Het Afrikaners liberaliste geword?

Deel op

Dit is na die 2009-verkiesing duidelik dat Afrikaners en Bruinmense van die Kaap oorwegend vir die liberaal Demokratiese Alliansie gestem het. Die Bruinmense van die Kaap het klaarblyklik vir die DA gestem in die hoop dat die DA hulle teen Xhosa-oorheersing sal beskerm. Die Afrikaners, daar en teen, het weer klaarblyklik nie vir iets gestem nie, maar teen die ANC. So het hulle slagoffers van die Zille-verkiesingsfoefie geword van “Stop Zuma!”.

Die ANC se spogvertoning het bewys dat die swart bevolking nog steeds glo dat die ANC ‘n Vader Krismisparty is wat vanaf die wieg tot die graf vir sy mense sal sorg.

Die demografie is eenvoudig so dat die Vryheidsfront homself deur die verkeerde posisionering in die politiek ‘n stadig maar sekere hongerdood laat sterf.  

Die kleiner partye – met ‘n Christelike religieuse rigting – is bykans uitgewis, vir seker omdat hulle nie voor die verkiesing aan die voorgestelde alliansie van partye meegedoen het nie.  

Dit bly ‘n onverklaarbare raaisel dat die Christen-demokrasie tot dusver nie deur die kiesers as ‘n wesenlike alternatief vir die liberale en sosiale demokrasieë gesien word nie. Dit, ten spyte van die feit dat SA se burgery sg. meer as sewentig persent van Christelike geloofsoortuiging is.

Daar is eintlik net drie politieke modelle wat gebruik word vir die strukturering van die samelewing:

• Die Christelike regstaat maak ‘n onderskeid tussen organe van die staat, teenoor organe van die burgerlike samelewing. Hierdie model werk met die beginsel van interne outonomie tussen organe van die staat (die wetgewende, uitvoerende en regsprekende organe). Die model werk ook met die beginsel van binne-staatlike vryheid en vrymag vir elk van die organe van die burgerlike samelewing in verhouding tot die organe van die staat. Die samelewing bestaan hiervolgens uit individue, maar ook uit ‘n ryke verskeidenheid van organe van die staat (wetgewend, uitvoerend, ens), van gemeenskappe (Afrikaners, Zoeloes, ens) en van organe van die burgerlike samelewing (skole, kerke, sportvereniginge, ens.). Daarom werk die Christelike regstaat nie net met individuele menseregte nie, maar ook met religieuse, kulturele en taalgemeenskappe se kollektiewe regte

• Die liberale demokrasie is die geykte Angel-Saksiese Westminster-stelsel wat koppe tel en die meerderheid aan die bewind stel. Die samelewing is die opstelsom van vrye individue. Vir die liberale demokrasie is ‘n akte van individuele menseregte genoegsaam.

• Vir die magstaat is die staat ‘n oorkoepelende samelewingstruktuur wat voorskriftelik vir die organe van die staat is en ook vrymag het om in die interne sake van die organe van die burgerlike samelewing te meng en voor te skryf.

In die Christelike samelewingsleer word nie oordrewe waarde aan die volk as losse samelewingstruktuur van persone met dieselfde kultuurpatroon toegeken nie. Volksgemeenskappe is egter kenbaar deur die georganiseerde kultuurinstellinge daarvan. Beskaafde kultuurgemeenskappe mis ‘n permanente gesagstruktuur van tradisionele leiers. By tradisionele stamme is dit anders, want daar is oorgeërfde leierskap.

Betreffende die partye is my tesestelling die volgende:

• Dat die DA die diep plurale aard van die Suid-Afrikaanse samelewing nie verstaan nie en dus binne ‘n Angelsaksies-kapitalistiese ideologie geen hoop het om na die Swart bevolking deurbrake te maak nie.

• Dat die ANC se “peoples”-konsep wesenlik rassisties is, want met “people” (Abantu) word swartmense bedoel, terwyl die Afrikaners Abelungu is wat weer onderskei word van Amangisi (die Engelssprekendes).

• Dat die Vryheidsfront hom in die publiekregtelike politieke omgewing soos ‘n privaatregtelike kultuurorganisasie gedra en dat die veranderlike demografiese werklikhede dui op al minderwordende Afrikaners wat deur ‘n mitiese Volksgeist gedrewe is.

Die dilemma van die Vryheidsfront is dat hy met die Afrikanervolk wil omgaan so asof die Afrikaners ‘n stamgebondenheid ervaar. Wie is die tradisionele leiers van die Afrikaner? Wat leierskap betref is die kultuur-organisasies van ‘n Afrikaanse kultuurstempel juis bekend vir versplintering. Vanuit ‘n Christelike verwysingsraamwerk is die Vryheidsfront struktureel nie ‘n Christen-demokratiese party nie, maar eerder die produk of nalewing van die humanistiese Romantiek (verering van ‘n veronderstelde mitiese volksgees) en van die Duitse Idealisme (verering van bloedafkoms en bodemverknogtheid), wat geboorte aan die Nasionaal-sosialisme gegee het.

Vervolgens word in groter detail uitgespel wat die implikasie van die Christen-demokrasie vir SA is. Aan die einde van die teks word kortliks aangedui in hoe ‘n mate die Menseregte-akte van die Grondwet (1996), van die grondbeginsels van die Christen-demokrasie afwyk.

 

Die onderliggende Godsidee in Christen-demokrasie

Die onderliggende Godsidee in die Christen demokrasie is dat God die skepper is van mens en wêreld en dat God steeds met die mens en sy omwêreld bemoeienis maak en die skepping onderhou. Vandaar die werklikheid dat daar hoogstens onderskei kan word tussen politiek en godsdiens, maar dat skeiding nie moontlik is nie.

Die pogings van die DA om politiek en godsdiens te skei, lei natuurlik na ‘n ander gepostuleerde en onskriftuurlike Godsidee dat, alhoewel God mag bestaan of dalk nie bestaan nie, Hy daar vér is, nie daagliks met die mens bemoeienis maak en by die ontplooiing van die skepping teenwoordig is nie.

Uitgaande van die veronderstelling dat die Heilige Skrif wel in duidelike terme oor God praat, kan gestel word dat alles aan God ondergeskik is (Sy soewereiniteit), dat God meelewend is en die lot van die behoeftiges wil verlig en dat God regverdig in Sy oordeel is en van die staat verwag om volgens geregtigheidsbeginsels te regeer.

 

Die Christelike mensbeskouing

Die Christendom sien ook die mens anders as die liberale humanisme. In die liberalisme is die mens die loutere produk van omgewingsfaktore en as die sosio-ekonomiese omgewing vir almal gelyk gemaak word, alle verskille uitgewis word en tot gelyke volstrekvrye individue lei. Die liberalisme glo in ‘n omgewingsdeterminisme.

In die Christelike geloof is die mens geskape na die beeld van God. Van die mens word verwag om in volledige oorgawe aan God leef. Insgelyks is die mens nie op te deel in ‘n tydelike liggaamlike mens teenoor ‘n ewige siel nie. Die mens is een in die tyd en hy is sy liggaam en is sy siel. Daarom moet die mens die Koninkryk van God reeds hier horisontaal vestig en nie leef asof die enigeste verlossing in die hiernamaals te vind is nie. Die gelowige mens wat ontdek dat hy/sy ‘n roeping reeds hier en nou het, kry ‘n nuwe perspektief op sy lewe en in sake die omringende werklikheid.

Die implikasie van ‘n Bybelse mensbeskouing is dat die mens vanaf konsepsie ‘n mens is en dat die onskendbaarheid van die ongebore baba se persoonlikheid en lewe enige willekeurige aborsie per definisie verbied.

Insgelyks leef die mens willens en wetens volgens ‘n bepaalde religieuse rigting en is dit eenvoudig ‘n fait accompli dat alle instellinge van die mens ‘n bepaalde religieuse rigting (Christelik òf humanisties) adem en ‘n bepaalde kultuurinslag vertoon.

Die betekenis van die voorafgaande is eenvoudige dat die Christelike regstaat die natuurlike religieuse, kulturele en taalkundige differensiasies moet verdiskonteer en akkommodeer. Dit kan nie weggedink word nie.

 

Die Kerk as instelling

Die kerk is per definisie ‘n geordende godsdiensinstelling met ‘n georganiseerde aanbiddingskarakter wat op die religieuse rigtingvraag konsentreer. Die gebruik van die kerkbegrip asof daar net een is, is eenvoudig fiksie, want geloofsgemeenskappe stel kerke en teologieë daar om aan die verskillende aanbiddingsbehoeftes van gedifferensieerde gemeenskappe te voldoen. Alle kerke het dit egter gemeenskaplik met mekaar in gemeen dat kerke in die vertikale tydsrigting gesprek met die Almagtige God voer en die boodskap van die Skrif verkondig.

Gedagtig aan die feit dat alle menslike instellinge self ook volgens ‘n bepaalde religieuse rigting geposisioneer is, is dit so dat kerke as instellings met ander gestruktureerde instellinge van die samelewing – dus ook met partye – gesprek moet voer oor die onderliggende religieuse rigting. Is dit Christelik, òf dalk humanisties òf dalk ateïsties, ens.?

 

Die staat as regsinstelling

Binne die konteks van die Christelike samelewingsleer is die staat ‘n publiekregtelike instelling wat binne ‘n bepaalde grondgebied die samelewing volgens regverdige wette sodanig moet rig en orden dat goddelike geregtigheid sal geskied. Die staat bemoei hom met geregtigheid in die algemene belang!

Ten einde te verhoed dat die mens in die owerheidsamp sy/haar mag sal misbruik, is die Christelike regstaat daarop gesteld dat elke orgaan van die staat interne outonomie sal geniet. Die implikasie hiervan is dat daar skeiding van magte sal wees tussen die uitvoerende, wetgewende en regsprekende komponente van die staatshuishouding. Die regsprekende gesag in ‘n Christelike regstaat behoort homself onafhanklik van die uitvoerende gesag te struktureer. Regsprekers (landdroste en regters) behoort deur die georganiseerde regsberoep opgelei, aangestel en bevorder te word, sonder tussenkoms van die Staatshoof.

Insgelyks is die federale konstitusionele regstaat ‘n groter waarborg teen magsmisbruik as die unitêre staat. Daarom moet provinsies oorspronklike magte geniet en moet daar devolusie van mag vanaf die nasionale, na die provinsiale en na die streeksvlakke wees.

Die afstand tussen die owerheid en burgerlike instellinge is groter as die afstand tussen die owerheid en die gedifferensieerde organe van die staat. Daarom word die verhouding tussen die owerheid en die organe van die burgerlike samelewing ten beste getipeer deur die leer van vryheid volgens eie bevoegdheid. Dit beteken dat die staat die voorwaardes moet skep ingevolge waarvan gedifferensieerde gemeenskappe asook die organe van die burgerlike samelewing in vryheid binne die landsgrense sal bestaan. Die implikasie is ook dat die staat die voorwaardes sal skep vir die genieting van private eiendom en persoonlike sekerheid.

Die staat as instelling asook die persone in die owerheidsampte het ‘n besondere verantwoordelikheid om toe te sien dat agtergeblewe gemeenskappe deur spesiale maatreëls opgehef sal word. Dit moet in samewerking met die georganiseerde kerke en ander welsynsorganisasies geskied.  

 

Jurisprudensie

Die mite bestaan dat die regswetenskap vry is van menslike vooroordele en ideologiese voorveronderstellings. Hierdie skool van denke staan bekend as regspositivisme. Regters is mense en mense word deur verskillende ideologiese voorveronderstellinge gerig. Dit is om hierdie rede dat Amerikaanse Presidente by vakatures hulle eie Regters aanstel wat by sodanige President se lewens- en wêreldbeskouing inpas.

Die probleem in Suid-Afrika is dat Regters aan ‘n individuele menseregte-akte gebonde is, vanweë die feit dat aktes vir die bevordering en beskerming van die regte van taal-, godsdiens- en kultuurgemeenskappe afwesig is.

Die Grondwetlike Hof se funksionering in SA – asook die hoër howe – skep self ook reg en konstitueer ‘n samelewing volgens die kollektiewe subjektiewe oordele en vooroordele van sodanige regters. So is dit die Regbank wat die doodstraf afgeskaf het in die interpretasie van artikel 7 van die Grondwet (1996) wat lui dat “elkeen die reg op lewe” het.

Daar is nie net een regswetenskap en een regstelsel nie. Vanweë die plurale aard van die Suid-Afrikaanse samelewing is daar dus naas die Romeins Hollandse Reg ook ruimte vir die inheemse privaat- en publiekreg.

 

‘n Politieke party  

‘n Politieke party het binne ‘n Christelike samelewingsorde ‘n spesifieke taak. Dit is per definisie ‘n publiekregtelike instelling. ‘n Party plaas ‘n bepaalde model op die tafel oor hoe die samelewing ten beste gestruktureer en regeer moet word. Die model is vir beoordeling deur die kiesers. Dit is eers as sodanige party deur die kiesers in die owerheidsamp geplaas is, dat so ‘n party sy model kan instel en realiseer.  

In hierdie verband is die Christelike regstaat die eerste en beste model vir ‘n oorwegend Christelike samelewing. Dit is ‘n eerste opsie naas die liberalisme en die magstaatsmodelle.

Die belangrikste doelwit is natuurlik om die owerheidsamp oor te neem en om daarna in die algemene belang te regeer. Om dit te kan doen is dit futiel om, soos die Vryheidsfront, net Afrikaners as lede en kandidate te hê en om net ‘n appél op Afrikaners se steun te maak. Dit is ‘n strategie van selfvernietiging.

‘n Tweede doelwit is om as opposisie konstruktief in die wetgewende proses betrokke te wees. Om dus met die owerheid van die dag te onderhandel en om in onderhandeling die fokus op sake en nie op persoonlikhede te plaas nie. Die persoonlike aanvalle van die DA op Zuma sal die DA nog duur te staan kom.

 

Organe van die georganiseerde ekonomie

In die Christelike politiek word die markplek deur die werksaamhede van die georganiseerde ekonomie en sakesektor bepaal. Maar, dit is helaas nodig vir die Christelike politiek om die spelreëls te formuleer en af te dwing. Enige vorm van monopolievorming wat die kleinman en klein-sakeonderneming verdring moet teengestaan word. Die huidige internasionale bankkrisis is ‘n goeie voorbeeld waar banke eenvoudig buite die raamwerk van ‘n geordende samelewing gefunksioneer het.

Die Christelike demokrasie moet materialisme en ongenaakbare Kapitalisme asook Sosialisme aktief beveg. Die beste definisie wat aan die Christelike ekonomie gegee kan word is betrokkenheid by die sakesektor vanuit die perspektief van dienslewering, teen ‘n redelike vergoeding en met die oog op wins vir voortgesette groei.

Die Christelike politiek moet ook die geweldige gaping tussen die loon van die arbeider teenoor die loon van die uitvoerende amptenaar teenstaan.

‘n Min of meer eweredige verspreiding van welvaart en kapitaalkragtigheid is waarskynlik ‘n waarborg vir stabiliteit, vrede en veiligheid. Inmiddels moet maatskappye aangemoedig word om aandele aan hulle werkers af te staan, ten einde die arbeider ‘n behorensgevoel te gee.  

 

Opvoedkundige instellinge  

Opvoedkundige instellinge is wat hulle infrastruktuur betref die verantwoordelikheid van die betrokke organe van die staat. Die religieuse rigting en kulturele inslag is egter die prerogatief en verantwoordelikheid van die georganiseerde ouerlike burgerlike samelewing.

Wat religieuse rigting en kulturele inslag betref mag die staat nooit die funksies van die georganiseerde ouers oorneem nie. Dit beteken dat daar ‘n vennootskapsverhouding moet bestaan tussen die betrokke organe van die staat en die georganiseerde ouers.

Veral die kwessie van dissipline is ‘n saak van beide die skoolbestuurders en die betrokke ouers. Dissipline moet op ‘n verantwoordelike wyse bestuur word en dissiplinêre maatreëls sluit ook lyfstraf, na behoorlike ondersoeke in.

Die staat het wel ‘n verantwoordelikheid om opvoedkundige norme en standaarde daar te stel, ten einde uniforme gehalte te verseker.

Instellinge van die hoër-onderwys – soos universiteite en tegnikons – behoort volgens privaatwette te funksioneer.

 

Christelike huwelik

‘n Huwelik is ‘n sosiale instelling wat ‘n twee-eenheidsgemeenskap is van een man en een vrou. Die fondament van die huwelik is geleë in die biotiese aspek of seksdaad, maar dan onder die leiding van die etiese (liefde). Sodra derdes ‘n rol in die huwelik speel ondergrawe dit die solidêre eenheidskarakter van die huwelik.

In die Christelike regstaat is die ontbinding van ‘n huwelik ‘n ingrypende daad en moet dit nie maklik gemaak word nie, veral as so ‘n huwelik tot ‘n gesin uitgebrei is.

 

Die familie as kleinste sosiale organisasie

Die Christelike politiek plaas ‘n hoë premie op die rol en waarde van die familie as kleinste sosiale eenheid. Die familie bestaan uit een man en een vrou en kinders wat aan die ouerpaar toevertrou is. Die familie verg spesiale beskerming deur die owerheid. Vaderlike gesag moet respekteer word. Moederlike versorging is van kardinale belang vir die behoud van die gesin. Arbeidspraktyke en indiensnemers van vaders en moeders moet daarop bedag wees dat dit in die beste belang van die kinders en van die behoud van die gesin en familie is, as beide vader en moeder tuis slaap en ten minste naweke tuis bly.

Die gesag van die vader en moeder moet deur dissiplinêre maatreëls op die kinders forseer word. Dit mag insluit ook lyfstraf wat onder beheerde toestande toegepas word, sonder om ernstige lyflike en psigiese skade die kind te berokken.  

Die beskerming van die regte van die kind moet op sodanige wyse deur organe van die staat, insluitende die regsprekende gesag, hanteer word, dat ouerlike gesag nie ondermyn word nie.

 

Menseregte

Onder menseregte word verstaan geformuleerde regte wat deel van die Grondwet uitmaak en afdwingbaar is op (a) individue, (b) organe van die staat asook (c) op gemeenskappe en (d) organe van die burgerlike samelewing.

Die Christelike politiek verwerp die liberale dogma dat die regte van die mens genoegsaam deur individuele regte beskerm word. In hierdie verband maak die Christelike regstaat voorsiening vir die bevordering en die beskerming van die regte van taal-, godsdiens- en kultuur-gemeenskappe. Die beskerming en bevordering van regte voorveronderstel die aanvaarding van taal-, godsdiens- en kultuur-gemeenskapsregte as grondwetlike aktes wat in terme van artikel 234 van die Grondwet bykomstig tot individuele regte (Hoofstuk 2 van die Grondwet van SA (1996) deur die wetgewende gesag aanvaar moet word.

 

 

Alliansie van Leiers

Dit is veral in plurale gemeenskappe van die allergrootste belang dat alle instellinge wat die Christelik-religieuse rigting in die samelewing voorstaan, saam sal werk ter verwesenliking van die ideale vir die konstituering van ‘n Christelike samelewing. Hierdie samewerking is in die eerste plek van betekenis vir die politiek. Daar is nie ruimte vir ‘n veelvoud van partye wat dieselfde Christelike geloofsrigting deelagtig is, en mekaar in verkiesing teenstaan – veral ten aansien van ‘n sekulêre samelewing. Terwyl die bestaan van meer as een party dikwels ‘n fait accompli is, moet die verskille oorspan word deur ‘n leierskap-alliansie, ingevolge waarvan die leiers as gelykes binne ‘n nasionale leiersforum saamwerk en eendragtig binne die politieke arena optree.

Daarnaas moet politieke leiers ook alliansies vorm met instellinge van die burgerlike samelewing, om die eenheidsdimensie in eenheid-in-verskeidenheid te demonstreer en te onderstreep.

Die sosio-ekonomiese probleme in ‘n ontwikkelingsland soos SA is sodanig dat vennootskappe en formele verdrae gesluit moet word, tussen organe van die staat met belanghebbende organe van die burgerlike samelewing. In die oplossing van die etiese vraagstuk onderliggend aan korrupsie kan kerk en staat mekaar wedersyds ondersteun en help om hierdie soort van probleme sinvol aan te spreek. In die bekamping van geweld is dit voor die handliggend dat publieke veiligheidsdienste hande sal vat met private sekuriteitsinstellinge van die burgerlike samelewing.

 

Gevolgtrekking

 

Dit is duidelik dat die Christen-demokratiese ideaal ingrypend van die magstaat en van die liberale demokrasie verskil.

Dit is gewoon ook so dat skerp kritiek op die bepalinge van die Menseregte-akte van die Grondwet van SA (1996), gerig moet word.

Die aanspraak van die Grondwet dat dit die hoogste wet is (a.2) doen afbreuk aan die Goddelike wet en reg en voorskrifte van die Bybelse Tien Gebooie.

Die verskraling van Menseregte tot individuele regte (Hoofstuk 2 van die Grondwet, 1996) is nie genoegsaam om die regte van godsdiens-, taal- en kultuurregte van georganiseerde instellinge van die burgerlike samelewing te bevorder en te beskerm nie.

Die sogenaamde Beperking van Regte klousule van die Grondwet (a.36), maak dit moontlik dat die regerende gesag hierdie klousule kan gebruik en misbruik om elke bepaling van die Menseregte-akte te beperk of binne ‘n eie ideologiese konteks nader te omskryf. Dit beteken dat die VF, die ANC en selfs die Kommunistiese Party van SA aan die hand van die Grondwet (1996) kan regeer en hulle eie ideologiese programme op die samelewing kan forseer.

Die bepaling dat elkeen ‘n “reg op lewe het”, is deur die Grondwetlike Hof van SA so geïnterpreteer dat die doodstraf daarmee afgeskaf is. Insgelyks is wetgewing deurgevoer dat aborsie op aanvraag wettig is en toe daar na die Grondwetlike Hof geappelleer is om die regte van die ongebore kind te beskerm, het die hof eenvoudig aborsie op aanvraag gelegitimeer. Hierdie legitimasie berus op die humanistiese antropologiese voorveronderstelling dat daar ‘n skeiding is tussen liggaam en siel en dat die kind eers op ‘n later stadium na aanvanklike konsepsie op onskendbare regte aanspraak kan maak.

Dan is daar ‘n groot aantal klousules in die Menseregte-akte waar die klousules self deur allerlei kwalifikasies beperk word. Hier moet gelet word op:

• Die bepaling dat ‘n reg op onderwys volgens die keuse van die ouers onderhewig is aan doenbaarheid en uitvoerbaarheid (a.29).

• Die beperking van die reg op eiendom (a.25) wat onder bepaalde omstandighede en voorwaardes deur die owerheid van die eienaar vervreem kan word.

• Die reg van ‘n minderjarige kind (s.28) dikwels inbreuk maak op ouerlike gesag en dissipline.

Die belangrike punt is dat die aandrang op die skeiding tussen geloof en politiek eintlik in die dogmatiese konstruksies van die liberalisme en magstaat-politiek neerkom op die herdefiniëring van die Christelike Godsideë. Die God van die Bybel is dan nie meer ‘n God wat daagliks en op elke terrein met sy kinders bemoeienis maak en voortdurend die skepping onderhou nie, maar ‘n konstruksie van God wat na die transendente verban word. Dit is ‘n Godsideë dat God miskien wel bestaan maar as Hy bestaan Homself van die geskape werklikheid terug getrek het en Hom in die verre verte iewers in die transendente bevind. Dan word die aardse aan die magte van die mens uitgelewer en word die religieuse tot die binnemure van ‘n kerk verskraal.

купить свитер мальчику 8 летФільчаков прокурор

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.