Maar daardie produk wou maar net nie van die rak kom nie. Inherent moes kiesers self werklik niks daaraan doen nie, hulle moes net trek. Die party sal deur 'n beleid van minsaamheid, liewer as konfrontasie verseker dat daar stadig maar seker op die pad na 'n volkstaat gevorder sal word.
Volgens wetenskaplike navorsing onder beskerming van die Volkstaatraad wat onder Afrikaners binne die Pretoria-Centurion-gebied gedoen en wat deur prof. Lawrence Schlemmer geredigeer is, was dit duidelik dat die meerderheid van daardie gebied se Afrikaners 'n uiters sterk identiteitsgevoel ervaar en hulself as Afrikaners in die eerste plek sien, gevolg deur 'n godsdienstige of gebiedsbewussyn.
Twee alternatiewe strategieë, naamlik bemindmaking of konfrontasie was op die oog af twee uiteenlopende hanteringstrategieë, maar die navorsing het bevind dat daar 'n onderliggende gemeenskaplikheid by die meerderheid Afrikaners bestaan, naamlik 'n aktiewe benadering tot bedreiging, of dit nou bemindmaking of konfrontasie behels.
Dit is vandag voor-die-hand-liggend dat Afrikaners nooit hul toekomstige fisiese en kulturele veiligheid sal abdikeer aan 'n klein groepie politici binne 'n volksvreemde parlement nie. Die aangewese plek daarvoor is op die derde regeringsvlak, waar praktiese samewerking en/of konfrontasie die aangewese strategie is. Daar kan kiesers deel word van die proses om hul selfbeskikking te verwerf.
Helen Zille het nou bewys dat dit moontlik is om selfbeskikking op selfs tweedevlakregering te verkry, dws om selfseggenskap oor eie sake te bekom, deur goeie organisasiewerk en praktiese politiek. As Zille dit op provinsiale en munisipale vlakke kan doen, kan die VF+ dit seer sekerlik op munisipale vlak doen.
Dus, as die DA Kaapstad kan vat, kan die VF+ Pretoria vat.
Waarom kan Pretoria se burgemeester nie 'n Afrikaner wees nie? Waarom moet Soshanguve, wat binne 'n ander provinsie geleë is, besluit wat die inwoners van Pretoria se lot moet wees? Kan die organisasie, Regslui vir Afrikaans, nie 'n grondwetlike klasaksie namens Pretoria se inwoners teen die owerhede loods wat die munisipale grense wederregtelik gewysig het met die uitsluitlike doel om 'n kunsmatige swart meerderheid daardeur te bekom nie? As die argument dan gaan oor derdevlakdiens aan minder gegoede gebiede kan mens dit verstaan. Maar Pretoria kan nog aanhou om daardie gebiede op 'n agentskapsbasis te bedien. Om dit as verskoning te gebruik om Pretoria se inwoners te ontkieser is ongrondwetlik en moet met alle middele tot ons bekikking teengestaan word.
Die VF+ kan aan sy kiesers die keuse bied: óf 'n Afrikanerstadsraad wat die begrip van dienslewering verstaan, óf 'n ANC-stadsraad wat vinnig besig is om in duie te stort.
Herbou die party om die kiesers van Pretoria wat reeds sterk DA-neigings begin toon.
Gee vir hulle 'n verbeeldingryke en haalbare plan.
Hou op op te sê: "Moenie die kiesers weer hoop gee nie, laat hulle liewer volkstaat toe trek!"
Onsin! Die mense leef reeds in 'n volkstaat, hulle moet dit slegs vat!
En met die regte leierskap sal dit moontlik wees om dit sonder 'n enkele skoot by die stembus te doen.
Maar daar is baie werk wat gedoen moet word.