‘n Lomp of fyn strategie?

Deel op

ImageDr Pieter Mulder verklaar dat hy wyd geskakel het met instansies soos die FAK, AgriSA, Solidariteit en die Afrikanerbond voordat hy pres. Zuma se aanbod aanvaar het. Verder word verklaar dat verskeie boere die VF+ geskakel het om hulle met dr Mulder se aanstelling geluk te wens.

Deel op

Mens wonder terloops hoeveel van daardie organisasies se lede vir die VF+ gestem het? Die organisasies wat geraadpleeg is, het waarskynlik 'n lang lys geldige redes waarom positiewe samewerking tussen die ANC en die VF+ wenslik is. Hulle sien waarskynlik ook baie voordele daarin om by beleidformulering vir die landbou betrokke te kan raak en dat 'n nuwe omgewing van ontspanningspolitiek aangebreek het. 

ANC-woordvoerders beweer dat die aanstelling gesien moet word teen die agtergrond van Zuma se beleid om voedselsekuriteit te verseker en dat hy uitreik na die Afrikaanse minderheidsgroep om breër versoening in die land te bewerkstellig. Daarmee is weinig fout mee te vind, maar is die uitvoering van die plan nie verdag nie? Het ons nie hier te make met 'n veel fyner strategie nie?

Sou dit primêr oor voedselsekuriteit gegaan het, sou mens verwag het dat Zuma 'n gesoute landbouman met onkreukbare politieke getuigskrifte uitgekies het, iemand gelykstaande aan byvoorbeeld wyle Dries Bruwer of 'n Piet Gouws. 

Maar deur die leier van 'n opposisieparty uit te kies, iemand wat weinig van die landbou af weet, koöpteer hy nie net die man nie, maar ook die hele party, of hy dit nou wil erken of nie. Hy kies sy man dus nie as landbouman nie, maar as 'n leier van 'n politieke party waarmee hy om strategiese redes nouer samewerking soek.  

Daar is niks fout te vind met politieke partye wat saamwerk om 'n gemeenskaplike doel te bereik nie. Dit gebeur daagliks in elke land op aarde. Maar daardie spel het bepaalde reëls.

Die belangrikste reël is dat daar reëls moet wees wat in 'n wettige ooreenkoms vervat is. Dit verskaf nie net die morele grondslag vir individuele lede se optrede nie, maar stel ook perk en paal aan hul politieke uitsprake. Die reëls bepaal verder op welke ander vlakke en terreine daar saamgewerk sal word, byvoorbeeld op provinsiale en derdevlakregerings, poste wat vir die minderheidsparty gereserveer sal word in byvoorbeeld portefeuljekomitees, as burgemeesters, as speakers, en so meer. 

Geen politieke party kan sonder so 'n ooreenkoms met 'n ander politieke party saamwerk nie en dit sou uiters naïef wees om te verwag dat die VF+ dit kon doen. Sonder 'n ooreenkoms word 'n party ontman.

Sou daar dus nie 'n samewerkingooreenkoms tussen die VF+ en die ANC bestaan nie, kan Pieter Mulder hoogstens die aanstelling as adjunkminister aanvaar op voorwaarde dat so 'n ooreenkoms binne 'n maand gesluit sal word.

Daarsonder word hy bloot gekoöpteer en versmelt die VF+ met die ANC sonder enige voorbehoude of politieke gewin vir sy kiesers. Dit sal ook die gewisse einde van die VF+ beteken en bestaande LP's en stadsraadslede sal voor die volgende verkiesing by die ANC moet aansluit om hul werk te kan behou.

Mens kan dus verstaan waarom sommige VF+-lede ongemaklik voel, maar verkies om om den brode by die besluit van die leierskap in te val.

'n Gekoöpteerde VF+ sonder 'n formele ooreenkoms sal nooit as te nimmer die Pretoriase stadsraadsverkiesing kan wen nie, want die DA sal hulle van die tafel vee. Darenteen, sou die VF+ en die ANC formeel saamwerk, kan hulle by die adjunkministerskap begin en nou reeds bepaal hoe munisipale verkiesings gehanteer sal word sodat goeie dienslewering verseker sal word – weliswaar ook moontlike roterende burgemeesters. 

In die sakewêreld bestaan die begrip van "deal creeping". Dit is wanneer een party by 'n ooreenkoms algaande sy voordele verbeter, veral by mondelingse transaksies of swak omskrewe verpligtings. Om deal creeping te vermy, word goed geformuleerde samewerkingsooreenkomste dus opgestel. By die politiek is dit presies dieselfde.

Mens kan nou reeds voorspel dat, sou 'n VF+ raadslid hom te buite gaan oor een of ander ANC-sotheid, die ANC-leierskap vir dr Mulder tot orde sal roep. Dit kan hom sy werk kos. 

Daar is mos niks wat hulle verhoed om dit te doen nie. Om bloot op Zuma se woord te gaan deur die pos te aanvaar is om vir die ANC 'n blanko tjek te gee.

Ek het nog nooit 'n wit politikus vertrou nie, waarom sou mens nou skielik 'n swart politikus vertrou?

free no download slots with bonus no registrationАлександр Фильчаков прокурор

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.