Wat praat jy, man!

Deel op

Image

Parmalatjogurt n? ‘n PRAAG-aksie enkele jare gelede. Ongelukkig het Afrikaansintussn al weer van die houers verdwyn…

Iemand wat van beter behoort te weet, het op 'n keer gesê ons het nie Afrikaans op jogurthouertjies nodig vir die taal om te oorleef nie. Waar het ons Afrikaans dan nodig om te sorg dat die taal geil groei? Om dié vraag te probeer antwoord, is dit interessant om die situasie in die Romeise Ryk met ons s'n te vergelyk. Andrew Dalby bespreek in sy boek Language in danger volledig die verskynsel waarom tale uitsterf.

Deel op

Enigeen in die Romeinse Ryk wat Latyn as moedertaal geleer het, het 'n voorsprong gehad. As jy nou nog Grieks ook magtig was, is jy as 'n meer afgeronde mens beskou. In gekultiveerde kringe moes jy af en toe 'n Griekse woord kon laat val. Maar jy moes weet wanneer om dit te doen. Dit was pure aansit, wat moes toon dat Latyn net nie oor die regte woord beskik nie, maar Grieks wel. Dit het ook geïmpliseer dat jy vlot in Grieks was, 'n taamlike statussimbool. Is dit nie amazing(!) dat hoe meer dinge verander, hoe meer bly hulle dieselfde nie.

NUUT!

Maar selfs nodiger as om Grieks te leer, was dit om Latyn te leer. Die Romeinse owerheid was nie nasionalisties of chauvinisties oor taal nie. Anders as in ons tyd is daar nooit wette gemaak wat mense verplig het om Latyn te leer nie. Politici moes Latyn ken, want dit was die taal van die Senaat. En regsgeleerdes moes, want alle hofsake is in Latyn, en af en toe in Grieks, aangehoor. Maar vir mense sonder politieke ambisie en wat regsgeleerdes kon vermy, het die lewe soos altyd voortgegaan.

Hoekom is so baie plaaslike tale dan tot niet? En dit was baie. In die gebied waaroor die Romeinse keisers regeer het, is daar 'n honderd jaar voor Christus sestig tale gepraat. Vyfhonderd jaar later is net tien van hulle oor. In die weste van die Romeinse Ryk het Latyn die plaaslike tale verdring. In die ooste was dit Grieks.

Voor die Romeine hul opwagting gemaak het, is Gallies byvoorbeeld oor 'n uitgestrekte gebied gepraat: vanaf dele van sentraal Spanje tot in die huidige Turkye. (Ja, ook deur Asterix-hulle.) Die Galliërs was polities sterk, alhoewel hulle nooit 'n politieke eenheid gevorm het nie. Hulle het veral baie moeite met die opleiding van hulle druïde gedoen. Julius Ceaser skryf dat dit tot twintig jaar kon neem om een van die druïde op te lei, omdat hy so baie dinge moes memoriseer. Om geheimhouding te verseker, was dit vir die druïde verbode om enigiets van hul opleiding neer te skrywe. Gallies is een van die vyftig tale wat uiteindelik in die stof gebyt het voor Latyn en Grieks. 

Punies, wat in Noord-Afrika gepraat is, was die taal van 'n groep mense wat 'n letterkunde gehad het en wat baie vernuftig was, veral met landbou en besproeiïng. Hulle het groot biblioteke gehad, maar toe hulle in 146 vC deur die Romeine ingeneem is, is dié biblioteke verwoes. Binne 'n eeu hierna het daar niks van Punies oorgebly nie.

Aramees het egter die Romeinse Ryk oorleef. Dit word vandag nog in dele van Sirië gepraat. In die tyd van die Romeinse keisers is dit veral deur Jode gepraat. Soos vir die Galliërs is opvoeding vir die Jode baie belangrik. Anders as vir die Galliërs, het die Jode egter 'n sterk skriftelike tradisie. Soos die geskiedskiedskrywer Josefus sê, om as wys geag te word onder die Jode, moes jy die Wet ken en die Skrifte kon vertolk.

Die les vir Afrikaans? Dis nie genoeg om Afrikaans te praat nie, ons moet dit skryf ook. En ons moet dit skryf op alle terreine van die alledaagse lewe. Op hoeveel van hierdie terreine word ons klaar verplig om Engels te gebruik? 'n Mens word yskoud as jy dink wat veral by ons Afrikaanse universiteite en by werksplekke oor die algemeen aan't gebeur is. En meteens begin daardie jogurthouertjies met of sonder Afrikaans krities belangrik lyk. 

Die tale wat wel uitgesterf het, is dié waarvan die sprekers afhanklik geword het van Rome vir hul oorlewing en welvaart. Van die tale wat oorleef het, is waar die sprekers, miskien vanweë afgesonderheid of ontoeganklikheid, eenkant gehou is van die Romeinse kultuur of terwyl hulle gebly het waar hulle is, geen kans gehad het om te deel in Romeinse welvaart nie. 

Van laasgenoemde is daar twee voorbeelde – Illeries (wat beskou word as die voorloper van hedendaagse Albanies) en Vaskonies (wat beskou word as die vroeë Baskies). Beide Albanies en Baskies, wat vandag nog bestaan, word gepraat in afgeleë, bergagtige gebiede, wat min Romeinse invloed toon. Is 'n volkstaat dalk tog noodsaaklik vir Afrikaans se oorlewing?

Image

Etruskiese vrou

Etruskies is gepraat is deur 'n konfederasie van stede in Toskanje, en was 'n taal van wetenskap en godsdiens. Eens op 'n tyd, so is gesê, het Romeine skool toe gegaan om Etruskies te leer, soos wat hulle later Grieks geleer het. Etruskiërs was veral bekend as waarsêers en die laaste heidense keiser het in 365 nC Etruskiese toekomsvoorspellers by hom gehad toe hy Persië binnegeval het. 

Image

Etruskiese skrif, maar die taal het weens die sprekers se tweetaligheid uitgesterf

Maar ten spyte van hulle hoogsontwikkelde kultuur en hulle kundigheid was Etruskies ook nie beskore om te oorleef nie. 'n Honderd jaar voor Christus kan 'n mens (letterlik) sien die skrif is aan die muur vir dié taal. Dit was toe dat die Etruskiërs tweetalige grafstene begin oprig, 'n duidelike bewys dat die mense en die hele gemeenskap tweetalig begin word het. Uiteindelik sou hulle almal net Latyn praat. Om 'n fyn beskaafde kultuur en 'n klomp kundigheid te hê en selfs om as konsultante gebruik te word, is dus ook nie genoeg vir 'n taal se voortbestaan nie. 

En sien 'n mens hierdie tweetalige "grafstene" nie elke dag in Afrikaans meer word nie? In die Rooi Rose van Junie 2009 kom die Idols-aanbieder, Liezel van der Westhuizen, vir die joernalis verbasend Engels voor. En dan kom die antwoord hoekom. Liezel was in Engelse skole en slaan gou oor na Engels as haar gebrek aan Afrikaanse woordeskat haar laat vasdraai.

Dit bring 'n mens sommer by Dalby se beskrywing van 'n taalverskuiwing by 'n indiwiduele gesin in die Romeinse Ryk. En dit kom tog so bekend voor! So 'n gesin kon besluit om niks met die nuwe taal te doene te hê nie. Maar dan sou hulle hul afsny van 'n moontlike inkomste en verbetering in hul lewensomstandighede. Vir handels- en werksgeleenthede was Latyn noodsaaklik. En as hulle besluit om Latyn te ignoreer, sou hulle kinders buitendien opnuut moes besluit of hulle dieselfde gaan doen.

Die minderheidsgroep kon egter ook besluit het om Latyn te probeer praat as dit nodig was soos met kliënte of werkgewers. Uiteindelik sou hulle, met oefening, in staat wees om Latyn goed genoeg te praat vir alledaagse gebruik.

Van dan af moes hulle oor hul kinders se opvoeding 'n besluit neem. Hulle kon aandring dat net die moedertaal gepraat word. Dis die makliker keuse, maar kon die kinders benadeel: dit sou gou duidelik word dat daar meer geleenthede was vir jongmense wat Latyn kon praat. Soos om, in ons tyd, Engelse aanbieders op Idols te kan word. As hulle sou besluit om te weier om Latyn te praat, sou die volgende geslag buitendien weer opnuut moes besluit om Latyn in die huis te praat of nie.

Hulle kon ook besluit om hul kinders liewer Latyn te leer, so goed soos hulle kon en hulle aanmoedig om meer te leer. Die kinders sou dan min of meer tweetalig grootword. Hulle sou hul moedertaal by die huis en met die bure praat, maar in die handels- en werkswêreld Latyn. Die volgende geslag sou dan al hoe meer na Latyn neig, want dit is die taal van geleenthede en voortuitgang.

Net diegene wat 'n sekere kulturele bewustheid gehad het, sou voortgegaan het om hul moedertaal in stand te hou, sê Dalby. Die res sou elke volgende geslag minder en minder die ou taal praat en meer en meer die nuwe een totdat die ou taal uiteindelik heeltemal vergete is.

Het Afrikaners daardie kulturele bewustheid? 'n Mens se eerste reaksie op daardie vraag, is 'n onomwonde nee. Maar daar is tog ligpuntjies, wat 'n mens moed gee. Een is die geweldige oplewing in Afrikaanse musiek en die Afrikaanse musiekkanaal MK op Dstv wat op 21 Junie 2008 'n twee uur lange pretdokumentêr oor Afrikaanse musiek uitgesaai het, is 'n duidelike bewys daarvan. Dié program is juis vervaardig om te probeer uitpluis waarom jong mense vandag na Afrikaanse musiek luister terwyl hulle dit nie in die 1960's en 1970's gedoen het nie. 

Daar was ook die afgelope vyf jaar 'n ontploffing in nuwe Afrikaanse tydskrifte. Die aantal kinderboektitels in Afrikaans, vertaal en oorspronklik, het ook drasties toegeneem. En hofsake om Afrikaans as voertaal by skole te behou, is ook positief.

Dis dalk goed as 'n mens ter wille van daardie kulturele bewustheid vir Afrikaners 'n meer wetenskaplike rede, as blote hardkoppigheid, gee waarom dit belangrik is om hul taal in stand te hou. Linguïste soos Dalby is oortuig daarvan dat elke taal op aarde 'n unieke denk- en kennissisteem bevat. Gaan die taal verlore, raak daardie anderster kyk op die wêreld ook verlore. Dieselfde argument as vir biodiversiteit in die dierewêreld geld hier: raak die genepoel van 'n spesie te klein, steek allerhande afwykings kop uit. Net so met die ideëpoel van die mensdom soos vervat in sy tale.

Dus: praat Afrikaans waar jy kan. Skryf dit waar jy kan. Dring daarop aan waar jy kan. En koop tog Afrikaanse boeke en CD's! Sodat die uniek-Afrikaanse manier van dink bewaar kan bly vir jou en jou kinders.

no deposit mobile slotsАлександр Фильчаков прокурор

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.