Manuel se beplanningskommissie en kommunisme

Deel op

Dit is maklik om die verskuiwing na links in die ANC se ekonomiese beleid mis te kyk. Veral na die versekerings wat president Jacob Zuma en Mathews Phosa beide plaaslik en in die buiteland aan oorsese beleggers gegee het.

Die sekerste teken van die swaai na links is egter die instelling van die sogenaamde Beplanningskommissie onder minister Trevor Manuel. Volgens berigte beoog hierdie departement om te verseker dat hulpbronne optimaal bestee sal word. Presies wat daarby bedoel word, moet nog gesien word, maar die terminologie herinner skerp aan die voormalige Sowjetunie se sentrale ekonomiese beplanningskommissie.

Sentrale ekonomiese beplanning het in die voormalige Sowjetunie ontwikkel na die Bolsjewistiese rewolusie van 1917. Vladimir Lenin se oorlogskommunisme is in 1921met die Nuwe Ekonomiese Beleid vervang wat deur die skepping van ‘n Ekonomiese Beplanningskommissie genaamd die Gosplan, ingelui is.  

Hoewel Gosplan se funksies aanvanklik baie vaag was, het dit mettertyd in ‘n magtige staatsinstrument ontwikkel. In 1928 publiseer Gosplan sy eerste vyfjaarplan, wat die begin was van die formele sentraal beplande ekonomiese stelsel, wat as kommunisme bekend geword het. 

Die probleem van die vyfjaarplanne was nie soseer dat daar fout was met die beplanning as sulks nie, maar dat dit op totaal onrealistiese voorspellings van ekonomiese groei gebaseer was. Hierdie vyfjaarplanne het daarna die hele ekonomiese stelsel ingesluit en het selfs sosiopolitieke programme bepaal.

In sy geheel gesien probeer ‘n sentraal beplande ekonomie om verskeie firmas met ‘n enkele groot firma, die staat, te vervang wat die hele ekonomie wil beheer. Interessant om daarop te let dat die meeste sakeondernemings inderwaarheid sentraal beheerde ekonomiese stelsels is, sommige baie klein, ander weer reusagtig groot soos multinasionale firmas regoor die aardbol. Met hul spesifieke mark en produkfokus vaar firmas gewoonlik baie goed in die markgedrewe ekonomie en bestaan daar dus geen behoefte vir een groot firma om die land se ekonomie te bestuur nie.

Maar wanneer die proletariaat van ‘n land die septer swaai, en daar groot ekonomiese ongelykhede tussen verskillende klasse en rasse bestaan, ontstaan die gevaar dat die politieke mag wat ‘n gepeupeldemokrasie oplewer, aangewend mag word om die ekonomiese wanbalanse uit te wis. Arm werkloses was nog altyd ‘n vrugbare teelaarde vir sosialisme.

Hoewel die SA Kommunistiese party te klein is om ‘n verkiesing op sy eie te veg, bestaan die gevaar dat die landsekonomie gaandeweg in die rigting van ‘n sentraal beplande ekonomie gestuur sal word. In hierdie geval het die ANC nie die SAKP gekoöpteer nie, maar andersom. Die SAKP is die ANC se eie broederbond wat die beplanning en dinkwerk doen.  

Juis daarin lê die grootste uitdaging vir honderde duisende Afrikaners, wat veel meer talentvol en vindingryk is as die handjievol kommuniste, om ‘n bydrae te maak om te voorkom dat die land tot net nog ‘n mislukte kommunistiese staat sal verval.

gamesданильченко юрій броніславович

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.