Duitsland se ‘wonderwapen’

Deel op
ImageOnlangs tel ek weer PF van der Schyff se boek op, Die Ossewabrandwag: Vuurtjie in die droë gras, 1991, waarin hy beskryf hoe Dr JFJ van Rensburg op die dag van Duitse oorgawe in 'n "verskriklike" toestand was omdat hy tot op die laaste geglo het dat Duitsland danksy 'n geheime wapen 'n oorwinning sou behaal.

Van Rensburg, wat nou met Duitsland geskakel het deur die loop van die Tweede Wêreldoorlog, het trouens toe al vroeër soortgelyke uitsprake gemaak in die teenwoordigheid van twee Amerikaanse gesante, naamlik O Stephens en JS Harris tydens 'n onderhoud in 5 Junie 1944, terwyl Duitsland besig was om op sy knieë te sak. Hy het onwrikbaar in die Duitsers se oorwinning geglo en ook gemeen dat só 'n oorwinning 'n republiek in Suid-Afrika sou verseker.

Alhoewel sy ideaal van 'n republiek later bewaarheid is omdat Smuts nie 'n Nürnbergverhoor kon waag voor die 1948-verkiesing nie, word van Rensburg se vertroue in 'n Duitse oorwinning wat deur 'n geheime wapen teweeg gebring sou word, dikwels afgelag.

Dit het egter nou aan die lig gekom dat Hitler wel besig was om 'n "wonderwapen" te ontwikkel. Die Messerschmittstraalvegterprojek het ongelukkig vir Duitsland net te laat gekom om 'n verskil te maak.

Nadat die Geallieerdes lugaanvalle oor Duitsland se industriële en stadsgebiede verhoog het, het die Nazi's druk begin soek na 'n minder opsigtelike plek om hulle wapenbedryf heen te skuif. Op 20 Maart 1944, word van die aanlegte na Lausitz in die ooste van Duitsland geskuif.

Junkers, die vliegtuig en enjinvervaardiger van Dessau, het in 'n tekstielfabriek ingetrek van die Morasbroers in Zittau, naby aan die Poolse grens. Vermom as 'n maatskappy met die naam Zittwerke AG was dit nie 'n gewone wapenfabriek nie, maar die plek waar die eerste straalenjin aanmekaar gesit is wat Hitler se "geheime wapen" die Messerschmitt Me 262 straalvegter sou aandryf.

Jürgen Ulderup van Junkers in Dessau was die fabrieksbestuurder in Zittau. Hy het dadelik 'n hele netwerk van ondernemings in die gebied opgerig, alles hoogs geheim.

Die gebied se tekstielnywerhede, wat reeds mank gegaan het, is verder ondergedompel omdat sekere fabrieke geheel en al oorgeneem is deur die nuwe projek. 'n Uiteindelike oorwinning vir Duitsland was egter van groter belang en 2 500 werkers het onder lugvaartspesialiste geswoeg om die projek te voltooi.

Nie alleen is die Morasfabriek oorgeneem nie, maar ook Haeblerbroers, Rudolf Breuer se weefwerke in Reichenau, die Kreutziger & Henke maatskappy in Leutersdorf, die Ebersbachweefwerke, asook 13 ander fabrieke.

Die hart van die projek was egter in wat vandag in Pole lê, naamlik Porajów. Dié fabriek is deur die 17de SS "Totenkopf" bataljon opgepas.

Daar is van dwangarbeid, hoofsaaklik vanuit die Oekraïene afkomstig, gebruik gemaak. Die Neisseriviervallei het dag en nag weerklink met die geluid van metaal. Inwoners het opgewonde gefluister dat die "wonderwapen" daar gebou word, maar niemand kon beskryf wat dit sou wees nie.

'n Messerschmittvliegtuig, die Me 262-V 1, met 'n Junkers Jumo 004A-0 straalenjin, het op 2 Maart 1943 opgestyg en die toets was suksesvol. 'n Autobahn is vir die aanloopbaan gebruik. Daarna het die fabrieke in alleryl begin werk om die Luftwaffe te voorsien. Die fabrieke was ook goed verbind dmv 'n bestaande spoornetwerk.

Maar dit was reeds te laat. Aan die begin van 1945 was die Russe by die oostelike grens en die Geallieerdes in die weste. Die Nazi's wou nie moed opgee nie en op 28 Februarie 1945 kondig Joseph Goebbels aan dat die "wonderwapen" die oorlog se uitkoms gaan swaai.

Maar 'n dag voor Goebbels se toespraak val Görlitz noord van Zittau en lê die front digby die fabriek. Werkers kan die gedonder van Russiese wapentuig hoor waar hulle koorsagtig bly werk.

Op 7 en 8 Maart slaag die Duitsers daarin om die aankomende Rooi Leër tydelik te stuit, maar met swaar verliese. Die fabrieke moet noodgedwone sluit en die inwoners ontruim word. Die hele fabriek word, gegewe die uiterste belang van die projek, na 100km wes van Leipzig verskuif, na die dorp Nordhausen, maar die projek om Duitsland se oorwinning te verseker, sluit finaal.

и каминыалександр лобановский супермаркет класс

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.