Mosies van vertroue is eintlik gatlek

Deel op
Dit is nou reeds vir baie jare deel van die politieke agenda dat politieke leiers ultra vires besluite neem en dan daarna goedkeuring vir sodanige optrede of besluit(e) by die betrokke politieke gesagsliggame vra. Met ultra vires word bedoel dat sodanige leier buite die raamwerk van sy/haar magte optree en dan met terugwerkende krag goedkeuring vir sodanige daad vra. 

‘n Ander metode van magsbeheer is dat die herkiesing van nasionale leiers nie by wyse van geslote stembriefies geskied nie en dat ‘n element van intimidasie ook hierin teenwoordig is. Stem teen die leier en jy is jou kabinetslid-status kwyt. Leiers is dan ook dikwels omring deur ‘n eie mafioso, ‘n mafiagroep wat die party beheer.

In baie ander gevalle is leiers soveel magte gegee dat hulle kon maak en breek soos hulle wil. In hierdie verband openbaar die Afrikaner politiek nogal totalitêre trekke. Persone wat vrae vra en beleid bevraagteken word as “moeilikheidmakers” gebrandmerk en geïsoleer.

In die Nasionale Party van na 1948 het die wesenlike mag eintlik by die nasionale leier en sy kabinet berus. Kongresse was rubberstempels. Leiers het gebak en gebrou soos hulle wou. Een so ‘n historiese geval was die beroemde debat van dr. Albert Hertzog, die “moeilikheidmaker” met eerste minister John Vorster, die onbetwiste leier, in die Stadsaal van Pretoria. Dit was in die tydsfase van die laat sestigers. Die aard van die debat was ‘n belaglike storie, maar nietemin simptomaties van totalitêre Afrikaner-politiek. John Vorster wou aanvaarding kry vir die insluiting van Maoris in Australiese rugbyspanne; ‘n interne Australiese aangeleentheid wat desondanks in terme van die NP se sportbeleid onaanvaarbaar was.

Albert Hertzog, die legalis, het redeneer dat dit die dun punt van die wig is en dat hierdie daad die sportbeleid van die NP tot integrasie wysig. John Vorster antwoord dat die sportbeleid dieselfde bly, maar dat Maoris welkom is. Dit is logies dat in hierdie tipies politieke stellingname daar ‘n innerlike teenstrydigheid is: die sportbeleid kan nie dieselfde bly as die deur vir Maoris, wat voorheen geslote was, dan oopgemaak word.

Die voorsitter van die NP-kongres was minister M.C. Botha. Botha het die saak tot stemming gebring, by wyse van ‘n mosie dat die sportbeleid van die NP dieselfde bly maar dat Maoris welkom is. Daar is deur Hertzog en Marais opklaring oor die teenstrydigheid gevra en geen bevredigende antwoorde is gegee nie. “Die sportbeleid bly dieselfde maar Maoris is welkom!” Daar is gestem. Daar is uit die gehoor gevra dat die stemming by wyse van geheime briefie sou plaasvind. Dit is geweier. Hande is opgesteek.

Diegene wat teen die mosie gestem het moes opstaan en hulle name moes genotuleer word. Die volgende dag is die teenstemmers se name in die NP-pers gepubliseer. Duidelik dus ‘n strategie van intimidasie. Daarna is ‘n mosie gestel van volle vertroue in die wonderlike leierskap van eerste minister Vorster.

Die gevolg hiervan was dat dr. Hertzog, Jaap Marais, Willie Marais en ander uitgestap het en die eerste stappe geneem het in die daarstelling van die Herstigte Nasionale Party (HNP).

‘n Volgende voorbeeld is die hantering van die politieke onderhandelingsproses deur F.W. de Klerk. De Klerk en sy onderhandelingsraad het duidelik te veel magte gehad. Onlangs het drie voormalige NP-ministers (Fourie, Venter en Delport ) by ‘n vergadering van die FAK verduidelik hoe die onderhandelinge ontspoor het. Hulle was teen die uitkomste daarvan. Hulle het De Klerk gewaarsku. Die skuld is post facto vierkantig op die skouers van De Klerk en Roelfie geplaas. Hulle kon uitgestap en rumoer gemaak het. Hulle het nie. Stilswye is kondonasie, het reeds Sokrates gesê. Daar is op ‘n volkstemming besluit. Die mosie waaroor gestem moes word was sodanig dubbelslagtig geformuleer dat elke Jan Rap en sy maat dit sou wou ondersteun. De Klerk het egter die uitslag geïnterpreteer as ‘n mosie van volle vertroue in sy leierskap en in die proses wat uitgeloop het, soos ons dit nou ken.

Die jongste geval van ‘n mosie van volle vertroue is die manier waarop die Vryheidsfront die Mulder-toetrede tot die Zuma-kabinet post-facto gekondoneer het. Insgelyks is daar eenparige goedkeuring vir die besluit gegee, terwyl ons weet dat dit onwaar is. Daar is waarskynlik nie per geslote stembriefie gestem nie. Die metode wat gevolg is het die valse beeld van eenparigheid geskep.

Die lesse wat die geskiedenis ons leer is dat in ‘n grondwetlike demokrasie die magte van leiers duidelik omskryf, beperk en bepaal moet word. Insgelyks moet wye debat oor kernaangeleenthede plaasvind en ‘n geheime stemming oor sodanige saak gehou word. Die status van leiers moet van tyd tot tyd by wyse van geslote stemming getoets word. Kollektiewe saam-praat en saam-dink is beter as ‘n leier wat vir die groep wil besluit.

Suid-Afrika is vandag in die gemors waarin hierdie land is, as gevolg van die tipe leierskap en magte waaroor sodanige leiers beskik het.

Die groot vraag is wanneer die Afrikaner-politiek so volwasse sal word, dat van leiers verwag en selfs geëis sal word om intra vires op te tree, dus binne die beperking van die magte waaroor hulle beskik?

kong onlineлобановский политик

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.