Die uil van Minerva – ‘n repliek oor Afrikanerpolitiek

Deel op

Ek wou nog vir Dan Fourie ná sy verdere kommentaar op Litnet geantwoord het, toe doen Blou Makou 1, 2 en 3 dit sommer namens my (én Pieter Mulder). Melt het my gevra om Mulder se boek, "Kan Afrikaners toyi-toyi" hier op LitNet te resenseer. Tot dusver is ek so halfpad daardeur en ek moet sê: ek is aangenaam verras. Uiteindelik is Pieter ook 'n Afro-realis (Stephen Smith van Negrologie-faam se term) en hy glo ons kan Suid-Afrika en Afrika 'n beter plek maak, mits ons besef dat ons nie in Europa is nie en dat ander reëls hier geld.

Deel op

Maar daaroor later meer. Laat ek op Dan Fourie se punte van kritiek antwoord:

NUUT!

Dankie vir die kompliment oor my skryfstyl, maar lees ook wat Jelleke Wierenga hier skryf. Sy laat Afrikaans regtig klink soos Van Wyk Louw se beiteltjie, genoeg om die aardbol middeldeur te kloof.

Ek dink nie ek sweep mense emosioneel op nie. As jy dink wat Zille in die afgelope verkiesing gedoen het, is dit niks anders as swart gevaar nie: "Stop Zuma!" Vir haar het sulke emosionele opsweping goed gewerk en ongelukkig oortuig jy die gemiddelde kieser nie met 'n logiese verhandeling nie, maar met een of ander slagspreuk.

Anders as baie regse Afrikaners, was ek nog nooit teen Jode nie. Die ou storie van "onder my beste vriende tel Jode (en Jodinne). Een van my grootste bewonderaars tans is nog 'n Joodse dame wat besonder goed Engels skryf, Ilana Mercer, wat in die VSA woon, maar hier gebore is.

Wat die Engelse betref, geld dieselfde. Maar soos 'n Rus (wat nogal vlot Afrikaans praat!) nie lank gelede aan my gesê het nie: "Dis nie dat ons Russe nie van Engelse hou nie; die probleem is die Engelse hou nie van ons nie!" Dis ongelukkig 'n feit van die geskiedenis dat Brittanje, asook die plaaslike Engelse elite wat maar nog steeds pro-Brits is, die afgelope 200 jaar alles in hul vermoë gedoen het om ons en ons taal te vernietig. Selfs Zille, wat tans deur die meerderheid Afrikaners by die stembus ondersteun word, is nie eintlik anders as Somerset, Milner of Trevor Huddleston nie; sy sien ons as 'n lastige oorblyfsel wat in die groter, bowenal Engelse "Suid-Afrika" moet oplos.

Laas het ek na Byron verwys. Vanoggend ontdek ek dié mooi reël in een van sy gedigte, "Hints from Horace":

Birds breed not vipers, tigers breed not lambs.

Dis in die aard van die Engelse en hul geskiedenis om te wil heers en oorheers, selfs nou waar hulle eiland tot 'n taamlik bankrot middelslagmoondheid verval het.

Iets wat ek graag sou wou aanpak, sou 'n studie wees in die trant van: "Die 200-jarige oorlog: Brittanje se veldtog teen die Afrikaner". Niemand het nog spesifiek op daardie probleem gefokus nie, omdat daar al honderd jaar lank 'n politiek van wit nasionalisme gevolg word – wat nou in die DA natuurlik 'n uiters vreemde en skynheilige gedaante aangeneem het. Maar ons moet vir eens prinsipieel begin dink en nie meer "opportunisties" (jou eie beswaar) nie. Die Engelse rol in dié land en vanuit die Verenigde Koninkryk (darem 'n mooi naam daardie, nie waar nie, die Verenigde Koninkryk) was vanuit 'n Afrikaneroogpunt nog altyd negatief, vernietigend. Hoe kan ons ons nog verbeel dat daar iets van 1910 en die Boer-Brit-versoeningsprojek oorgebly het?

In dié opsig is die Ou Suid-Afrika, die 1910-staat, finaal verby. Et tant mieux! soos die Franse sê, soveel te beter. Dit bevry ons van die dubbelslagtigheid, tweetaligheid en die kruis van 'n dubbeldooridentiteit.

Die meeste Afrikaners, veral diegene wat in Afrikaanse gebiede woon, weet nie eintlik veel van Engelse en veral van Engeland af nie. Selfs dié wat daar gaan werk, ervaar die Brit as kollega, as amptenaar en selfs vriend. Maar hy sien nie die Brit in sy historiese en politieke dimensie raak nie, die Machiavelliaanse dienaar van die ryk of die kind van Churchill wat tydens die Eerste Wêreldoorlog uitgeroep het:

“I think a curse should rest upon me – because I am so happy. I know this war is smashing and shattering the lives of thousands every moment and yet – I cannot help it – I enjoy every second.”

Net so is daar vandag Engelse wat elke sekonde van die Afrikaner se gestadigde ondergang geniet, want dit was so beplan. Die Foreign Office en die Britse ambassade het geweet as hulle ons in dié eenheidstaat in kan snoeker en – in weerwil van ons spartelende magteloosheid – nog boonop die welvaart van veertig miljoen swartes ons verantwoordelikheid kan maak, dan verdrink ons in ellende.

Soos die ekonoom Tony Twine verlede week met groot genoegdoening op Classic FM opgemerk het n.a.v. Pieter Mulder se aanstelling as adjunkminister: "I think he did it to kill off the Freedom Front altogether." Die blote feit dat daar nog 'n enkele party in die parlement bestaan met vier skamele lede wat namens iets soos "die Afrikaner" wil praat, is steeds ongewens. Eers wanneer daar geen politieke party oorbly wat hoegenaamd enige gedagte aan Afrikanervryheid of -soewereiniteit in sy geledere koester nie, sal die Engelse projek in Suid-Afrika, die 200-jarige oorlog, volbring wees. Dis 'n oorlog wat met 'n groot verskeidenheid wapens geveg is en steeds geveg word: met staal en bloed, sekerlik, maar ook met etniese suiwering, met woorde, koerante, boeke, films, propaganda, ekonomiese middele, en as dit moet: met terroristegeweld of die aanstigting daarvan.


Toevallig is vandag (20 Mei) die 26-jarige verjaardag van die Kerkstraatbom, wat vanuit Londen beplan en uitgevoer is. Ek weet nie hoe Trevor Huddleston gevoel het toe hy daarvan gehoor het nie, maar ek is seker dit was nie so ver van "I cannot help it – I enjoy every second" nie. Tot vandag toe weet die Britse geheime diens alles wat die ANC doen en nie doen nie; wil jy my vertel hulle het nie van die Kerkstraatbom geweet nie? En nie 'n vinger verroer om dit te keer nie…

Die Engelse is vir seker nie ons bondgenote nie, ook nie die plaaslikes nie. Daar is uitsonderings, in Pretoria en op die platteland waar hulle in 'n groot mate verafrikaans en met Afrikaners ondertrou het. Tydens die KKNK iewers in 2005 het 'n Britse immigrantevrou na my toe gekom en trots vertel hoe sy tydens die vyftigerjare Afrikaans op die skip van Southampton af uit 'n boekie begin leer het. "Jy moet die taal van die land kan praat," het sy gesê.

Tweetaligheid werk nêrens nie, nie in België nie, nie in Kanada nie en ook nie in Tsjeggië nie. Die voertaal van Praag was eers Duits, maar is vandag Tsjeggies. Nêrens in Vlaandere of Québec sal jy 'n enkele padteken of naambord in die ander taal teëkom nie. Tensy ons iewers 'n gebied van A tot Z kan verafrikaans en moontlik vir die eerste keer in die geskiedenis Afrikaans werklik tot die status van openbare, kultuur- en wetenskapstaal gaan verhef, gaan ons nêrens kom nie. 'n Taal vra grond. Wie het dit gesê? Moontlik een van die Boshoffs, maar elke taalkundige sal daarmee saamstem.

Daarom: ons is moeg vir Engelse eksperimente. As dit nie glas of vishoeke in die boeliebief is nie, dan is dit "tweetaligheid" of die "multikulturele samelewing". Ek gún Brittanje sy multikulti en ek hoop 'n miljard Indiërs en nog 'n miljard Moslems emigreer saam met tienmiljoene Nigeriërs soontoe en gaan transformeer Brittanje net soos ons tans getransformeer word. Ek dink ek praat namens die meerderheid Afrikaners as ek sê: ons is nie meer die Engelse se proefkonyne nie. Die aangehoudenes in die maatskaplike laboratorium raak nou rusteloos; ons wil uit!

Wat "naasteliefde" betref. Ek is maar 'n sondaar, dus kom "naasteliefde" nie vir my so natuurlik soos vir baie ander Afrikaners nie. Sowel Freud as Nietzsche het gesê as jy nie vir jouself lief is nie, kan jy niemand anders liefhê nie. Hoe kan die gebreinspoelde, skuldige, selfhatende Afrikaner hom verbeel hy het sy "naaste" lief? Watter "naaste"? Bybelvertaling is nogal 'n interessante onderwerp. Op 'n keer het ek iewers gelees dat die Hebreeuse woord vir "naaste" in die Ou Testament eintlik "jou familielid" beteken. By uitbreiding: 'n lid van jou stam of jou volk. Dan is daar nog die verdere vraag: hoe kan ek my naaste liefhê as hy my kennelik nie liefhet nie?

Dit het my al baie ongewild gemaak, veral by die sogenaamde regses en konserwatiewes, maar ek glo dat politiek en godsdiens geskei moet word. In die politiek, soos in oorlog, is daar geen naastes nie; daar is net vyande en bondgenote.

Omdat ons in Afrika woon, het ons swart bondgenote nodig, vir seker. Dwarsdeur ons geskiedenis het ons sulkes gehad, of dit nou Mpande of Mangope was. Eers het ons tuislande gehad en die tuislandleiers was ons bondgenote. Nou is Suid-Afrika 'n tuisland en moontlik word die nuwe tuislandleier ons bondgenoot. Maar nooit ons naaste nie.

My punt oor die Hollanderonderwysers tydens Kruger se bewind was net dít: die ou ZAR met sy mistieke, bebaarde Boereleier het 'n paar dinge reg gedoen en een daarvan was dat Engels, anders as in die Kaap of selfs in die Vrystaat, nie die administrasietaal was nie. Kruger was sensitief daarvoor dat die Afrikaner eintlik ook 'n Europeër is en sy band met die Europese beskawing nodig het. Al was daar nie destyds opgeleide Afrikaanse onderwysers nie, kon 'n Nederlander uiteindelik verafrikaans, wat inderdaad gebeur het. Terwyl die persentasie onderwysers vanuit Engeland wat hier verafrikaans het, seker minimaal moet wees.

Indien die Vryheidsfront Plus in 2011 die Pretoriase stadsraad inpalm, moet hy onmiddellik Engels as administrasietaal afskaf en dit Afrikaans maak, of dalk Afrikaans en Pedi of Tswana. Volgens die Grondwet van 1996 moet 'n provinsie of staatsdepartement twee amptelike tale hê, maar 'n munisipaliteit kan eintlik maak wat hy wil. Of soos artikel 6(3)(b) dit stel: "Munisipaliteite moet die taalgebruike en -voorkeure van hul inwoners in aanmerking neem."

Jy het natuurlik volkome gelyk as jy sê dat ons ook nie deur Hollanders regeer wou word nie. Sedert die Franse Revolusie en Kaapse Patriotbeweging in die 1790s wou ons vry en onafhanklik wees.

Ek weet nie eintlik of ek "as skrywer bekendheid wil verwerf" nie. Ek is 'n bibliofiel en hou van boeke, maar ek is ontnugter met die litêre bedryf. Die laaste goeie romans en poësie in die Weste is in die laat negentiende eeu en vroeë twintigste eeu geskryf.


Met die uitsondering van argitektuur, het al die kunsvorme in die Weste dekadent geraak: musiek, kuns, letterkunde. Ook die filosofie met sy groteske twyfel aan sin en identiteit. Daar is min boeke deesdae waarvan mens kan sê dat dit mooi of intelligent is. Ek dink selfs die literatuur wat daar onder die kommunisme in Europa geproduseer is, was beter as wat ons tans in die Weste kan lees. Ek ontvang af en toe katalogi en boekaankondigings uit Duitsland en veral Frankryk en daar is niks interessants of aangrypends nie. Dis alles 'n soort ars moriendi, die Westerse selfmoordbrief aan die nageslag wat daar nie gaan wees nie want witmense het nie meer kinders nie.

Hier en daar is daar miskien iets uit Japan wat die moeite werd is: Kawabata, Mishima… die Japanse obsessie met eer, asook hul waardering vir strakheid en eenvoud red hulle. Die Japanse identiteit gaan staande bly, bloot omdat hulle nooit immigrante gaan aanvaar nie.

Nietzche was heeltemal reg toe hy die kiem van nihilisme en ondergang reeds in die negentiende-eeuse Europa bespeur het. Ek dink nie hy sou kon glo wat ons vandag ervaar nie: die heerskappy van slegte smaak, Ortéga se "opstand van die gepeupel". Of miskien juis wél.

Maar kom ons praat bietjie politiek.

Dis nou interessant dat jy die vader van moderne Turkye, Moestafa Kemal Ataturk, ophaal. Weliswaar het hy Turkye vermoderniseer, maar hy was ook 'n nasionalis wat op onafhanklikheid en soewereiniteit gesteld was, 'n bietjie soos Kruger of Verwoerd.

Oor die afgelope tweehonderd jaar wou Brittanje en die Britte nie gehad het ons moes onafhanklik wees nie. Eers het ons weggetrek, toe annekseer hulle ons. Agterna ervaar ons Suid-Afrikanisme en tweetaligheid en, uiteindelik, in 1961 word ons by verstek weer 'n Republiek. Maar toe kom Harold McMillan se "winde van verandering op die Afrikakontinent", wat Brittanje in wedywering met die Russe eintlik self aangestook het. Die "wind van verandering" (eintlik het hy die enkelvoud in sy toespraak gebruik) was die laaste ou stink poep van die Empaaier, die Britse goewerneur in sy wit vlootuniform wat die Union Jack stryk en vir oulaas die fregat bestyg om die hawe van Mombasa uit te vaar. Het jy al ooit Africa Addio gekyk? Twee Italianers het dit alles op die destydse silwerdoek vasgevang: die oorspronklike oehoeroe met drankwinkels wat geplunder word, die swartman se wittandvreugde om uiteindelik van die blanke baas ontslae te wees. Vyfduisend Arabiere in hul wit gewade wat vlug tot op die strand en daar uitgemoor word, hul maagdelike wit lyke op die sand met die seebries wat hulle liggies roer. Idi Amin, die joviale Oegandees met 'n briljante humorsin. En dan Suid-Afrika, die "uitsondering" waar die Nasionale Party "vas staan" en tienermeisies sorgvry op Durban se strand baljaar, 'n strand slegs vir blankes. In ons land sou die Italiaanse filmmakers, Gualtiero Jacopetti en Franco Prosperi, hoor: hier gaan dit anders wees. Geen wanorde, geen blanke of Arabiese of Indiërvlugtelinge vir ons nie. Geen geweld, geen chaos, geen oehoeroe met geplunderde winkels en murasies waar eens plaasgeboue was nie.

Brittanje – die gewonde ou seedier wat eens die oseane regeer het, maar dié taak aan sy Amerikaanse halfbroer moes afstaan – het egter van beter geweet. Wat Harold McMillan aan 'n galante, geamuseerde Verwoerd op 3 Februarie 1960wou oordra, was: julle beurt kom nog. Wag maar en sien. Maar ook: ons wat Engeland is, gaan sorg daarvoor. Want ons kan nie ons kolonies afstaan, ons vlae stryk en ons geliefde koloniale leefwyse vaarwel sê terwyl julle rustig op die ou trant voortgaan nie.

Die dapper witmense van Suidelike Afrika (ons bondgenote van die Verwoerdiaanse tydvak) veg voort, in Angola, Mosambiek, Rhodesië en Suidwes. Hulle wen feitlik elke veldslag, hulle keil die terries op. Daar is geen noemenswaardige militêre vooruitgang deur die Sowjet-geborgde "bevrydingsbewings" nie, nóg in Angola, nóg in Mosambiek, nóg in Rhodesië, terwyl die ANC in die sewentigerjare nie eens poog om enige oorgrensoperasies teen Suid-Afrika te loods nie.

Die patroon regdeur Suider-Afrika was presies dieselfde: die blankes het die veldslae konsekwent gewen, maar die oorlog verloor. Want uiteindelik was dit nie 'n fisiese oorlog nie; die werklike probleem was nie "op die grens" nie. Dit was in die dekadente gees of verstand van die Westerse joernaliste en politici wat met hul pasifistiese, anti-wit ingesteldheid die gesig van witmense wat iewers in Afrika regeer nie verder kon verdra nie. Met Engeland natuurlik op die voorpunt: die sosialistiese Guardian met sy sieklike Britse moralisme, die polities korrekte BBC met sy soort atawistiese Afrikanerhaat wat van geslag tot geslag vanaf Majuba oorgedra is, asook Cambridge en Oxford waar dit skielik modieus geraak het om 'n Marxis te wees, so net voor die Berlynse muur sou tuimel.

Binne sestien jaar, vanaf die sogenaamde Angelierrevolusie in Portugal op 25 April 1974, wat die ineenstorting van Angola en Mosambiek tot gevolg gehad het, is Rhodesië, Suidwes-Afrika en Suid-Afrika insgelyks deur swart-nasionalistiese groepe verower en verteenwoordig die Afrikaner vandag die laaste oorblyfsel van 500 jaar Europese betrokkenheid in Suider-Afrika.


Waarskynlik besef die meeste Afrikaners reeds instinktief dat ons land geen "uitsondering" is nie. In weerwil van al die leë Britse beloftes wat daar in aanloop tot 1994 en sekerlik daarna aan ons gemaak is, dat ons nie eendag soos die retornados van Angola en Mosambiek as vlugtelinge iewers in Europa gaan beland nie, weet ons dat ons tyd op dié vasteland haas uitgespeel is. Die Europeërs wil ons egter nie terug in Europa hê nie en verder suid lê die see.

Ons is in Afrika. Hierdie verskriklike feit, wat tydens al die jare van voorspoed en stabiliteit gedurende die twintigste eeu ontken is, word elke dag by ons tuisgebring. Al skryf Beeld of Die Burger telkens nog 'n ode aan die demokrasie en aan FW de Klerk, die groot Britse staatsman wat Britse beleid sneller as enige van sy koloniale voorgangers in ons land geïmplementeer het, word dit deur die voorblad van die koerant weerspreek. Moord en doodslag; dis al wat sogenaamde "demokrasie" in Suid-Afrika gebaar het. En natuurlik: regstellende aksie, taaldiskriminasie, riool in die drinkwater, elektrisiteit wat met 34% styg om nog Mercedesse vir die direkteure van Eskom te koop of hulle ewe aardige bonusse te betaal. Ons word fisies aangeval en finansieel gemelk. Die Britte met hul absurde humorsin noem dit "demokrasie", maar selfs Monty Python is ná 'n ruk nie meer snaaks nie.

Die vraag is nou: hoe ontkom ons hieraan? Hoe skrik ons wakker uit hierdie Britse nagmerrie, uit die konsentrasiekamp wat soos 'n winkelsentrum vermom is?

Daar is mos 'n frase in Jean-Paul Sartre se toneelstuk, Huis clos: "Hel is ander mense." (L'enfer, c'est les autres). 'n Groter hel, sou ek sê, is veertig miljoen ánder mense.

Iewers in Suid-Afrika moet daar 'n plek wees waar genoeg van ons eie mense, d.w.s. Afrikaners, woon dat ons nie gedurig deur mense van ander kulture, sedes, gewoontes, gedrag en ingesteldheid omring hoef te wees nie. Dis nie nodig om Orania toe te gaan om so 'n plek te vind nie. So 'n stad bestaan wel en heet steeds Pretoria, hoewel die ANC-stadsraad aldaar oor die afgelope jare gepoog het om die oorspronklike naam uit te wis en sodoende van sy eie inwoners te vervreem.

Die oogluikende antwoord vir die Afrikaner se gebrek aan enige heimat of heenkome is om die Pretoriase munisipaliteit by die stembus te verower en die Vryheidsfront Plus is die ideale voertuig daarvoor.

Ekself beplan om myself in Pretoria tydens die volgende munisipale verkiesing in 2011 verkiesbaar te stel. Die Vryheidsfront Plus gaan sonder twyfel kandidate in elkeen van die dertig "blanke" wyke stel, in die tradisionele Pretoria en Centurion (voorheen Verwoerdburg).

Volgens die statistiekdiens woon daar 650 000 mense in Pretoria en Centurion, waarvan 80% Afrikaners is. Elke persoon, of hy of sy nou bedlêend in 'n ouetehuis is, in 'n rystoel of nog op skool en nie agtien jaar oud nie, sal voortaan moet registreer om in 2011 te kan stem. Ook sal die Vryheidsfront die Afrikaners in Pretoria wat tans die Engelse party, die DA, ondersteun, moet oortuig om voortaan Afrikaans te stem.

Ons het net twee jaar. 'n Wonderwerk is nodig. Maar ons weet dat die Afrikaner voorheen al wonderwerke verrig het. In 1936 ná die Smelting tussen Smuts en Hertzog was daar net vier LV's van die Nasionale Party in die parlement oor. Hulle het nie geld gehad nie, hulle het nie media gehad nie – met die uitsondering van Die Burger onder A.L. Geyer. Skaars twaalf jaar later het hulle vir die grootste verrassing by die stembus in die geskiedenis van Suid-Afrika gesorg toe hulle Smuts se Verenigde Party verslaan het. Ons weet nie presies wat daardie wonderwerk moontlik gemaak het nie. Anders as wat ons vandag vertel word, was apartheid nie werklik 'n groot kwessie tydens die verkiesing nie. Veel eerder was elke stem vir die Nasionale Party 'n stem téén Engeland, téén die gedagte dat Suid-Afrika vir altyd onder Britse heerskappy sou staan.

Die stryd tussen die DA en die Vryheidsfront Plus om die opposisiestem onder die Afrikanerkiesers van Pretoria kan iets van dieselfde allure hê. Aan die een kant 'n party, die DA, groter, sterker, met Britse selfversekerdheid en wat met al die gesag van die groter Anglo-Amerikaanse ryk praat. Die party hou die Britse ideaal van die multikulturele samelewing aan ons voor. Aan die ander kant, die uitdager, die Vryheidsfront Plus, kleiner, armer, maar met die geloof dat hy oor die talent en die wil beskik om die vryheid van die Afrikanervolk – ten minste gedeeltelik, op plaaslike vlak – te herwin.

Die oogmerk vir albei partye, hetsy alleen, hetsy gesamentlik, is om 'n meerderheid van die totale stemme in die metroraad met die gedrogtelike naam "Tshwane" te verower. Een van die heel eerste doelwitte ná die oorname sal wees om die naam van die munisipaliteit vir goed te verander na iets soos Groter Pretoriase Munisipaliteit.

Elkeen van die dertig wykskandidate sal moet sorg dat hy 'n span van etlike honderde vrywilligers versamel wat elke buurt kruis en dwars sal moet deurwerk om te sorg dat:

1. Elke lewende siel geregistreer is. In die praktyk gaan dit beteken om mense aan te ry as dit moet na die OVK-kantore in Sunnyside, tesame met hulle groen ID-boekies.

2. Elke geregistreerde kieser op stemdag sy stem vir die VF+ en vir Afrikanervryheid uitbring.


Die prys waarvoor ons gaan veg, is 'n stad, 'n beskeie politieke entiteit met beperkte magte, maar met 'n begroting van R14 miljard, 'n dieretuin, museums, skole, universiteite, die Staatsteater, alles dinge wat ons kan gebruik om 'n Afrikanerhergeboorte te laat plaasvind. Pretoria beskik oor die Blou Bulle, maar ook oor sy eie vlag:

Image

Die stadsvlag van Pretoria

 

Interessant en toevallig genoeg, lyk die stadsvlag van Praag in die Tsjeggiese republiek, identies – behalwe dat die kleure omgeruil is:

Image

Die stadsvlag van Praag, Tsjeggi?

 

Daar is reeds Radio Pretoria, hoekom nie ook Pretoria-TV of 'n eie bank (die Nasionale Bank van Pretoria, die NBP) en 'n Pretoriase aandelebeurs wat reg oorkant die Reserwebank se gebou kan verrys nie? Met verbeelding en inisiatief is alles moontlik.

Daar is soveel Afrikaners wat reeds boedel oorgegee het. Hulle glo dat ons tyd verby is en dat ons finaal deur groter magte oorwin is. Dit wat voorlê, lyk na nag.

Maar soos Hegel gesê het: die uil van Minerva sprei haar vlerke eers as die skemer daal. Die donker tyd wat ons nou beleef, is juis die tydvak van Afrikanerhernuwing.

Elke dag lees of hoor ek iets wat my oortuig dat ons besig is om die geestelike kettings wat ons tot dusver aan bande gelê het, af te werp. Ek dink ons gaan verbaas wees om te sien hoe gou vryheid weer mag aanbreek.

игри для детиФильчаков прокурор харьков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.