Afrikaans het die reg om op elke spyskaart (en enige ander plek) te verskyn

'n Mens hoor dikwels die argument, nogal van Afrikaanssprekendes, dat die Afrikaner nie daarop mag aandring dat Afrikaans op 'n spyskaart verskyn nie omdat dit diskriminasie teen die nege ander amptelike inheemse tale (swart tale) sou wees. Ons moet dus tevrede wees met net Engelse spyskaarte, want dis onmoontlik om 'n spyskaart in al elf amptelike tale te hê.

Kom ons ontleed die argument: Afrikaans mag nie op 'n spyskaart verskyn sonder die swart tale nie, want dit sou onbehoorlike bevoordeling wees. Die sprekers van swart tale dring egter nie daarop aan dat hul tale op 'n spyskaart verskyn nie. 'n Restaurantbaas sal dus nie die koste aangaan om swart tale op sy spyskaart te plaas nie; hy weet sy swart kliënte is heeltemal tevrede met Engels. Dus: omdat swarttaalsprekers nie omgee vir hul tale nie, mag Afrikaans nie op 'n spyskaart verskyn nie.

Ipso facto mag die swart tale dan natuurlik ook nie op 'n spyskaart verskyn sonder die ander inheemse taal, Afrikaans, nie, want dit sou beteken hulle word bo Afrikaans bevoordeel. Omdat Afrikaanssprekendes egter nie daarop mag aandring dat hul taal op spyskaarte verskyn nie, mag die swart tale ook nie daarop verskyn nie.

Dié soort argument is 'n klassieke voorbeeld van 'n sirkelredenasie, 'n drogredenasie.

Kom ons gooi die argument om en kom by die waarheid uit: Afrikaans word deur die amptelike swart tale benadeel omdat swarttaalsprekers nie op hul taalregte aandring nie.

Engels se gebruik word nie beperk tot dié van die ander amptelike tale wat dieselfde status geniet nie. Die feit dat Engels onregmatig bevoordeel word, dat Engels dus geregtig is op meer voordele as die ander amptelike tale, is geen probleem vir dié wat hoog opgee oor onregverdigheid as Afrikaans sonder die swart tale gebruik word nie.

Waar kom die persepsie vandaan dat Afrikaans ten koste van die swart tale gebruik word? Glo die sprekers van swart tale dat hul taalregte deur Afrikaans aangetas word?

Waar is dan die kongresse en seminare waar swarttaalsprekers ernstig besin en beraadslaag oor die gevaar wat Afrikaans vir hul tale inhou; oor hoe Afrikaans hul tale onregmatig verdring; oor hoe swak hul kinders op skool presteer omdat swart moedertaalonderrig uitgefaseer word ter wille van Afrikaans; oor hoe skandelik dit is dat feitlik alle amptelike dokumente en die voertaal van die staatsdiens eentalig Afrikaans is terwyl die grondwet gelyke regte vir elf amptelike tale waarborg; oor hoe onregverdig dit is dat die Spur se spyskaart net in Afrikaans is?

Waar is die swart organisasies wat hulle beywer vir die behoud en uitbouing van swart tale? (Terloops, die Afrikaanse Taalraad verteenwoordig meer as veertig organisasies wat hulle vir Afrikaans beywer.)

Waar is die swart drukgroepe wat briewe aan sake-ondernemings skryf waarin hulle aandring op die gelyke beregtiging van swart tale?

Waar is die forums op die internet waar swartmense hewige debatte voer omdat hul tale op alle terreine afgeskeep en geminag word?

Moet die Afrikaner sy reg op sy taal opgee omdat swartmense nie die reg op húl tale opeis nie?

Die ironiese situasie het ontstaan dat Afrikaners nie vir Afrikaans mag veg as die swart tale nie ingesluit word nie, anders het dit geen legimiteit nie. Daar is geen soortgelyke verpligting op Engels nie. Die Afrikaner het die pleitbesorger vir swart moedertaalonderrig geword sodat hy sy kinders in Afrikaans mag onderrig.

Watter swart organisasies beywer hulle vir die gebruik en bevordering van Afrikaans naas hul eie swart tale?

'n Mens wonder of die pleitbesorgers vir die gebruik van die nege amptelike swart tale naas Afrikaans van die volgende bewus is:

Baie van Suid-Afrika se swart tale deel 'n oorspronklike stamtaal. Namate die swart stamme uitmekaar beweeg het, het variante van die oorspronklike tale ontstaan. Baie swartmense verstaan dus mekaar se tale.

Die Nguni-taalgroep bestaan uit isiZulu, isiXhosa, siSwati en isiNdebele. Die Sotho-taalgroep omvat Setswana, Sepedi en Sesotho. Die grammatika van die onderskeie Nguni- en Sothotale stem baie ooreen, met die gevolg dat 'n Nguni-spreker ook Setswana, Sepedi en Sesotho kan verstaan en lees. Dieselfde geld vir Sotho-sprekers.

Volgens die 2001-sensus is isiZulu die huistaal van 23,8% van die bevolking; isiXhosa 17,6%; Afrikaans 13,3%; Sepedi 9,4%; Engels en Setswana 8,2% elk; Sesotho 7,9% en die oorblywende vier amptelike tale minder as 5% elk.

Hiervolgens sou dit billik wees dat een Nguni-taal en een Sotho-taal op 'n spyskaart en alle ander geskrewe stukke verskyn. Dit verteenwoordig 71,2% van swarttaalsprekers. Afrikaans is volgende op die lys, en dan Engels. Omdat swarttaalsprekers egter nie hul taalregte uitoefen nie en tevrede is met Engels, kan Engels in die plek van die swart tale gebruik word. Afrikaans is dan tweede op die lys. Engels en Afrikaans behoort dus naas mekaar gebruik te word, 'n heeltemal werkbare situasie.

Logika sê vir 'n mens die ANC, waarskynlik geadviseer deur sy geslepe wit Kommunistiese raadgewers, het 'n elf-taal-beleid gekies juis omdat hy geweet het dit is onwerkbaar in die praktyk. Dit is nie moontlik om elf tale gelyktydig en gelykwaardig te gebruik en te behandel nie, dus sal net een taal gebruik word, naamlik Engels. Terselfdertyd skaal hulle Afrikaans se status af na dié van die swart tale asof hulle almal "gelyk" is omdat hulle inheemse tale is. Só word Afrikaans se regte en gebruik aan dié van die swart tale gekoppel, word hy gekniehalter en uiteindelik heeltemal uitgefaseer.

Suid-Afrika, só het die ANC beplan, sal 'n eentalig Engelse land word met 'n Engelse staatsdiens, Engelse ekonomie, Engelse skole, universiteite en dies meer. Sodra die Afrikaners se kinders verengels het, is die slag gelewer.

Die bevoordeelde posisie van Engels word geregverdig op grond daarvan dat dit die lingua franca van die land is. Dit is 'n aanname wat geensins bewys is nie. 'n Mens kan verder gaan en sê dit is 'n growwe misleiding en 'n infame leuen dat die meeste Suid-Afrikaners Engels praat en verstaan, wat nog te sê van lees en skryf. Wat van die groot persentasie swartmense buite die stedelike gebiede wat nie eens behoorlik in hul eie taal geletterd is nie? Hoe verklaar 'n mens dit dat Engels volgens die laaste sensus die huistaal van net 8,2% van die bevolking was? Hoe verstaan 'n mens die stygende persentasie swart leerlinge wat nie oor basiese geletterdheid beskik nie? Het dit dalk iets daarmee te doen dat hulle nie meer in hul eie tale onderrig word nie, maar in Engels? Het dit dalk iets daarmee te doen dat hulle nie Engels verstaan nie omdat hul ouers nie Engels magtig is nie?

Dit sou meer korrek wees om te sê: Die swart heersers hang Engels aan en is van plan om dit die lingua franca van die land te máák, ongeag die feit dat hulle hul eie mense in die proses benadeel en hul eie grondwet reduseer tot 'n stuk toiletpapier.

Terloops, dit is ook nie feitelik korrek om te sê Engels is die lingua franca van die wêreld nie. Mandaryns is by verre die mees gesproke taal ter wêreld, en Spaans ding sterk met Engels mee om die tweede plek.

As 'n Nguni-taal, 'n Sotho-taal, Afrikaans en Engels gebruik word, kan 98% van alle Suid-Afrikaners dit verstaan. Die ANC was nie onbewus hiervan toe hy sy taalbeleid opgestel het.

Op grond waarvan kry 'n huistaal wat net 1,6% van die bevolking verteenwoordig, amptelike status (isiNdebele); of 2,3% (Tshivenda); of 2,7% (siSwati)?

Logika sê vir 'n mens 'n redelike en praktiese oplossing sou gewees het om Afrikaans en Engels as amptelike tale te behou, met 'n Nguni- of Sotho-taal as derde amptelike taal in gebiede waar dié taalsprekers die sterkste verteenwoordig is. Skoolonderrig geskied in die taalkeuse van die ouers (die meeste swart ouers verkies Engels, tot nadeel van hul kinders), maar moedertaalonderrig word aangemoedig met behulp van ekstra staatsbefondsing.

Onder die dekmantel van regverdigheid ken die ANC egter amptelike status aan elf tale toe en waarborg selfs hul gelykwaardige status en behandeling in die grondwet. Hiermee teken hy die doodsvonnis van Afrikaans, en by verstek, dié van sy vyand, die Afrikaner.

Die feit dat die regering voortdurend sy eie grondwet oortree deur Engels eentalig in die staatsdiens te bevorder en af te dwing, lok weinig protes uit. Dit kos 'n hofsaak om 'n sensusvorm in Afrikaans te kry. Dat die regering die swart tale ignoreer, is nie ter sake nie – dié tale is in elk geval net in die grondwet ingeskryf om Afrikaans keel-af te sny.

'n Mens wonder of die ANC voorsien het hoeveel goedgelowige Afrikaners hul bondgenote in die proses van die uitwissing van Afrikaans en die Afrikaner sou word. Maar dan, 'n mens kan die ANC se geslepenheid (en dié van sy wit raadgewers) ook nie onderskat nie: hulle besef wel deeglik dat deur gedurig op die Afrikaner se skuldgevoel te speel, hy later sal voel hy het geen reg meer op 'n eie identiteit, taal en kultuur nie. Om te vergoed vir sy "skuld", om te toon hy het "berou", dat hy sy "rassistiese apartheidsverlede" afgeskud het, dat hy nou "regverdig" is en alle swartmense as "gelykes" beskou, sal die Afrikaner na die ander kant toe oorhel en swart belange ten koste van sy eie bevorder.

Die ANC het geweet daar sal baie oningeligte, logikagestremde Afrikaanssprekers wees wat sê Afrikaans mag nie op 'n spyskaart verskyn as die swart tale nie daarop verskyn nie, want dit is onregverdige bevoordeling.

Hulle het geweet daar sal baie Afrikaners wees wat moed opgee en sê: hierdie elf-taal-ding werk nie, kom ons word almal Engels ter wille van eenheid en samewerking, kom ons vergeet van Afrikaans en Afrikaner-wees en word Suid-Afrikaners.

Tog, ek dink selfs die ANC en sy wit raadgewers is verras oor hoe gretig die Afrikaner sy eie graf grawe. Hul stoutste verwagtinge oor die Afrikaner se politieke naïwiteit en goedgelowigheid, sy onontwikkelde denke en oorontwikkelde skuldbesef, sy minderwaardigheidsgevoel, is waarskynlik oortref.

Ten slotte: Afrikaans is die grootste denkbare onreg aangedoen toe sy status gelyk gestel is aan dié van die swart tale omdat hulle almal sogenaamd inheems is. Daar is géén vergelyking tussen Afrikaans en die swart tale te tref nie. Prof. Hermann Giliomee het in Julie 2007 in 'n voordrag by die opening van die Breytenbach-Sentrum op Wellington op die volgende gewys: "Tussen 1900 en 1980 het Afrikaans ontwikkel van 'n relatief beskeie spreektaal tot wat genoem word 'n hoogkultuurtaal wat alle funksies kan verrig, insluitende onderrig op tersiêre vlak en as medium vir die politiek, wetenskap, filosofie en tegnologie. Jean Laponce, 'n voorste taalsosioloog van Kanada, het aan my geskryf dat naas Afrikaans net drie tale (Hebreeus, Maleis-Indonesies en Hindi) in die loop van die twintigste eeu daarin geslaag het om hierdie ontwikkelingsgang deur te gaan."

Afrikaans het dosyne vaktaalwoordeboeke voortgebring, benewens tweetalige woordeboeke, verklarende woordeboeke, tesourusse, sinoniem- en antoniemwoordeboeke, voorsetselwoordeboeke, blokraaiselwoordeboeke, die normerende Afrikaanse Woordelys en Spelreëls wat gereeld bygewerk word, die gesaghebbende Woordeboek van die Afrikaanse Taal, wat by die laaste letters van die alfabet trek. Hoeveel koerante en tydskrifte het Afrikaans nie al voortgebring nie?

Afrikaans se letterkundeskat is massief vir so 'n jong, klein volk. 'n Besoek aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein laat 'n mens se mond oophang. Die omvang van net die boek- en manuskripversameling is ontsagwekkend; daar's honderdduisende in kantore en kamers en groot instapkluise. Die boeke is maar een versameling. Daar is nog die knipselversameling, die fotoversameling, die plaat- en klankversameling, die filmversameling, die tekstielversameling, die kunsversameling, die memorabilia- en meubelversameling …

Hoe dúrf enigiemand Afrikaans aan 'n swart taal gelyk stel!

какой генератор выбрать

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.