Min dae vir die VF+

Deel op

Soos vele kommentators oor die VF+-deelname aan die Zuma-administrasie uitgewys het, hou dit potensieel werklike voordele vir die Afrikaner in. Wat ook uitgewys moet word, is dat indien Mulder werklike invloed kan beding dit die regse Afrikaner, wat onder die Mbeki-regime geheel en al gemarginaliseer was, nou nader na die sentrum van SA politiek bring. Dit is besonder betekenisvol omdat die liberale sg. "wit Afrikaanses" binne die Naspers- en DA-definisie, saam met hul Engelse sielsgenote tot amper totale politieke irrelevansie gerelegeer word. Dit is veral die "wit Afrikaanses" wat die groot verloorders is, soos onder andere deur die bitsigheid van Lizel Steenkamp se rubriek van voorverlede week in Rapport gedemonstreer word.

Deel op

Mens moet egter nie dat die Engelse liberales se administratiewe oorname van die Wes-Kaap mens mislei om te glo dat hulle wel relevant is nie. Immers is die Wes-Kaap maar bloot 'n admininistratiewe eenheid met geen noemenswaardige politieke magte nie. Mens moet onthou dat SA steeds 'n eenheidstaat verteenwoordig en dat die provinsies geen werklike federale eenhede is nie. Mens sou selfs kon argumenteer dat die provinsies in hul, huidige magtelose vorm, oorbodig is en onnodige kostes meebring. Verder moet ook in ag geneem word dat die DA se meerderheid in die Wes-Kaap 'n tydelike verskynsel is. Die spoedige swart kolonisering van daardie provinsie gaan binne enkele jare die DA se ondersteuningsbasis demografies oorheers. 

Die DA se hoop om onder swart kiesers te groei, sal 'n blote onrealistiese droom bly. In die aanwesigheid van 'n aansienlike blanke minderheid sal swart kiesers altyd rassolidariteit by die stembus toon. Die DA het sy plafon bereik. Die DA kon alleen presteer solank die rasminderhede nog enige geloof in deelname het. Uiteindelik sal die DA dieselfde paadjie as die DTA in Namibië loop waar dit oor tyd van 23% tot 5% gesink het. Soos die DA het die DTA ook aan die illusie gelei dat n "veelrassige" liberale party 'n swart bevrydingsbeweging as regering kan ontset. Hoewel die DA dikwels sigself probeer prys as 'n party wat astronomiese groei toon, moet in ag geneem word dat die DA nie uit 'n vakuum ontstaan het nie. Die DA is die direkte versmelting van die ou DP- en NP/NNP-ondersteuningsbasisse.

In die volgende syfers kan ons sien hoe die DA en sy voorgangers inderwaarheid oor die afgelope 15 jaar agteruitgegaan het:

Verkiesing 1994: NP: 20,39% en DP:1.73% = 22,12%

Verkiesing 1999: NNP: 6,87% en DP:9.56% = 16,43%

Verkiesing: 2004: NNP: 1,65% en DA:12,37% =14,02%

Verkiesing 2009: DA 16.66%

 

Howel daar dus 'n verbetering in 2009 plaasvind, vertoon die totale persentasie vanaf 1994 'n afwaartse kurwe. Die 2009-verbetering het ook waarskynlik met die persona van Zille en die aanjaag van vrese by minderhede rondom Zuma te make. Nie een van laasgenoemde faktore sal ooit stemme vir die DA onder swartes kan wen nie, inteendeel… Ondanks die DA se charismatiese en hoogs emotiewe veldtog, kon die party nie herstel tot die 22,12% van 1994 nie. Ook kon die party bykans geen deurbraak by swart kiesers maak nie. Ek wil die voorspelling waag dat die DA in 2014 terug na 14% of selfs minder sal val. Dit sal gebeur selfs al sou die ANC se steun ook daal. Die blanke en Indiërkomponente van die DA se ondersteuningsbasisse word weggekalwe deur negatiewe demografiese groei a.g.v. lae geboortekoerse en hoë emigrasiesyfers. Die kleurlingkomponent neig om te swaai tussen die DA en ANC. Terselfdertyd is daar astronomiese bevolkingsgroei onder swartes weens 'n kombinasie van 'n hoë geboortegroeikoers en ongebreidelde immigrasie vanuit Afrika suid van die Sahara.

,Hoewel die DA se stempersentasie aansienlik groter as die VF+ s'n is, is dit maar steeds baie klein (16,66%), gesien in die groter geheel. Met geen manier om ooit die regering te word nie, geen ideologie wat dit van die ANC onderskei nie en geen spesifiseerbare belangegroep wat daarmee identifiseer nie, bly die DA 'n soort generiese party wat sonder blote getalle eintlik geensins lewensvatbaar is nie. Daarteenoor mag die VF+ 'n breukdeel van die landwye stempersentasie trek, maar dit verteenwoordig 'n baie spesifieke belangegroep. Die party se bestaansreg is dus nie op blote getalle gegrond nie.

Die DA kan dus geensins daarop aanspraak maak dit dit namens enige belangegroep praat nie, immers verwerp die DA die blote idee van groepsbelange. Indien die meeste Afrikaners die proporsionele kiesstelsel beter verstaan het en dus sou begryp dat dit nie nodig is om bloot vir 'n party te stem wat blyk dat dit die meeste stemme teen die ANC gaan monster nie, sou Afrikanerkiesers meer geneë gewees het om te stem vir 'n party wat hul spesifieke belange sou bevorder. In so 'n geval sou ondersteuning vir die VF+ sekerlik baie sterker wees. Mens sou dus baie waarskynlik die DA se ondersteuning, onder Afrikaners, in 'n groot mate kon toeskryf aan Afrikaners se gebrekkige begrip rondom die proporsionele kiesstelsel.

Die VF+ se toekoms is egter ook onseker en hang grotendeels af van wat tydens die VF se deelname aan die ANC-regering gebeur. Mulder het 'n baie kort vensterperiode waarin hy wesenlike wins vir Afrikaners d.m.v sy deelname aan die Zuma-regering sal moet toon. My gevoel is dat hy nie meer as twee of drie maande het nie. Indien hy nie 'n daadwerklike toegif aan Afrikaners in hierdie kort periode kan verkry nie, sal hy en die VF in die geheel as geko-öpteerdes afgeskryf word. Tydsverloop is belangrik. Dit is soos die patella-refleks in menslike fisiologie. As die hamertjie die knie slaan, moet die onderbeen onmiddellik spring. As die been eers teen more spring, dan is dit nie meer moontlik om die beensprong in verband met die slag van die hamertjie te bring nie.

Sou hulle 'n wins vir die Afrikaner op die langer termyn beding, sal die uitwerking daarvan op hul gewildheid suiwer afhang van hoe groot hierdie wins is. Indien 'n geringe wins, is dit moontlik dat Afrikaners dit nie noodwendig in verband met Mulder sou bring nie. Indien Afrikaners dit wel as die bemiddelingswerk van Mulder beskou, sou 'n geringe toegif 'n gevoel van "die kool is nie die sous werd nie" laat ontstaan. 

Hoe groter die toegif is en hoe meer omstrede, hoe waarskynliker dat mense so 'n beleidsverandering in verband met 'n faktor of party buite die ANC sal verbind, selfs al het meer tyd verloop. In so 'n geval sou dit baie makliker vir die VF+ wees om dit as hul sukses op te eis. Nogtans, as te veel tyd verloop sal die VF+ se ondersteuners begin kriewelrig raak en geleidelik hul ondersteuning van die party onttrek. Die enigste manier hoe die VF+ hierdie deelname in 'n partywins kan omskep, is indien hulle binne die volgende paar weke 'n aansienlike wins vir Afrikaners kan beding. In enige ander scenario is dit spekulatief tot watter mate kiesers 'n toegif met die VF+ se deelname sal verbind.

Wat die party se toekoms betref, is die VF+ se deelname aan die Zuma-regering dus 'n groteske dobbelspel. Terwyl die DA na alle waarskynlikheid op 'n afwaartse kurwe verkeer, hang die VF+ se ganse oorlewing van hierdie ooreenkoms met die ANC af. Indien die party nie binnekort 'n radikale wins vir Afrikaners hierdeur kan beding nie is die VF teen die 2014-algemene verkiesing dood. Mulder maak 'n groot fout as hy dink dat dit 'n eksperiment is waarop hy bloot kan uitloop, sou dit nie werk nie. Die emosionele prys wat die paradigmaskuif van deelname aan 'n ANC regering, van VF+-lede en -ondersteuners vereis, mag nie onderskat word nie. Indien die VF+ se deelname misluk, sal hierdie prys sy tol eis. Kiesers sal nóg Mulder nóg die VF+ vergewe indien hierdie opoffering om dowe neute was. Indien die deelname-ooreenkoms nie 'n radikale wins vir Afrikaners meebring nie, kan die VF+ maar ontbind.

вертолетики на пульте управлениятопкарго

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.