Terug na ‘n apartheidsekonomie?

Deel op

ImageDit wil al meer voorkom asof die ANC-regering besig is om die praktiese voordele van die apartheidsregering se ekonomiese beleid te herontdek. Persoonlik was ek nog nooit 'n voorstaander van die algehele vryemarkbeginsel vir 'n land soos Suid-Afrika nie, maar eerder van die gemengde ekonomie soos dit destyds deur die Nasionale Party-regering beoefen is.

Deel op

Tydens die apartheidsjare, en veral vanaf 1968 tot 1988, het die ekonomie geblom as gevolg van die heersende ekonomiese stelsel in die RSA. Die staat het onder meer die leiding geneem met tientalle Bantoe-ontwikkelingskorporasies. Desentralisasie van die ekonomie was noodsaaklik om die ordelike groei van die platteland te verseker en om ernstige demografiese verskuiwings te voorkom. Intussen het daardie nalatenskap tot niet gegaan, maar sal weer moet toegepas word as President Zuma sy landelike ontwikkelingsbeleid wil laat slaag. 

Die begrip van strategiese nywerhede het die ekonomiese platform verskaf waarop reusagtige projekte opgerig kon word. Projekte soos Sasol 2 en 3, die reeks kragstasies, Foskor, Yskor Vanderbyl, die Pelindaba-uraanverrykingsaanleg, Mossgas, om nie eens van die infrastruktuurontwikkeling te praat nie.

Maar hiervoor moes die regering besluite neem wat dikwels kritiek deur voorstanders van die vryemarkbeginsel ontlok het. Die regering moes as ondernemer optree wat die markrisiko's moes neem, dikwels sonder om die belastingbetalers spesifiek daarin te ken.

Sedert 1994 het die ANC met groot fanfare aangekondig dat die staat van sy nywerheidsbates ontslae wou raak. Sasol en Mossgas was reeds geprivatiseer en Yskor het gou gevolg. Daar was selfs melding daarvan dat Eskom ook geprivatiseer sou word, maar dit was 'n taai tameletjie wat net nie wou verteer nie.

Daar is geredeneer dat 'n vrye demokratiese land nie strategiese nywerhede benodig nie omdat hy nie sanksies hoef te vrees nie. Daardie term is toe summier uit die woordeskat van die postmoderne ekonomiese beplanners verban. Geen regverdiging bestaan waarom die staat as ondernemer moes optree nie. Terselfdertyd was dit 'n handige instrument om 'n nuwe ryk swart middelklas en superryk klas op 'n elegante morele basis te skep.

Maar die globale ekonomiese resessie het skielik 'n ander aanskyn aan ekonomiese beginsels gegee, In die VSA het General Motors, wat meer as 'n miljoen werknemers het, verander na Obama Motors toe die staat op 1 Junie die grootste aandeelhouer in GM geword het.

In Suid-Afrika sê die nuwe minister van handel en nywerheid, dr Rob Davies, dat die ANC-regering nie kan toelaat dat die land se nywerhede tot niet gaan nie en dat die staat sal moet ingryp. Volgens Davies sal die balansstaat van die NOK wesenlik verstewig moet word om in die mark op te tree. Die NOK self is hoeka onder groot druk om sy bestaande verpligtings uit te voer, wat 'n groter probleem vir die staat skep.

Volgens amptelike statistieke het die vervaardigingsektor met 11,7% gekrimp vir die jaar wat in Maart geëindig het, ná die 15%-inkrimping einde Februarie en 12,9% einde Januarie.  

Dit wil nou voorkom of die ou ekonomiese strategieë afgestof gaan word. Die land is weer onder druk van buite – druk wat niks met die politiek van die land uit te make het nie, maar waarvan die uitwerking presies dieselfde as destyds is.

Een so 'n maatreël is invoervervanging en beperking om plaaslike produksie te stimuleer. 'n Ander is om na fiskale maatreëls soos vehoogde invoertariewe te kyk. Davies beweer dat dit die laaste ding is wat Suid-Afrika tans kan bekostig om in 'n strik gevang te word waar duisende werksgeleenthede vanweë ideologiese perspektiewe verlore gaan. Alle bewese maatreëls sal ondersoek en waar nodig toegepas word.

 Dit is duidelik dat die staat 'n groter rol in die land se ekonomie sal moet speel. Hiervoor benodig die land geskoolde en kundige rolspelers. Afrikaners is vir daardie rol uitgeknip. 

Moet dus nie verbaas wees as die huidige resessie 'n omwenteling in die huidige politieke milieu van magspolitiek na oorlewingspolitiek teweegbring nie. Soos die Blou Bulle sal Afrikaners hul voetwerk moet ken om bo uit te kom. Die laaste ding wat ons nou kan bekostig is om afsydig en negatief te staan terwyl 'n hele geslag se kundigheid vir die land en vir ons volk verlore gaan, terwyl ingevoerde kundiges gebruik word.

бани под ключ недороголобановский александр

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.