Britse Leeus kom jag in SA

Deel op
Die tyd is hier! Die groot jagtog van 2009 deur die Leeutrop uit die Britse en Ierse Eilande het in Afrika se suidpunt aangebreek.

Twaalf jaar vantevore het daar ‘n trop Leeus met geslypte tande, ‘n groot maanhaar in Martin Johnson as kaptein en ‘n ou wyse leeu, in breier Mcheechan, in Suid-Afrika aangekom en onverwags deur slim rugby, baie karakter en ‘n skepskop die Springbokke verslind.

Deel op

Suid-Afrika was besig om ‘n span te bou ná die geskiedkundige Wêreldbekersege van 1995 in die nuwe Suid-Afrika. Maar enige toets wat die Springbokke verloor, word vir jare onthou. Soveel te meer ‘n neerlaag in ‘n toetsreeks.

Dit is dus juis daardie seer wat ‘n volbloed Suid-Afrikaner laat smag na die groot rugby-avontuur en geskiedenis wat die Britse en Ierse Leeus na Suid-Afrika bring. As mens dink aan die ongelooflike Leeuspan van 1974 onder leiding van die Ierse legende, Willie John McBride met die legendariese Walliesers soos JPR Williams, Gareth Edwards en Phil Bennett en dan aan die span van Martin Johnson in 1997 met groot spangees, dan kan mens nie help om daardeur meegevoer te raak nie! Die Leeus in Suid-Afrika is meer as spesiaal. Dit het ‘n ryker geskiedenis en bring ‘n unieke atmosfeer, wat nie vir Leeus-toere na Nieu-Seeland en Australië geld nie.

Vir die Suid-Afrikaanse spelers wat betrokke is in toerwedstryde teen die Leeus is dit ‘n eenmalige ervaring. Baie spelers kry nooit daardie besondere kans nie, want die Leeus kom een maal in 12 jaar in ons land kragte meet. Maar die grootste voorreg bly nog om vir die Springboktoetsspan gekies te word en nóg meer spesiaal is om teen die Leeus op ‘n volgepakte Suid-Afrikaanse rugbystadion te kan uitdraf.

Sommige van ons beste spelers het die pond en euro van die hand gewys, of teruggekeer uit die vreemde, net sodat hulle ‘n kans kan hê om in die Springbokspan teen die Leeus te speel. Ander spelers het operasies vir nou eers uitgestel tot ná die Leeus-toer, en speel met pyn en ongemak. Dit dien as bewys van hoe baie hulle bereid is om vir hierdie ongelooflike geleentheid op te offer.

Die Victor Matfields, John Smits, Habanas, Bakkies Bothas, Schalk Burgers, Fourie du Preez’s, Jean de Villierse en ander word gedryf en deur een ding aangevuur: om in ‘n toetsreeks teen die Leeus te speel en legendes in hul eie reg te word deur die reeks te wen!

Met drie wedstryde van die toer reeds gespeel en veral ná die eerste wedstryd in Rustenburg teen die Royal XV, was baie Britse rugbykenners ongelukkig oor die Britse Leeus se vertoning. Maar dit sal maar altyd ‘n moeilike begin wees vir ‘n span wat mekaar nog leer ken teen ‘n span met spelers wat weet dat dit die grootste wedstryd in hul rugbyloopbaan mag wees. Ná Woensdag se vertoning met ‘n heel nuwe span en meer gewoond aan die klimaat, het mens die akkuraatheid en formaat van die Leeus begin sien. Kom ons wees eerlik, die Goue Leeus verstaan nie verdedigingspatrone nie en is ook nie aangehelp deur die probleme by die unie van die veld af nie. Maar nietemin het ons gesien dat die Leeus goed afgerig is en besig is om hulle vir die toetse reg te kry. Die Vrystaat het ‘n verdedigingspatroon in plek maar sonder Juan Smith het die Cheetahs hulle leier en beste speler verloor en is hulle nie dieselfde span nie. Hulle verdediging en die briljante Heinrich Brussouw het egter gewys hoe belangrik druk en die tegniek in die kontakarea, gepaard met ‘n fisieke aanslag, is.

Elke Leeus-speler weet hoe om sy kans te gebruik. Daar is net ‘n handjie vol wedstryde voor die toetsspan gekies gaan word. Spelers wat my oog gevang het, was Tommy Bowe van Ierland wat alles en nog meer gedoen het op vleuel. Saam met die kombinasie van Brian O’Driscoll en Jamie Roberts in die senterposisies lyk hulle baie gevaarlik. Shane Williams op die ander vleuel sal heel waarskynlik die nommer 11 trui in die toets dra en Lee Byrne sal na my mening die heelagter wees.

Onder die voorspelers het die slotte my beïndruk en dit sal ‘n titaniese stryd wees vir plekke, maar ek vermoed dat Alun Wyn Jones in dié departement Paul O’Connel se vennoot sal wees. Victor Matfield, Bakkies, Danie Rossouw en Andries Bekker is van die heel beste slotte ter wêreld. Drie van hulle het ‘n wêreldbeker, asook twee Super-14-titels op hul kerfstok. 

Die Britse voorrye is bekend vir hulle werk in die skrums, alhoewel Gethin Jenkins vir sy prestasie op die veld bekend is.

Dit gaan baie interessant wees om te sien wat Warren Gatland en Graham Rowntree daar gaan doen teen die tyd dat die toetse aanbreek. So ook die losvoorspelers. Gaan hulle ‘n ou en slim kalant soos Martyn Williams kies? 

Die balans gaan belangrik wees om die beste lostrio in wêreldrugby hok te kan slaan. Pierre Spies is op dreef en gaan nog beter word, Juan Smith is die beste toekantflank en Schalk Burger is Schalk Burger. Al drie is ook lystaanopsies en die Leeus het spelers gekies wat in die lynstane kan meeding, maar die balans sal hulle moet handhaaf anders gaan hulle sukkel om vir die bal op die grond mee te ding.

Die Bokbestuur het die Bokgroep Maandag aangekondig en het nie veel verrassings gehad nie. Een insluiting verdien na my mening ‘n groot regmerkie en dit is dié van Morné Steyn wat vanjaar nog meer gegroei het en nou seker die mees volmaakte losskakel in Suid-Afrika is. En in die persoon van Ruan Pienaar wat nog bietjie meer in die rol moet ontwikkel, maar na my mening een van die bestes kan word, het ons goeie balans en mededinging in die span. 

Earl Rose se insluiting laat my wonder. Ek voel dat hy nog baie moet ontwikkel en aan sy swakpunte moet werk Ek dink nie hy is reg vir toetsrugby nie, maar as sy insluiting bedoel is om hom meer ervaring tydens Springbokoefeninge te gee, dan het ek nie beswaar nie. Maar ek sal hom glad nie oorweeg vir die eerste twee toetse nie en ook nie die derde as die reeks gelyk is nie.

Dan is Conrad Jantjies beseer en moet daar ‘n nuwe heelagter gekies word. Zane Kirchner het ‘n baie goeie Super 14 gehad, so ook Stefan Terblanche. Jaque Fourie en JP Pietersen kan daar speel en verkeer in die groep, so ook François Steyn. Ek voel François Steyn moes, nadat Percy Montgomery uitgetree het, dadelik in dié posisie gekies gewees het. Hy kan ontwikkel in een van die beste heelagters wat ons nog gesien het. Hy is volgens my nog nie reg vir losskakel nie en ek dink sy beste posisie kan dalk die nommer-15-trui wees. Hy is ‘n goeie senter. Hy is uiteraard ‘n goeie rugbyspeler. Maar van heelagter af kan hy meer betrokke raak. Hy kan die lyn met verwoesting sny. Hy is solied onder die hoë bal, sy verdediging is sterk en sy skepskop is so lank dat hy kan doen wat Naas al die jare gedoen het: punte van die halflyn af vir die Bokke inryg!

Een verrassing was dat daar nie ‘n erkende plaasvervanger vir Schalk Burger in die groep is nie. Rugby word deesdae gewen deur die afbreekpunte te wen en fisiek en akkuraat op daardie gebied te wees, en dan vandaar af te kan aanval. Dit kan dalk die Bokke duur te staan kom. Blykbaar is daar hoop in die Leeugroep dat die Bokke sonder ‘n plaasvervanger vir Schalk Burger in die toetse sal opdraf. Ek is bekommerd oor wat die Bokbestuur hier gedoen het.Ek weet ook dat Juan Smith tot ‘n mate die rol kan vervul, maar in toprugby mens het spesialiste nodig. Heinrich Brussouw, Deon Stegmann, Jacques Botes en Luke Watson is meesters op die gebied en kan ongelukkig voel dat hulle nie die paal gehaal het nie. Luke Watson het ‘n goeie seisoen gehad maar sal nie in die huidige opset van spelers inpas nie. Maar Pieter de Villiers moet dalk heroorweeg en vir Heinrich Brussouw vir ‘n versekeringspolis nader trek.

Om by die hoofsaaklik spelergedrewe proses te hou, sedert Pieter de Villiers oorgeneem het, sal heel waarskynlik die slimste opsie vir die Springbokafrigters bly. Suid-Afrika het die sterkste groep spelers vir baie jare en beving hom in ‘n goue tydvak as gevolg van afrigters soos Heyneke Meyer, Dick Muir, Jake White, John Plumtree en Rassie Erasmus se werk oor die laaste paar jare en spelers wat weet hoe om groot wedstryde te speel. Spelers is beter voorbereid, spesiale spelers is gekweek en hulle ervaring voer Suid-Afrikaanse rugby die laaste paar jaar tog nuwe hoogtepunte en kan, ná ‘n reeksoorwinning, hulle name in die boek van rugbylegendes verewig!

Ná die Bulle se sterk vertoning van konstante druk deur verdediging en direkte rugby in die Super-14-finaal, hoop ek dat die Bokke ons en die wêreld hulle ware krag in die reeks van 2009 gaan wys. Mag die toetse gou kom! Maak reg vir hierdie avontuur!

машинки на радиоуправленияДанильченео

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.