Lyke van Air France-vlug gekry

Deel op

Familielede van sommige van die 228 passasiers aan boord van Air France se Vlug 477 hoop nog dat hul geliefdes lewe. Familielede is tans in ’n hotel in Rio de Janeiro saamgedrom om na nuus oor die soektog na die vliegtuig te luister. Sommiges was verlig dat lyke gekry is, maar ander hoop steeds.

Dit ten spyte daarvan dat die lyke van twee mans wat op dié rampvlug was eergisteroggend gevind is sowat 70 km suid van waar die vliegtuig sy laaste sein uitgestuur het. Nóg drie lyke is gister gevind.

’n Brasiliaanse ondersoekspan het die naweek noord-oos van die eiland Fernando de Noronha op wrakstukke, ’n vliegkaartjie van Vlug 447 en die lyke afgekom.

Kol. Jorge Amaral, ’n Brasiliaanse lugmagwoordvoerder, het gesê die vliegkaartjie is in ’n leer-aktetas gevind. Dit het aan ’n passasier op die vlug behoort.

’n Vliegtuigsitplek met ’n reeksnommer is ook daar naby gevind.

Vlug 447, wat van Rio de Janeiro na Parys op pad was, is die dodelikste lugramp sedert 2001 en die grootste in Air France se bestaan van 75 jaar.

Die twee mans se lyke is na die Fernando de Noronha-eilande geneem.

Franse en Brasiliaanse owerhede soek steeds na die res van die wrak en passasiers.

Air France het later 'n verklaring uitgereik waarin hulle gesê het dat hulle die lugspoedsensors van langafstandvliegtuie wil vervang omdat vrese ontstaan het dat die sensors met ys aanpak.

Ondersoekers oorweeg die moontlikheid dat die spoedsensors van Vlug 447 verys het, wat veroorsaak het dat die loodse die spoed van die vliegtuig verhoog het omdat hulle 'n foutiewe lesing ontvang het en wat uiters gevaarlik is terwyl 'n donderstorm woed.

Die hoof van Frankryk se ongelukagentskap, Paul-Louis Arslanian, het aangedui dat die Airbus A330 se sensors vervang sou word, maar het gesê dit beteken nie dat die oues stukkend was nie.

Airbus het bevestig dat hulle 'n bulletin uitgereik het waarin gevra word dat die 50 of meer Airbuslugvaartoperateurs hulle vliegtuie se spoedsensors vervang, bekend as die Pitotbuise.

Air France het in 'n verklaring gesê hulle het opgemerk dat die lugspoedmeters van die A330 en die A340 in Mei 2008 met ys aanpak en het daarna 'n oplossing van Airbus geëis.

Volgens Air France het Airbus aangebied om verskillende sensors te toets, agv twyfel wat bestaan het of dit die probleem van verysing sou aanspreek, maar die lugdiens wou nie wag nie, en het vanaf 27 April begin om die sensors te vervang.

Frankryk gaan 'n kernduikboot afstuur om die twee vlugopnemers te probeer opspoor wat enige iets van 864m tot 4 000m onder die see kan wees.
 

fruit shoptopcargo отзывы сотрудников

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.