Ou Suurknol

Doer in die 60s het AM van Schoor, redakteur van Die Vaderland, soms na die destydse linkse dagblad, die Rand Daily Mail, verwys as "ou Sure van Mainstraat" (die straat waarin die RDM se kantore geleë was). Die werklike oorsprong van die bynaam het my ontgaan, maar ek vermoed dit was oor die RDM se suurgeit met die een NP-oorwinning na die ander by die stembus en die koerant en sy ander anti-Afrikaner kollegas se onvermoë om enige indruk op die kiesers te maak – selfs op die Engelse van daardie tyd wat toenemend vir Verwoerd gaan stem het.

Die bynaam het my weer te binne geskiet toe ek Beeld se reaksie die afgelope dae op die aanstelling van Pieter Mulder in die Zuma-kabinet so gade slaan. Suur! Sulke soort van suurgeit het ek seker laas by die ou RDM gesien!

Die spul van Keeromstraat (lank nie meer Naspers se hoofadres nie, maar so sal hulle onthou word) is suur – en siedend boos – omdat Zuma uit 'n veelheid van kandidate wat hulle aan hom sou opgedra het as hy hulle tog net gevra het, die "regse", waarskynlik uitgediende leier van 'n kwynende party gaan staan en kies om as die enigste werklike buitestaander in sy kabinet te dien – en dit nogal by 'n sleutelpos soos Landbou.

Suur omdat Beeld (en sy stalmaats) kwalik 'n week gelede verkondig het dat Mulder se dae getel is en dat die VF+ warskynlik nie sal oorleef na die volgende verkiesing nie.

Suur omdat Zille en haar DA wat hulle goed weet eintlik anti-Afrikaner is, maar wat hulle sterk in die verkiesing gesteun het, so 'n lekker klap deur die bek gekry het met die aanstelling.

Suur omdat Zuma 'n hele rits Engelse EN Afrikaner liberales geïgnoreer het om hierdie "boerseun" te kies. Want ek sal enigeen wed dat hierdie klomp sures eerder sou wou sien dat iemand soos Willie Esterhuyse, Stellenbosse prof en skrywer van "Einde van Apartheid", in 'n Zuma kabinet aangestel word. Hy is mos juis saam met Ton Vosloo en 'n paar ander "oud-verligtes" uit die Wes-Kaap besig met 'n projek in die Vrystaat om swartes as kommersiële boere op te lei (of het dit dalk ook doodgeloop soos vele ander derglike pogings?). Ja, ek weet ou Willie is amper so lank in die tand soos ek, maar hy is darem nog 'n voorman onder die ANC-gedienstiges (mooi woord vir g-kruipers).

Suur omdat Mulder en die VF+ feitlik oornag aansien en status kry, terwyl Zille 'n ernstige verleentheid vir haar party en haar ondersteuners word. Verstommend hoe kort 'n week in die politiek kan wees.

Vir diegene wat Beeld nie gereeld te sien kry nie: Mulder is onmiddellik bestempel as 'n kommunikasie professor wat van boerdery niks weet nie, as iemand wat sy party uitverkoop het aan die ANC vir 'n lekker pos en 'n groter pensioen, die oningeligte teenstand van die VF+ se eie "Malema" is aangebied as sterk en beduidend (totdat 'n verklaring van die volle dagbestuur gekom het dat die voortvarende jeugleier vasgevat word vir sy onverantwoordelikheid). In Donderdag se Beeld word Mulder se pa, dr Connie Mulder, destydse kroonprins van die NP totdat John Vorster glo meer van Pik Botha gehou (dis 'n storie daardie wat nog vertel moet word) bygesleep as 'n aartsverkrampte en verloorder teen die wonderlike PW. En so gaan dit aan.

Die steun wat daar uit eie geledere, maar selfs van andere soos enkele lede van die HNP en veral landbou-organisasies, vir Mulder gekom het, word kwalik genoem, maar hulle kon nie anders nie as om 'n brief of twee te plaas wat al hulle suurgeit oor Mulder net daar tot niet maak. En dit word toe oorgelaat aan 'n Engelse blad om uit te wys dat Mulder 'n paar akker in Orania besit waarop hy met neute boer – weliswaar 'n "afstandboer" maar nogtans boer, maar veral Boerseun!

Maar seker die ergste blyke van suurgeit het gekom toe Beeld in hoofartikelkommentaar aangevoer het dat Mulder nie moet dink dat hy die Afrikaner verteenwoordig nie – en dit van 'n koerant en sy redakteur wat nou anderdag nog baie goed laat blyk het dat hulle die begrip van "Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners" verkies en nie hou van die term "Afrikaner". Darem lekker vermetel om nou te wil bepaal wie die Afrikaner verteenwoordig en wie nie! Eintlik lekker suur!

Ek moet erken dat ek my gate uit geniet het om hierdie suurgeit te sien. Ek het behoorlik gekraai van die lag. Maar ek het ook gewonder wat die drommel in Tim gevaar het om so heftig nie net teen Mulder nie, maar ook teen Zuma te velde te trek – en dit terwyl Zuma vir minstens die volgende paar jaar president van die land gaan wees. Hulle kan niks meer daaraan doen nie behalwe om sy gramskap teen hulle op die hals te haal. Swak oordeel, swak insig, swak taktiek en powere politiek, ou Tim. Gaan dink weer. En hou op om so suur te wees.

(Nota: Connie Mulder was geen stuk 'n aartsverkrampte nie. Hy het 'n hele paar verligte denkers soos Nic Rhoodie en andere wat sterk geloop het met die idee van "radikale partisie" en 'n federasie van state as adviseurs gehad. Dit is steeds my mening dat as hy nie deur liederlike liegstories deur PW en Pik en met die direkte medewerking van Naspers in 78 se premiersverkiesing verslaan is nie, ons nie in die gemors sou gewees het waarin ons vandag is nie. Maar dis ook 'n ander storie.)

агрегаты сварочные передвижные с дизельным двигателем

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.