Wat de ‘heck’? – Die Boeremagsaak se sesde verjaarsdag

Deel op

"Is jy ook my pa se sussie?" vra die sewejarige klein snip oor my skouer.

"Nee, ek is sy skoonsussie, ek is met sy boetie getroud."

"My pa se boetie?" (Sy het hom nog nooit gesien nie.)

"Jou oom wat tronk toe is twee weke voor jy gebore is," vervolg Ouma hier langs my. 

Deel op

Die graadeentjie frons, maar dan onthou sy skielik – ons het haar al vertel. 

"Nou wat de 'heck' het hy gemaak," frons sy. "Hoekom is hy in die tronk?"

"Dit kan jy weer vra!… Wat de 'heck'? Hul noem dit die 'Boeremag'." 

Ek verwens myself – ek moes voor my skoonsussie uitgespring het om die hek oop te maak – dan kon iemand anders solank begin verduidelik het… Ek het saamgery Bosveld toe net om te ontsnap van die "Boeremag"-dinge en my kop skoon te maak. En hier sit ek. Vas gehek! Ons ry verder. "Wat de 'heck' het hy gemaak?" herhaal my swaer die vraag en probeer my oog in die truspieëltjie vang. Ek maak of ek dit nie sien nie. Almal lag en ek lag maar saam. Ja, die "Boeremag" het soos 'n hek homself staan kom maak in die paadjie van my lewe…

My skoonsus gee ons jongste niggie 'n drukkie skuins na agter as sy ná die tweede hek weer inklim: "Toemaar, nie een van ons ander se name sal in die geskiedenisboeke staan nie, maar jou oom wat in die tronk is, syne sal…"

Ek wonder of enige een van ons régtig kan onthou waar dit alles begin het? By drie mans wat op Gerdau op die verhoog gestaan het, met `n politieke ideaal. Hulle het die mense gewaarsku dat as hier gevaar sou kom, enige toestand soos die voorspelde "nag van die lang messe" – ook volgens die Vula-dokument en ander inligting wat na hulle aangedra is – ons onsself sou moes kon verdedig. Maar, later was daar baie dinge…

"Hoe gaan dit met die manne daar?" vra ons my skoonma se broer, waar ons in sy Bosveld-stoep se koelte sit. 

"Onder omstandighede goed, Oom weet mos – wat nie dood maak nie maak sterk!"

Herman Scheepers, wat oorlede is nadat hy 'n virus op sy brein gekry het in 2007, het altyd vir my gesê as ek hom vra hoe dit gaan: "Party dae op en ander af, maar in die deursnee nog goed." Dit lyk maar nog steeds so, Oom. Alhoewel ek dink as mens dit op 'n grafiek sou natrek, daardie gemiddeld heelwat laer is, as wat dit altyd was. Die laaste twee jaar was rof! Mens kan dit op die mans se gesigte sien – die saak het sy pond vleis gevat! Almal het oud geword. Grys! Tot Herman en Rudi, daardie twee outjies wat mos weggeloop het uit die hof, begin al silwer om die slape word. Party dae kan ek sommer sien dat dit met sommiges so gemoedslangs sleg gaan, maar as ek weer in die hof kom, sien ek dat hul ook weer moed geskep het en glimlag hul ewe breed. Hehehe, daar's een nuwe vroumens wat daar kuier en dit lyk so al vir my of Cupido daar ronddans besoektye…"

"Wat-se-pit praat jy nou?" 

"Daai engeltjie wat mens so met die pyle skiet dat jy verlief moet raak, Oom."

"O" en ons oujongkêrel-oom grom iets oor heidense gebruike. 

Ons oom staan op om die hoenderkos uit te haal – hy maak verskoning – hy is maar aldag besig.

 "Daar's seker nie in die tronk so baie werk soos hierso op die plaas nie," spot my swaer. "Ons stuur hom hier na oom toe as hy uitkom, dat hy weer kan leer werk."

"Nou waarmee hou hul hulselwers besig?" wil die oom weet.

"Hy het 'n rekenaar en 'n radio en hy kan ook flieks kyk. Ons het vir hom so 'n DVD-masjientjie gekoop." Ek verduidelik so effens, want ons oompie se enigste gevorderde tegnologie op die plaas is 'n selfoon, en ook maar net omdat dit noodsaaklik is. "Musiek is seker die belangrikste ding om hom positief te hou, hy kyk graag na André Rieu se musiekvideo's. 'n Vriend het nou onlangs vir hom 'n stel oor die dierelewe van Animal Planet gegee, wat hy oor en oor gekyk het. Dis net eers 'n hele riekmarrôl om die toestemmingsbriewe te kry, maar dan mag mens die goed vir hulle vat. Baie van die ouens het televisiestelle. As hulle radio luister, moet oorfone opsit sodat die klank nie die ander pla nie. Hy het ook 'n elektroniese klavier, so ene wat met krag werk, sonder die klankkas agter, waarop hy oefen, dit hou hom goed besig. Hy lees ook baie, al die goed waarin hy belangstel. Filosofie en sielkunde… Hy lees mos nie storieboeke nie, hy aard te veel na sy oom…" terg ek.

"Nee jong, ek lees net die Bybel en dié gaan ook maar swaar." Ek glimlag saam met die res. In my verbeelding sien ek hoe daardie hard gewerkte hande sukkel om die fyn blaaie van 'n Bybel geblaai te kry. 

"Ja, oom. Hy skrywe ook… van die ander ook. Ek wil net Maandag vir my, by Bienedell, Mike du Toit se derde boek bestel. Dit gaan oor Die Strewe en Stryd van ons Volk van 1902 tot 1994. Het oom die resensie in die nuutste Afrikaner daarvan gelees?"


"Nee jong, dié kerant sal ek eers antstaande week by die pos kry."

"In elk geval, oom, Mike se tweede boek was vir my te ingewikkeld, ek sukkel om dit klaar gelees te kry. Lyk my dis meer vir geleerde mense bedoel – mense wat wetenskapfilosofie studeer – dit gaan oor paradigmas. Ek het baie meer van sy eerste boek oor die oud-Germaanse geskiedenis gehou. Sy broer André het ook al 'n digbundel uitgegee, daar is die mooiste gedigte in! Wilhelm Pretorius het ook al van sy gedigte gepubliseer. Hy het laasjaar sy meestersgraad in Kerkgeskiedenis gekry. Hulle het glad vir hom 'n gradeplegtigheid daar (soos sy ma sê) in die skadu van die galg gehou. Die kapel waar hulle dit gehou het daar by C-maks, is mos net langs die galg. Hy is nou met sy doktoraal by Tukkies besig. Adriaan ook besig om vêrder te studeer, iets met boekhou te doen… Nee wat Oom, daar is 'n klomp van hulle wat goed besig is…"

"Dr. Lets het mos daardie boek met die spotprente oor die Boeremagsage uitgegee. Hy teken gereeld nog elke getuie en al die snaaksighede wat daar in die hof gebeur. Hy het gepraat van 'n tweede boek, een of ander tyd. Hy het mos borg gekry, maar lyk my hy is nou so baie betrokke by Boerevryheid, dat hy nie te veel kans het om dit agtermekaar te kry nie."

"Die borg-ouens glo ek nog altyd het dit maar net so erg (al is dit op 'n ander manier), as dié wat toegesluit is. Oom moes daardie gesigte gesien het toe ek gister vir hulle elkeen gevra het, wat hulle vir my kan vertel van die ses jaar wat nou verby is! Oom Fritz het sommer vir my gelag: "Hene ou kinta, jy vra nog?" "Tannie weet mos!" het klein Jacques geantwoord. Deon het nou een dag gespot dat hy so permanent by die hof is dat die bank in die portaal waarop ons altyd sit en wag, nou syne is. Ek het so gelag, want hy reken toe dis tyd dat hy bedank. Ek het lustig saam gespot dat dit nou een plek is waar jy kan bedank tot jy blou is, dit sal nie aanvaar word nie. Hulle haal maar almal deur 'n dun rietjie asem. Moet elke dag in die hof wees en hulle kan nie ander geld verdien nie, en moet huur betaal en nog kos koop. Petrolgeld ook hê en parkeergeld betaal. In die tronk is die goed gelukkig nie nodig nie. Ons vrouens dra net kos aan, want die tronk s'n is nie aldag eetbaar nie, maar eintlik gaan dit meer daaroor dat hulle iets van die huis af kry. Oom weet mos, 'n man se pad na sy hart loop deur sy maag. 

"Hoe gaan dit nou met die ou wat so met die suikersiekte gesukkel het?" wil my skoonsussie weet.

"Sy vrou het laas week gekla dat sy suiker weer hoog was, maar dit gaan nou weer beter. Hulle lyk my is darem net twee in die tronk wat so met hulle gesondheid sukkel. Twee van die borg-ooms het al hartaanvalle gehad en Oom Vis se vrou het net anderdag vir my gesê hy word nou te oud vir die tronk. Maar wat, jou boetie was nog nooit in sy lewe so uitgerus nie, hy sê hy is nou al moeg gerus."

"En die kleingoed? Samel julle nog vir hulle geld in?" wonder sy verder.

"Die kleinstes is skool toe vanjaar, André se twee het so goed met die atletiek gevaar, glad medaljes huis toe gebring. Die klein Vrystatertjie het ook vir sy pa kom kuier met sy skoolbaadjie en al; hy het nou begin stoei en hy sit glo sy ma ore aan as dit by skaakspeel kom. Die ander het ook almal sulke langbeendogters geword, mens ken hul amper nie as hul by die hof kom kuier nie. Daai oudste een van Johan het glad anderdag vir haar Oupa vertel hy sal die moesie op haar been moet verwyder, want binnekort sal sy begin skeer en dan gaan sy dit raak skeer. Sy was so 'n kleutertjie toe ons haar die eerste keer gesien het… Oom Vis se jongste seun het ook sy graad in Ingenieurswese klaargemaak. Sy ouboet is nou terug op Universiteit, besig met sy meestersgraad. As mens so na die kinders kyk, besef jy eintlik eers hoe lank ons al met die storie besig is… Ekself het niks meer met die Helpmekaar-hulpfonds te doen nie, maar hul het die einde van laasjaar vir almal geld vir geskenkies gegee en het in die begin van die jaar skoolfonds betaal. Die fonds gee darem ook vir die mans sakgeld elke maand en telefoonkaartjies om mee te bel. Daardie kaarte red my gewoonlik aan die einde van die maand."

"Hoe lank is dit nou al?" 

"Die eerste drie was Aprilmaand al sewe jaar toegesluit. Ek gaan nie weet wat om met my man te maak as hy die dag huis toe kom nie. Ek raak soms benoud as ek daaraan dink; dit gaan 'n groot aanpassing wees! Maar wat, ek herinner hom gereeld daaraan dat ek sy eerste én tweede vrou sal wees en hy moet net onthou dat 'n tweede vrou baie bederf moet word. Hy sal byvoorbeeld nie mag nee sê as ek wil kom kuier hier by Oom in die bosveld nie," lag ek na Oom Boet toe.

"Ek hoor die saak kos 'n almintige klomp geld."

"Die Regshulpraad praat van twintig miljoen, Oom. Dis maar omdat daar so baie mense betrokke is. Dis die Regter en sy twee assessore, die drie staatsaanklaers, die ondersoekspan, die verdediging se advokate en dan is daar nog die polisie om hulle op te pas. Ek tel daar is ses voertuie wat saamry as hulle vervoer word. Dis nie eintlik vir my snaaks dat dit al so 'n groot klomp geld is nie. En dit gaan nog meer word, ek dink nie die saak sal nie voor die einde van die jaar klaar kry nie."  

"Nou hoe so?"


"Dinsdag, die 19de, sal dit die saak se sesde verjaarsdag wees. Hulle is nou met Dirk Hanekom besig in die bank. Hy is beskuldigde nommer twaalf. Dit gaan maar woes, maar daar was al groot pret en lekker lag. Veral toe Tom Vorster in die bank gestaan het. Hy en die Staatsadvokaat, Fick, is natuurlik vet en vuur bymekaar. Fick het hom eendag toegesnou dat hy lieg, waarop hy vir Fick vertel het dat hy wat Fick is, vet is. Almal het gelag, hoewel die Regter het hul berispe en gevra om nie so persoonlik in die hof te wees nie. Die Regter self het maar gesukkel om nie te hard te lag nie. Ek moet Oom sê, ons weet nie wat hy op die ou einde gaan besluit nie, maar een ding moet ons darem vir Regter Eben Jordaan gelyk gee, hy het 'n goeie humorsin.

In die koerant het hulle ook genoem dat die saak die laaste tyd slegs 55 minute gemiddeld per dag aan die gang was, maar hulle sê nie dat daar alweer 'n lang reses is wat vir ons voorlê nie. Tom se suster is oorlede in die tyd wat hy getuig het en hy het 'n paar maal gevra om bietjie af te staan. Hy't glad geweier om verder te getuig, want hulle het hom toestemming geweier om die begrafnis by te woon, nes die tyd vir Mike en André, en ook vir Adriaan toe hulle pa's oorlede is. Nee wat Oom, Tom het hulle mooi vertel hoe sy en sy medebeskuldigdes se menseregte geskend is gedurende die ses jaar wat hy sit. Ook sommer dat mens nie kan verstaan dat ander dan sommer net so mediese parool kry nie of dat sake sommer net teruggetrek word nie."

"Dis maar erg om in daardie bank te sit, Oom. Daar word baie gepraat, die oorkonde(waar hulle elke woord optik wat gesê word in die hof) is reeds 38 000 bladsye lank. Daar is nog 9 beskuldigdes oor, ek weet nie of almal van hulle gaan getuig nie. Die ouens wat min dinge teen hulle het, vat omtrent so week of drie in die bank. Ander van hulle staan meer as 'n maand in die bank. Ek dink Tom Vorster en Mike du Toit het die langste van almal getuig, dis seker logies want hulle is die twee wat beskuldig word dat hulle die 'leiers' was. Die twee Pretorius-boeties wat skuld beken het, sal dalk die tyd verkort, maar dit weet niemand ook vir seker nie. Ons weet ook nie hoeveel getuies elkeen gaan roep nie. 

Dis nou 'n ander ding daai Oom – om mense te gaan vra om te getuig. Sommiges steek viervoet vas! Die ouens sweet in daardie bank, maar daar was darem 'n paar manne vir wie ek die wêreld se respek gekry het oor hoe hulle dit hanteer het. Veral vir Gideon Meiring! Hy was die tweede getuie vir die verdediging en hy het baie mooi verduidelik, (uit ondervinding) dat ons onsself sal moet beskerm. Dit sluit aan by die mans se verweer dat die hele ding defensiewe beplanning was. Daar was 'n oud-weermagoffisier ('n baie netjiese man), ek het nou sy van vergeet, wat vir die regter gesê het dat dit vir hom 'n voorreg was om daar te gaan staan. Van nog 'n ander offisier sal ek altyd onthou dat hy vir die regter gesê het, mens het nie altyd die luukse van 'n terugblik nie. Boet sal onthou word omdat hy vir die regter gesê het dit sal vir hom voel hy smokkel met 'n bord kos as hy die vraag antwoord. Die staatsaanklaer was natuurlik woedend en het gesê Boet skeer die gek, maar soos oom weet dit is maar Boet se manier van praat. Ek het ook eendag daar gesit en krimp in my hart vir 'n ou wat vir die regter verduidelik het dat dit sy heel eerste keer is wat hy in 'n hof kom. Almal kon sien hoe swaar hy kry om daar te staan. Maar ten minste het hy probeer! Die verdediging se getuies is maar min, nie naby aan die 162 wat die staat geroep het nie."

"Maar elke ou moet nou maar sy kans gegun word om sy saak te stel. Die ouens beskuldig mekaar maar erg. Hulle is soos daardie twee opgeskote bulletjies wat Oom nou daar in dieselfde kampie het. Net, hulle kampie is ekstra klein! Het my man net so uitgekryt dat hy 'n verraaier is. Ons sal seker maar eers op die heel einde sien wat is wat regtig Oom, ek weet tog nie. Ek weet net dis baie ingewikkeld. En mens het nie so mooi perspektief as jy so betrokke is by 'n ding nie. Nog minder as dit so lank aanhou. 

Die 'Boeremag' is by uitstek 'n storie van verraad en nou praat ek nie van hoogverraad nie. Verraad wat anders lyk as wat ons dink. En vraagtekens, Oom. Baie dinge om die saak maak nie mooi sin nie. Dr Theuns Botha het getuig dat hulle toestemming van Mbeki gehad het om die informante van die AWB te ondersoek, maar toe hulle by die 'Boermag' kom is daardie toestemming summier teruggetrek. Die doktor se plaas het toe ook afgebrand terwyl hy getuig het, ek kon nie help om te wonder of dit net so 'toevallig' was soos die tas met hofdokumente en aantekeninge wat uit beskuldigdes nommer een en twee se advokate se kar gesteel is nie. In die eerste jaar wat hulle in die tronk was, het Koos Venter in die Afrikaner 'n artikel geskrywe: "Boeremag of Intelligensie-Operasie," ek begin al hoe meer dink dat hy 'n punt beet gehad het. Maar Oom, ek glo ons is hier om te leer van politiek, dít wat ander ons nie kan vertel nie…"

Die gesprek dwaal na die politiek in die algemeen en almal gesels saam. Ons oom wend hom tot my skoonpa: "Ou Swaer, die skrif is aan die muur vir ons in hierdie land. Ek sê vir jou Botha en De Klerk het ons uitverkoop daardie jare al… ek sê jou dis klaarpraat met ons ou volkie… daar's nie hoop vir ons nie…"

"Nee alla wêreld, Oom, ons kan dinge verander! Ek sien Mike praat in sy boek van drie tydperke in ons geskiedenis en ses belangrike datums tussen die Boereoorlog en die ANC-magsoorname. Dis nou tyd dat ons na 'n vierde tyd beweeg. My man het my juis anderdag beduie van die boek wat hy gelees het waarin die skrywer reken dat die Weste alles sal moet herdefinieer. Die huidige religie(en ek weet oom verskil van ons daaroor, maar ons gaan nie nou daaroor stry nie), die sosiale orde, ekonomiese verhoudings, lewens- en wêreldbeskouing en veral die politieke voorstelle moet verander word." 


Soos die kampies waardeur ons nou gery het, die datums as hekke… want kampies sonder hekke sal nie werk nie, besef ek skielik. 

"Boonop dink ek dat almal uit die 'Boeremag' se foute kan leer. En behalwe dit, Oom – daar is altyd hoop," vervolg ek minder driftig.

Die oom luister egter nie meer na my nie, hy's nou goed op dreef oor die ou Nasionale Party, verraad en De Klerk en kie… 

Ek staan op. "Ons sal die 'Boeremag' deursien, niks is ooit verniet nie," sê ek vir myself "dis net 'n hek in ons pad…" Ek stap in die stofpad weg van die huis af. Die Bosveld se stil geluide is lawend op my gemoed. Ek is bly ek het saamgekom. Langs die hek staan 'n groot hardekool. Daar staan 'n Afrikanerkoei langs die draad in die ander kamp. Ek strek my arms uit en meet op 'n afstand haar horingspan – van vingerpunt tot vingerpunt. Sy lig trots haar kop en stap weg. In Uys Krige se gedig van die plaashek, staan daar 'n kremetart, dink ek. Wyl ek by die hek sukkel om die draadlus oor die houtpaal te hak, is die gedig se laaste strofes deel van my oomblik:

Die stilte in my's volkome met niks troebels, niks verward.

Ek lig die knip… Ek maak 'n hek oop in my hart.

 

магазины детских товаровДанильченко Юрий Брониславович

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.