Is Pieter Mulder in Dingaan se kraal sonder wapens?

Deel op

Die uitnodiging van president Jacob Zuma aan dr. Pieter Mulder om 'n pos van adjunkminister in die ANC se administrasie te vul, het nie as 'n verrassing gekom nie. 

Ná alles vry Afrikaners en Zuma al 'n paar jaar, sedert sy afsetting as vise-president, oor wedersydse konstruktiewe betrokkenheid. Ek was persoonlik by ten minste drie van hierdie gesprekke met mnr. Zuma teenwoordig. 

Deel op

Die vraag is of Pieter Mulder ná die verkiesing met 'n getekende ooreenkoms Zuma se stat binnegegaan het en of Mulder gewoon sonder ooreenkoms betrek is. Met betrek word bedoel op die agenda van die ANC gekoöpteer is.

Koöptering is 'n gevaarlike basis van samewerking tussen partye, want die kontoere word nie getrek nie en daar word geen inhoud aan samewerking gegee nie. Koöptering voorveronderstel ook 'n sekere mate van kompromie, van goeie gedrag en van akkommodasie. Dit is gewoon wensdenkery dat die VF met 'n aggressiewe opposisiestyl sal kan voortgaan in die Wetgewers waar daar VF-lede verkies is. 

Daar is in Rapport berig dat die Vryheidsfront reeds in Februarie 2009 met Zuma gesprek oor samewerking gevoer het. Dit beteken dat daar daarna ruim tyd was om 'n onderhandelende dokument op te trek, wat die parameters stel en die grense trek waarbinne konstruktiewe samewerking kan plaasvind. 

Die verrassing is dat die VF se breë hoofbestuur klaarblyklik nie hieroor ingelig is nie, totdat die aankondiging gekom het en die mini-bom gebars het. 

Verhoudinge tussen die ANC en die VF kom egter 'n lang pad. 

As ek reg onthou, was Zuma die kontakpersoon tussen die onderhandelingspan van generaal C. Viljoen met die ANC.

Indertyd was daar 'n Oraniabeheerde heersersgroep in die VF wat van meet af aan sedert 1993 geglo het dat die ANC selfbeskikking aan die Afrikaner sal gee.

Vir eers is daar die kwessie van die Grondwet (1996). In 'n debat binne die VF het die heersersgroep hulle daarop beroep dat die Grondwet as sodanig afdoende vir territoriale samewerking voorsiening maak, dat dit net 'n kwessie van tyd sou wees voordat 'n volkstaat realiseer. 'n Voorwaarde is gestel dat goeie verhoudinge met die ANC in stand gehou moes word. Feit is dat die heersersgroep die politiek van destyds verkeerd gelees het. 

Groot was my verbasing dat die heersersgroep in die VF hom later en veral in die 2009-verkiesing teen die leemtes in die Grondwet uitgespreek het. Was dit 'n erkenning dat die VF indertyd die politiek verkeerd gelees het?  

Die heersersgroep, waaronder die Mulderbroers en die Oraniagroep, het dan ook daarvoor gepleit dat ten gunste van die aanvaarding van die Grondwet gestem moes word. Om konsensus te bereik, het generaal Viljoen indertyd beslis dat die VF oor die aanvaarding van die Grondwet, al dan nie, buite stemming sou bly.

'n Tweede insident in 1994 was toe hoofman Mangosuthu Buthelezi in die parlement 'n nota aan generaal Viljoen oorhandig het, wat min of meer soos volg gelui het:

"General, please do not allow the ANC to divide us. Let us stand together and save SA."

Toe hierdie nota op die nasionale dagbestuur van die VF bespreek is, het die heersersgroep weer geargumenteer dat samewerking tussen die VF en IVP die ANC sou vervreem en tot gevolg sou hê dat die ANC nie 'n volkstaat aan die Afrikaners sou gee nie. Ek argumenteer dat hierdie standpunt van die VF destyds die grootste enkele blaps was wat SA in 'n verkeerde rigting gestuur het. In die 2009-verkiesing het beide die VF en IVP 'n paar harde stampe en klappe gekry, waarvan dit onduidelik is of hulle daarvan sal kan herstel. 

In dr. Mulder se verdediging van sy aanvaarding van die adjunkministerskap het hy hom beroep op die standpunte van onder meer die Afrikanerbond en FAK. Ekself het my aanvanklik ten gunste van 'n ministerspos uitgespreek, maar dan duidelik op grondslag van 'n geskrewe ooreenkoms. 

Die heersende "informele" standpunt in die Afrikanerforum, waar die AB en FAK lede van is, is dat die heil van die Afrikaner in buiteparlementêre politiek gesoek moet word. Daar kan met groot sekerheid gesê word dat die ontstamde Afrikaners wat nou positief oor die adjunkministerspos is, hulle kruisies in 2009 eerder vir Helen Zille as vir die VF gegee het.

Die vraag is hoe die meerderheid van die ondersteuningsbasis van die VF oor die nuwe aanstelling van Mulder oordeel. Sal daar met dubbele mates gemeet word? Hoekom word "Kortbroek" van Schalkwyk as kollaborateur uitgemaak, maar Mulder van hierdie skeldnaam kwytgestel? 

Dit is tog korrek dat Van Schalkwyk in die kabinet groter inspraak as minister het as 'n adjunkminister wat nie in die kabinet verkeer nie en eintlik die assistent van 'n minister is. 

Hoe dit ook al sy, die keuse van dr. Pieter Mulder het 'n nuwe dimensie aan Afrikanerpolitiek verleen en die uitkoms of gevolg daarvan sal eers later in verkiesingsuitslae manifesteer. Die groot vraag is of Mulder se toetrede tot die stat van Zuma ons weer skerp sal herinner aan Piet Retief se heldhaftige, dog uiters dwase stap om sy wapens buite te laat. Retief se lot is alom aan ons bekend!

Feit is dat die kiesers nie maklik verkeerde besluite van 'n party vergeet nie en dat daar 'n ongekende skeptisisme oor politici se persoonlike motiewe bestaan.

Daar word gehoop dat Mulder die Afrikatromme sodanig sal slaan dat Afrikaners sal weet wat daar "aan de hand is", soos ons Nederlandse voorsate sou sê. 

Dr. Landman was voorheen 'n verkose lid van die VF en toenmalige lid van die breë dagbestuur.

пижама для девочки купить в интернет магазинеДанильченко Юрий Брониславович

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.