
Rusland bekou kernkrag deesdae weer as 'n lewensvatbare opsie nadat die land 20 jaar lank onder die gevolge, psigies en ander, van Tsjernobil moes ly. Benewens die 26 nuwe reaktors in beplanning, wil die Russe ook 20 reaktors elders bou.
Russiese kerningenieurs is tans in Indië en Bulgarye waar hulle turbines en reaktordoppe oprig en daar is planne om dieselfde in China, die Midde-Ooste, Suidoos-Asië en Noord-Afrika te doen. Rusland beplan eweneens 'n reeks drywende kragsentrales wat seewater kan ontsout in verafgeleë plekke om die aardbol.
Die Russiese maatskappy Rosatom sal saamwerk met Siemens. Die voorsitter, Sergei Kiriyenko, een van Boris Jeltsin se staatmakers, het $4.6 miljard tot sy beskikking vir die oprigting van nuwe kernkragsentrales. Daar word beplan om ongeveer $47 miljard te investeer en die Russiese regring sal 40% bydrae.
Vladimir Poetin het aangekondig dat 25 tot 30% van Rusland se energie deur kernkrag voorsien sal word binne 20 jaar. Siemens en Rosatom glo daar sal 'n aanvraag vir ongeveer 400 reaktors wees teen 2030 wêreldwyd.
Die Russe hoop om deur Siemens die Latyns-Amerikaanse mark, 'n tradisionele Siemensmark, ook te betree. Rusland beskik oor meer as 40% van die wêreld se uraanverrykingskapasiteit.
Ingenieurs is tot dusver beïndruk met die tegnologie wat in die nuwe projekte aangewend sal word en beskryf dit selfs as uitstekend.