Handel huisoordrag vinnig af s? VF+

Deel op
Die Vryheidsfront Plus het gesê dat die oordrag van eienaarskap van munisipale huurhuise aan arm gesinne spoedig moet begin en dat dit vanjaar afgehandel moet word.

Die Burgemeester het by gister (Donderdag 21 Mei) se Burgemeestersrede aangekondig dat titelaktes van munisipale behuising aan arm gesinne regoor die stad oorgedra sal word.

Die VF Plus het die aankondiging verwelkom en sy tevredenheid uitgespreek dat die Burgemeester spesifiek na die huise in Wolmer in Pretoria-Noord, wat hoofsaaklik deur arm wit gesinne bewoon word, verwys het.

Volgens dr. Conrad Beyers, VF Plus-raadslid, sloer die oordrag van eienaarskap al vir jare en het inwoners al gewoond geraak om gemengde boodskappe te kry oor wat met hulle wonings gaan gebeur.

“Die mense van Wolmer en ander gebiede is al moedeloos omdat daar permanent ‘n vraagteken oor die toekoms van hulle huise hang. Hierdie aankondiging van die Burgemeester sal hopelik ‘n einde aan die mense se onsekerheid bring. Dit moet egter in die komende finansiële jaar afgehandel word”, het Beyers gesê.

Die VF Plus veg sedert 2007 daarvoor dat die inwoners van Wolmer en ander gebiede hulle huise moet kry. Die ervaring was egter dat daar in die onlangse verlede teen arm wit gesinne gediskrimineer is wanneer oordrag van munisipale huurhuise ter sprake was. “Hopelik is hierdie diskriminasie nou op ‘n einde en die VF Plus sal alles in sy vermoë doen om die behuisingsprobleem in die munisipaliteit te help verlig vir al sy inwoners.”

In Mei 2007 het ‘n herrie losgebars toe die ANC die arm wit gesinne in Wolmer se huise aan ‘voorheen benadeelde’ mense wou gee. Dit sou honderde mense dakloos gelaat het. Die VF Plus se heftige verset daarteen, en die gevolglike openbare protes teen die planne, het die ANC in 2007 daarvan laat afsien.

“Hierdie bewys dat die VF Plus se benadering tot die politiek vrugte afwerp. Die VF Plus het heftige kritiek teen die ANC se optrede in Wolmer uitgespreek, maar terselfdertyd het die VF Plus met die plaaslike ANC-leierskap onderhandel oor ‘n oplossing. Hierdeur het die VF Plus tot die redding van die mense van Wolmer gekom”, het Beyers gesê.

Dit het tyd geword dat die inwoners van Pretoria die VF Plus ‘n kans moet gun om vir hulle regte op te staan, verwysende na die 2011-munisipale verkiesing. “Pretorianers het ‘n keuse: stem vir die DA om op elke hoek en draai histeries op die ANC te gil sonder enige effek of oplossing; of stem vir die VF Plus wat die vermoë het om werkbare oplossings vir inwoners te beding.”

Die VF Plus het gesê dat die party die oordrag van titelaktes aan die inwoners van Wolmer sal monitor. Die party is ook besig met samesprekings om die oordrag van eienaarskap van munisipale huurhuise elders in die stad te fasiliteer.

паркет восстановление циклевкаалександр лобановский харьков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.