Bestaan middele om die Afrikaanse taal en kultuur te red?

Deel op

Dit is opmerklik dat die debat rondom die posisie van die Afrikaner, sy taal en ander grondwetlike regte al meer aandag geniet. So begin die afgelope jare se debat oor die behoud van Afrikaans op alle vlakke polariseer rondom twee standpunte naamlik: deel sonder weerstand of handhawing deur minderheidsregte.

Deel op

Die meer populistiese benadering hou die proses van onderhandel, deel en saamleef as ideaal voor. Dit het al die elemente vir mededeelsaamheid en vreedsame naasbestaan terwyl jy jou eie behou. Dit maak voorsiening vir 'n breë algemene stelsel. Dit is ook 'n argument wat maklik verdedigbaar en sonder potensiële konflik is. Hierdie siening lê klem op die argument dat Afrikaans lewendig is en van krag tot krag gaan. As voorbeeld word die geweldige gewildheid van nuwe Afrikaanse sangnommers, -konserte en -gedigte en literêre werke vooropgestel. Hierdie siening is gemaklik met die deel van alle opvoedkundige instellings met 'n tweede taal binne parallel- dubbelmediuminstellings.

Die tweede siening is die moeiliker een om te verdedig. Dit het dieselfde potensiaal vir vreedsame naasbestaan met veel wyer beskerming. Dit moet egter bereik word deur wedersydse respek vir die taal, kultuur en godsdienstige verskille tussen etniese, taal-, kulturele en godsdienstige minderhede. Minderhede is die werklike realiteit binne die RSA en dit stel minderheidsregte aan die orde. Alhoewel dit nie in omvang binne die RSA-rondwet beskrywe word nie, is daar genoegsame artikels wat juis hierdie uitgangspunt ondersteun. Hierdie omskrywings dui op die begrip minderheidsregte en kan daar gerus na artikels 6, 9(3), 18, 29(2) (3) en (4), 31(1), 235 en enkele ander binne die RSA-grondwet gekyk word.

Artikel 39(1)b van die RSA-grondwet maak voorsiening daarvoor dat die volkereg in ag geneem moet word by die vertolking van die hierdie grondwet. Hierdie bepaling maak die internasionale reg en internasionale resolusies soos "Declaration on the Rights of Persons belonging to National or Ethnic Religious and Linguistic minorities adopted by the General assembly Resolution 47/135 of 18 December 1992" asook die bepalings van konvensies soos "The Provision of Article 27 of the International Convenant on Civil and Political Rights concerning the rights of persons belonging to ethnic, religious and linguistic minorities", van toepassing. Nie resolusies nie, maar konvensionele bepalings kan wel internasionaal afgedwing word binne die internasionale regstelsel. Sowel die vorige NP-regering as die huidige ANC-regering het hierdie bepalings onderteken. 

Hierdie regte is reeds verskeie kere in die Internasionale howe in Geneve getoets en is daar reeds 'n verskeidenheid uitsprake hieroor. So het die Rehoboth-Bastergemeenskap hulle onlangs op hierdie bepalings, ter beskerming van hulle kulturele regte en skole, teen die Namibiese regering in die internasionale howe beroep.

So lê die populistiese benadering groot klem op die deel van onderwysgeriewe wat dan ook in sy volle omvang deur die onderwysdepartement net op Afrikaanse skole afgedwing word. Dit word Amalgamering of Transformasie genoem. Hierdie transformasieproses op Afrikaanse skole het die Afrikaanse enkelmediumskole van meer as ±1 600 in 1993 na net sowat 640 in 2009 verminder, waarvan daar waarskynlik minder as 300 vir Afrikanerstudente oor is. Met die huidige amalgameringsprosesse in Limpopo en die Noordwesprovinsies in volle swang, sal die Afrikaanse skole binne die volgende jaar heelwat verminder en behoort 2015 die doodsklokke vir die laaste van die Afrikaanse enkelmediumskole vir Afrikaners te lui.

Dit het dalk belangrik geword om te kyk waarna ons verwys wanneer ons oor die behoud van ons taal praat.

Afrikaans kan as bloot 'n kommunikasiemiddel gebruik word en dan is die populistiese benadering reg en aanvaarbaar want Afrikaans sal waarskynlik met spesiale maatreëls binne die parallel- en dubbelmediumstelsel in 'n mate behoue kan bly.

Naas kommunikasiemiddel is daar egter 'n tweede vlak: Afrikaans as taal dien as die goue draad binne 'n bepaalde etos wat uit taal, kultuur en godsdienstige waardes bestaan. Dit gaan dus oor baie meer as net die behoud van ons pragtige taal as kommunikasiemiddel en op hierdie tweede vlak word die digkuns, sang en literêre werke, kortom, die skatkis van die totale Afrikaanse kultuur geskep en bedryf. Dit gee aanleiding tot 'n bepaalde woordeskat en taalgebruik wat Afrikaans meer as net 'n kommunikasiemiddel maak. Beide die Afrikaner en die kleurlinge beskik elk oor 'n besondere etos wat deur Afrikaans as taal gedra word. Binne skole en tersiêre instellings gaan dit juis oor die volhoubare oordra van hierdie totale etos aan die nageslagte vir beide groepe.

Derdens het Afrikaans die hoogste vlak van ontwikkeling bereik toe dit uitgebou is tot 'n wetenskaps-/akademiese taal. Die eerste hart is spreekwoordelik in Afrikaans oorgeplant. Ses atoombomme is in Afrikaans gemaak. Sasols is in Afrikaans gebou. Wêrelderkende ontwikkelings van allerlei soorte is in Afrikaans geskep. Afrikaans is uitgebou tot 'n wetenskapstaal met 'n eie omvangryke woordeskat wat in doktorsgrade, professerate en navorsing gebruik is Voorgeskrewe literatuur en eksamens is op skole en universiteite in Afrikaans geproduseer en die taal is op die hoogste vlak gebesig.

Die populistiese benadering van mededeelsaamheid veroorsaak juis dat die wetenskaptaalsaspek van Afrikaans wesentlik bedreig word. In die howe word Afrikaans as spreektaal en vir verslaggewing deur Engels vervang. Februarie se register vir hofverwysings het slegs een aangetekende uitspraak in Afrikaans bevat wat in die hoërhof van appél gelewer is. Dertien jaar terug was dit meer as 75%. Dieselfde gebeure herhaal hom op al meer terreine en veral in skole en spesifiek binne universiteite waar Engels as wetenskapstaal besig is om Afrikaans te vervang of reeds vervang het.


Navorsing deur dr Bertie du Plessis oor die toestand in skole wat hierdie transformasie ondergaan, toon uitdruklik dat die bepaalde etos van die bestaande, taal, kultuur en godsdienstige waardes van sodanige skole, binne enkele jare deur die meerderheid se taalgebruik verdring word. Te meer as die nuwe taal 'n wêreldtaal is en die uiteindelike meerderheid binne die skool dit besig en aandring op onderrig daarin. By C R Swart-hoërskool het dit 8 jaar geduur en by Laerskool Doringfontein slegs ses weke.

Dr Bertie het met onlangse studies en ander navorsing juis die gevolgtrekking gemaak dat terwyl almal die afgelope jare geglo het dat die wit Afrikaanse studente te veel skole en universiteite gehad het vanuit die ou bedeling, die teenoorgestelde juis waar is. Die Afrikaanse skole het sowat 9% van alle skole in 1993 uitgemaak en dit was ook die persentasie van Afrikaanse leerders. In 2008 het die Afrikaanse enkelmediumskole verminder na slegs 5,9% van die aantal skole in die land terwyl die Afrikaanse leerders steeds sowat die 9%-peil handhaaf. Hierteenoor het ander bevolkingsgroepe ruim genoeg skole in hulle tale wat proporsioneel vir hulle beskikbaar is.

Dr Du Plessis se bevindinge word op onstellende wyse deur Dr Kathleen Heugh, voorheen van die RGN, in haar navorsing " Implications of the Stocktaking of Mother tongue and Billingual education in Sub-Saharan Africa" bevestig. Benewens die bevestiging bevind sy dat sodanige transformasie, binne kulturele verband, 'n totaal negatiewe inslag het met gepaardgaande daling in prestasie en uitkomste. Dit geld vir die hele skoolloopbaan sowel as tersiêre studie daarna. Hierdie neiging verteenwoordig die basis van die onderwysdepartement se nuw kurrikulum wat daartoe bydra dat standaarde in duie stort. 

Voeg daarby dat die totale aantal skole in die RSA van ± 28,000 in 1994 na minder as 25,000 in 2008 gedaal het, terwyl die bevolkingsgroei en invloei van vreemdelinge waarskynlik ten minste 1 500 addisionele skole benodig teenoor 1994 se getal. Ons het dus maklik met 4 500 skole in totaal agteruit geboer. Die grootste slagoffer van hierdie afname was die Afrikaanse enkelmediumskole en -universiteite wat die oorwig van getalle moes help absorbeer. Dit is benewens die beleid van die verdringing van Afrikaans binne onderwysinstellings wat klaarblyklik deur die onderwysdepartement as algemene beleid toegepas word. Hetsy doelbewus of dalk verskonend, sonder bybedoelings. Hoe sal ons dit weet? Wanneer word Engelse skole verplig om Afrikaanse leerders by hulle in te skakel binne parallel- en/of dubbelmediumskole? Of word Indiërskole ook aan Transformasie onderwerp? Dit is kwelvrae wat dringend antwoorde soek.

Een van die wesentlike vrae wat egter gevra moet word, is: Mag etniese, kulturele, taal- en godsdienstige minderheidsgroepe binne die nuwe RSA wel aanspraak maak op hierdie minderheidsregte soos 'n eie onderwysministerie met eie onderwysinstellings en wie moet daarvoor betaal? Mag die Afrikaner, die kleurling en Indiërs, as sodanige minderheidsgroepe, hierdie reg opeis binne 'n eie struktuur?

Dit is belangrik om daarop te let dat die hoofmanstelsel van die sogenaamde tradisionele leiers binne CONTRALESA bedryf word, juis 'n erkenning van minderheidsregte vir die swart bevolkings verteenwoordig. Hierdie instelling, wat aanvanklik deur die NP-regering ingestel is, word tans vrylik deur die politieke partye gepamperlang ter wille van stemme in verkiesings en veral om stemme onder die landelike swart bevolkings te werf.

Daar is ook ander swart minderheidsgroepe wat vrylik binne die nuwe grondwet werksaam is en minderheidsregte beoefen. Van hulle is die Black Accountants; die Black Officers Forum in SARP; die Black Lawyers Association; Black Schools Sport Association en vele meer.

Mnr Jacob Zuma se onlangse uitspraak dat die Afrikaner Afrika se wit stam is, word heelhartig ondersteun want die Afrikaner het oor 350 jaar gegroei tot 'n eie etniese, kulturele, taal- en godsdienstige minderheid wat, ook as 'n volk, op hierdie minderheidsregte, binne die nuwe RSA, mag aanspraak maak. Die verdere vraag is of die Afrikaner dit op eie koste, dus uit sy eie sak moet herbou of was sy bydrae as een van die boumeesters van die RSA genoegsaam dat hy hierop binne die erfreg mag aanspraak maak?

Minderheidsregte sluit naas eie onderwysinstellings ook eie gesondheidsorg, sosiale, kulturele, sport sowel as godsdienstige strukture in.

Dit het dalk tyd geword dat ons eerlik na die verskeidenheid van ander moontlike oplossings binne die grondwet behoort te kyk, eerder as om polities korrekte en populistiese uitsprake na te jaag. Uitsprake wat tot praktyke lei wat die etos van die Afrikaner se eie taal, kultuur en godsdienstige waardes bedreig. Die Afrikaner is geregtig op sy eie strukture binne die nuwe RSA en dit hang slegs van die Afrikaner self as groep af of hy dit gaan behou of daarvan afstand gaan doen. Niemand anders kan dit namens die Afrikaner opeis nie, maar teselfdertyd het die Afrikaner ook niemand se toestemming nodig nie. Een groep kan dit ook nie namens 'n ander groep opeis nie en die samevoeging van groepe kompliseer die omskrywing en betekenis van die begrip etniese, kulturele, taal- en godsdienstige minderhede, soos dit in die internasionale reg verwoord word, sowel as die betekenis van die begrip "minderheidsregte".

Louis Smuts is direkteur van Tabok. 

бак вФільчаков Олександр Васильович

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.