aanvaarbare identiteit (as werkers in die proletariaat) te voorsien.  

In sommige meer ekstreme gevalle is selfs verder gegaan. Kinders is van hulle ouers verwyder om van kindsbeen af opgevoed te word as werkers, met die doel om enige oordrag van etniese bagasie te verhoed. Identiteit as gegrond in ekonomiese klas het dus selfs die familie-eenheid en gesin getroef. Dit is dan ook waarom so baie Marxiste die familie vyandiggesind is, en waarom radikale feministe dikwels gemeenskaplike doelwitte met Marxiste deel.

In die diskoers rondom ʼn Afrikaanse identiteit is Marx se invloed deesdae weer direk sigbaar. Die invloed is soms opvallend as iemand vra “Wat is ʼn Afrikaner?” asof die begrip sodanig swak gedefinieer is dat dit nie bestaan nie. Die implikasie is ook dan dat lede van die “Afrikaners” onderhewig is aan die ekonomiese definisies van identiteit (as werkers of as lede van die bourgeoisie, en dies meer) en dat in die opsig beteken dat hulle identiteit sodanig ervaar word. Met ander woorde, “Afrikaners” het ʼn interseksie met Marxistiese definisies vir identiteit wat volgens Marx meer grondig is. Om “Afrikaner” te verwerp ten gunste van “proletariaat” of “werker” of bloot net “Suid-Afrikaner” (en dus werker), is dus beslis 'n Marxistiese beskouing.

Ter syde: Die vraag “Wat is ʼn Afrikaner?” word dikwels gebruik om te demonstreer dat “Afrikaners” nie bestaan nie. Dit is natuurlik verkeerd: Die feit dat dit nie moontlik is om iets te definieer nie, beteken nie dat dit nie bestaan nie: Probeer byvoorbeeld om ʼn akkurate definisie van die son neer te skryf Dit is doodgewoon nie moontlik nie, omdat daar baie sterre is wat net soos die son lyk, en omdat die son gedurig verander en boonop uit der miljoene deeltjies bestaan, maar die son bestaan ongetwyfeld. Dit feit dat “Afrikaners” nie gedefinieer kan word nie, beteken dus glad nie dat “Afrikaners” nie bestaan nie.

Die gesprek rondom die Afrikaner se identiteit woed reeds geruime tyd in die pers, en het nou verskuif na die begrip “Afrikaanses”, asof dit ʼn identiteit verskaf wat net in taal gevestig is en wegbeweeg het van die identiteit “Afrikaner” wat tot onlangs nog in families oorgedra is en wat boonop ook nog ʼn rassekomponent het. In Marx se sin het “Afrikaanses” tot onlangs nog nie bestaan nie – maar die basiese idee dat die identiteit geskep kan word, en dat “Afrikaners” heropgevoed kan word om die (nuwer) identiteit aan te neem, is naakte Marxisme. Prominente Afrikaanse koerante is reeds druk besig met die heropvoedingsprojek, en die mate waartoe hulle suksesvol sal wees, sal ons nog sien.

Die ironie is natuurlik dat selfs ʼn konstruk soos “Afrikaanses” nie vir hardekwas Marxiste aanvaarbaar sal wees nie. Dit maak steeds aanspraak op ʼn identiteit (die keer gebaseer op taal) wat nie in ʼn ekonomiese klas gegrond is nie. Alle lede van die proletariaat, ongeag taal, deel ʼn ekonomiese identiteit onder Marxisme, en hulle regte troef alle ander regte. Die uitgangspunt word briljant verwoord in ʼn Afrikaanse koerant in ʼn opinie oor voertale aan voormalige Afrikaanse universiteite: “Toeganklikheid weeg ieder geval swaarder as taaleksklusiwiteit”. Met ander woorde: die proletariaat se regte (toeganklikheid) troef “Afrikaanses” se aansprake op gemene taalregte (en Afrikaanse klasse aan ʼn Afrikaanse universiteit).  

Alle identiteite is dus nie gelyk nie. Sommige is ekonomies en meer basies en dus meer gelyk.

Om op te som: Afrikaners is so naïef oor Marx se idees dat hulle daarmee oor die kop geslaan kan word sonder om dit te erken vir wat dit is. Die naïwiteit is die oorsaak van die NP regering se verbod op Marx. Om Marx se geskrifte in ʼn land soos die ou Suid-Afrika toe te laat sou inderdaad sekere risikos behels, maar ek glo steeds dat die meeste mense as gevolg ʼn beter begrip daarvan sou gehad het en dat hulle vandag minder vatbaar vir Marxistiese ideologie sou wees.

Intussen skryf Jeremy Cronin sirkels rondom sy kritici in die Suid-Afrikaanse pers, en gaan die ANC-regering onverpoos voort om opvoedkundige instellings en retoriek te gebruik om mense se identiteit te ondermyn met die doel om uiteindelik ʼn Marxistiese utopie te skep. Blade Nzimande is nie verniet aangestel as ʼn minister belas met Hoër Opvoedkunde nie. Hy het waarskynlik aangedring op die pos met die doel om die intellektuele klimaat aan universiteite te beïnvloed en om Marx se idees uit te brei en aan te pas in die huidige konteks (in terme van die National Democratic Revolution). Infiltrasie was nog altyd ʼn belangrike wapen in Marxiste se Lang Mars: Infiltreer die instellings, en voer die volgende geslag met Marx se idees. In die opsig is Marxisme nie verskillend van ʼn prosetilitiese kerk wat gereeld bekeerlinge soek nie. Onder Afrikaners het hulle baie naïewe bekeerlinge onder Afrikaanse intellektuele gevind.

Sover dit Afrikaanse instellings (soos koerante, die paar oorblywende universiteite, skole, en organisasies soos Solidariteit en die ATKV) aangaan, is hulle skynbaar almal aan Marx se dissipels uitgelewer. Aansprake op ʼn Afrikaneridentiteit (gebaseer op geskiedkundige gronde) word omtrent universeel deur die organisasies verwerp asof dit nie sou bestaan nie omdat dit nie gedefinieer is nie. Marx, dink ek, sou breed glimlag oor die toedrag van sake – dit is nie net dat die verwerping van ʼn identiteit ʼn sielkundige opening laat vir die vorming van ʼn nuwe identiteit (in die proletariaat) nie, maar dat dit ʼn bewys is dat sy idees rondom die vorming en hervorming van ʼn sielkundige identiteit geldig is. As ʼn mens “Afrikaner” kan weg definieer, kan mense seker net so maklik ʼn identiteit soos “werker” konstrueer, wat uiteindelik net so werklik sal wees as dit wat dit vervang.

————————–
(*) Die webwerf is
 http://www.redcounty.com/virginia/2008/10/neo-marxist-ideology—our-fut/
en die teikenmark is die meer konserwatiewe ondersteuners van die Amerikaanse Republikeinse Party.укладка мозаики вДанильченко Юрий Брониславович

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.